Verskoon die woord baksteen-wange, maar met die eerste kyk na BMW se vierdegeslag-X3 is dit ietwat teleurstellend dat München se ontwerpers so spaarsamig met hul ontwerp-muse omgegaan het.
Waar huidige Beemers almal skerp aksentlyne het, lyk die nuwe X3 of hy onder 'n sandblaas-masjien deurgeloop het. Die deure is egalig afgerond, die enjinkap is skoon en die neus het die sagte rondings van 'n hardgekookte eier.
Wel, darem met die massiewe, vertikale niertjierooster prominent in swart afgewerk, en omring met aggressiewe luginlate onder en weerskante.
Die vierde X3 sal nes die huidige model ook in BMW se fabriek in Rosslyn, net buite Pretoria, vir die plaaslike en wêreldmark gebou word.
Ondanks die gladde lyf, het die X3 ook matig gegroei in sentimeters: Hy's 'n aks langer en breër, met 'n sentimeter breër wielspoor ook, maar straks die belangrikste is dat hy nou ook 'n fris 3 cm laer onder sy kuif staan. Saam met die breër spoor gee dit die nuwe X3 'n lekker aggressiewe voorkoms.

E-krag vir elke model
Suid-Afrika sal bes moontlik net twee modelle kry om uit te kies - gewoonlik 'n intree- en 'n topverrigtingsmodel - maar oorsee is daar vier weergawes op die winkelrak.
Die X3 20 xDrive sal die intreemodel wees, gevolg deur die 20d xDrive, die 30e xDrive en die M50 xDrive.
Eerstens, fyn waarnemers sal oplet dat BMW die "i" weggelaat het wat altyd agter die syfernaam gestaan het. Dis omdat die hedendaagse voertuie nie meer werklik daardie verbintenis met brandstofinspuiting as onderskeidingsfaktor nodig het nie.
Sowel die 20 xDrive as die 30e xDrive kry 'n 2.0-liter-petrolturbo as dryfmiddel. In die 20, wat - soos reeds genoem - die intreemodel sal wees, bied hy 'n gawe 140 kW en 310 Nm.
Die 30e is, soos die naam aandui, nou 'n inprop-hibried. Dit kombineer dieselfde 2.0-liter-petrolturbo met 'n 20 kWh-battery wat 'n e-motor dryf. Die stelsel in kombinasie lewer 184 kW en 400 Nm wringkrag.
Dis redelik verrassend dat BMW volhard om 'n dieselenjin in Europa op die mark te sit, in ag genome hul al hoe strenger wordende regulasies, maar as 'n kragbron is dit steeds 'n puik opsie. Die enjin in die nuwe X3 lewer 145 kW en 400 Nm wringkrag.
En laastens die (voorlopige) warmste model, die M50. Die M50 kry heelwat speelgoed, soos aanpasbare vering, frisser remme, 20-duim-wiele, 'n elektroniese sluitewenaar agter en vier uitlaatpype, als as standaard.
BMW het sy bekende 3.0-liter-reguitses (toegerus met 'n turbo) onder die enjinkap gemonteer met die kragsyfers wat op 'n gesonde 293 kW en 580 Nm wringkrag te staan kom. Daar is ook matige elektriese bystand afkomstig van 'n 48V-battery wat ekstra stuwing gee as jy wegtrek.
BMW sê die M50 sal in 'n oogknip en 4,8 sekondes versnel, met vastrap wat na al vier die wiele gaan. Trouens, al vier die X3-modelle kry permanente 4x4-vastrap en 'n agtgang- outomatiese ratkas.
Moderne kajuit
In die kajuit is sake heel modern met 'n massiewe digitale raakskerm wat die middel van die konsole oorheers.
Die blikbrein werk met BMW se jongste, negendegeslag-sagteware en kan intyds bygewerk word, sê die vervaardiger. Kinders sal internet-speletjies kan speel en verkeersinligting sal bygewerk word. Die stelsel kan ook met handbewegings en stembevele beheer word.
Verwag die nuwe X3 reeds in die vierde kwartaal in Suid-Afrika.





















