Die direksielid se motor.
In die breë praat ons van weeldemotors, maar onder dié sambreelnaam is daar tog 'n paar subkategorieë. Iets soos die Mercedes-Benz C-klas en die BMW 3-reeks lok 'n jonger gehoor as 'n 7-reeks, maar albei sal jy as weeldesedans kan beskryf.
Net so die tussenin-groep, daar waar Audi se A6, Mercedes-Benz se E-klas en BMW se 5-reeks die dansbaan betree.
Op hul dag, twee dekades gelede (en dan die jare voor dit), was hierdie middelgrootte-sedans heel gewild gewees. Iets wat 'n gesin teen 'n skuldbult maklik as hul kerk-toe-gaan- en vakansiemotor sou kon inspan.
Vandag het die fokus ietwat verskuif. Die motors is groter, deftiger en ook duurder. Vir ons Suid-Afrikaners het hul pryse heeltemal buite die bereik van die gewone gesin geskiet. En vir die Europeërs en Amerikaners het die deftige sportnuts die middelgrootte-sedan se plek ingeneem.
Dit laat hierdie deftige reiswaens, wat o so ideaal vir die langpad is met hul weelderige afwerkings binne en gemaklike, sagwerkende enjins, nou met 'n kleiner nis-gehoor. Die direksielid.
Dis iemand wat sakke vol geld verdien en ook senior in jare is, maar steeds werk. Iets soos 'n E-klas of 5-reeks is dus nie 'n aftreemotor nie, maar 'n geldige statussimbool om te wys jy kan in gemak en gerief na die bestuursvergadering geneem word.
Want in sommige kringe word groot sportnutse met donker getinte vensters as, wel, bende- en ministersrygoed gesien.
Funksionele ontwerp
BMW se nuwe, agtste generasie van sy ikoniese 5-reeks het pas in die land aangekom.
Dis net betyds om die mantel oor te neem as 'n sakeklas-sitkamer met nuttige maar deftige afwerkings en 'n ritgehalte wat stil en ongesteurd sy ding op die agtergrond doen. Nes 'n ywerige direksielid sy kant sou bring met sy portefeulje.
Die lyf het matig gegroei, maar danksy slim aksentlyne by die flanke en 'n lang asafstand, asook 'n effense boog by die enjinkap, lyk die nuwe Vyf glad nie oorgewig nie.
Dinge is veel meer besadig by hom. Onthou die nuwe M4, X4 en XM se massiewe niertjieroosters? Vir sy middelslag-kantoorsedan het BMW sake heel tradisioneel gehou: 'n Niertjie-patroon van standaardgrootte vir die rooster, maar met slim, toevoubare vane duidelik in die rooster te sien. Dis 'n funksionele motor dié, sê die ontwerp. Nie 'n spog-by-die-gim-speelding nie.
Suid-Afrika kry voorlopig twee modelle, die 520d en die i5 M60. Dis reg, daar is geen petrolmodel meer in die Vyf se gesin nie. Meer nog, die i5 lyk presies soos sy diesel-maat. BMW wil aan die koper sê: "Ons behandel verskillende aandryfstelsels as bloot dit, 'n alternatief." Jy, die koper, kies dus 'n 5-reeks en of dit nou met petrol, diesel of batterykrag aangedryf word, maak nie saak nie. Almal lyk eenders.
Ons is bly daaroor. Dit normaliseer die batterymotors, teenoor ander vervaardigers wat hul EV's 'n unieke ontwerp gee.
Die 520d ry met BMW se 2.0liter-turbodiesel (145 kW, 400 Nm), maar kry ook matige elektriese stuwing by, komende van 'n 48 V-battery. Die battery dryf 'n klein e-motor op die vooras aan wat 13 kW en 200 Nm se kortstondige hulp gee as jy wil verbysteek.
Aan die bokant van die model-leer ry die i5 met twee e-motors (voor en agter) en 'n 90 kWh-battery. Die voorste e-motor bied 192 kW, terwyl die agterste een 'n fris 250 kW uitskop.
In totaal bied die stelsel 'n massiewe 442 kW en 820 Nm wringkrag aan al vier die wiele.
Later vanjaar is 'n makker weergawe van die M60 op pad wat net die 250 kW-e-motor op die agteras sal hê. Die eenvoudiger stelsel bied 'n 80 km langer reikafstand (580 km), sê BMW.
Soos dit altyd die geval met EV's is, is die nuwe i5 geen skilpad nie. Die versnellopie draf hy in 3,8 sekondes kaf en sy topspoed is 230 km/h.
BMW het baie werk ingesit om daardie syfers te vermag. Enersyds is die vloerpan plat gemaak, waarna die lugvloei by die neus en voorwiele ook optimaal gekanaliseer is danksy slim-vane in die rooster en by die voorwiele wat lug kanaliseer (of kan uitsluit, as die vane teen hoë snelhede toegemaak word) weg van die enjin en wiele af.

Selfstuur, as hy wil
In die kajuit val die groot, plat raakskerm dadelik op. Die stelsel werk met BMW se jongste programmatuur wat BMW OS 8.5 noem. Dit herken handbewegings (om die volume of stasie te verstel), kan met stembevele werk en bied ook 'n nuwe interaktiewe bladsy-voorkoms, onder meer om tussen vermaak en enjininligting te wissel.
Die kajuit is smaakvol uitgerus met sagte leerpanele bo-op die instrumentpaneel. Die paneel self is skoon gestroop van enige knoppies.
In die plek daarvan kry jy raakoppervlakke - vee met die vingerpunt oor 'n ikoon om die volume te verstel, stasie te verander of van skermblaaie te verwissel.
Enkele pakkette en funksies is saamgebondel, wat BMW sê die koopproses makliker maak. Van die nuwe funksies sluit in 'n selfstuur-funksie met verbysteek-moontlikheid.
Ons wetgewing is nog nie op standaard om hierdie tegnologie wettig hier beskikbaar te stel nie. Maar ons kon op 'n rit die BMW self laat besluit wanneer hy op die snelweg iemand wil verbysteek. Die stelsel werk onder meer met 'n rits kameras en radar in die neus.
Die weeldesedan veg terug
Daar's nog 'n hele bladsy vol ander elektroniese funksies waaroor die nuwe Vyf beskik. Als bedoel om jou lewe agter die stuur gemakliker te maak.
En dis nogal die doel van hierdie nuwe Vyf: 'n flukse ryding wat sy bestuurder sal aanmoedig en beloon.
En volgelaai met tegnotruuks om die weeldesedan weer sy regmatige plek te laat inneem, neffens die gewilde sportnuts-segment.






















