Toe BMW se X6 die eerste keer in 2008 die lig sien, is daar heelwat gegrinnik oor dié vreemde sportnuts se voorkoms. Pleks van die tradisionele reghoekige voorkoms, soos al sy mededingers gehad het, het die X6 'n amperse koepee se profiel gekry.
Tot by die B-pilaar was dit nog tradisionele sportnuts, maar verder agtertoe het die daklyn dramaties gedaal, en het die agterstewe by die heupe opwaarts gerys. Soos 'n gebalde vuis het hy daar op die teerpad vir jou geloer. Gereed vir wegskiet.
Die X6, 'n tussenganger tussen die gewone X3- en X5-nutse, het toe wel sy lêplek gekry. Die mark het veral met die tweede generasie al meer vatplek aan hom gekry. Die ontwerp is sagter gemaak, en vandag, met die derde generasie, lyk hy heel skaflik as 'n sportnuts met 'n aanvallige voorkoms.
Die X6 is dus ideaal vir diegene wat nie in die voorstedelike muisval wil beland van 'n wit, reghoekige sportnuts soos wat almal mee ry nie. Hy bied 'n eiesoortige, sportiewe voorkoms, maar gekombineer met BMW se bekende enjins en dinamiese ritgehalte.
Ons toetsmodel was die intreeweergawe, die 3.0-liter-inlynses, wat lekker lig op brandstof kan wees as jy rustig ry, maar ook kan mielies gooi as jy die lepel plat trap.
Ek het so 7,6 liter gehandhaaf, wat goed is vir 'n groot nuts met 'n drie-literenjin.
Die kajuit is luuks afgewerk met BMW se nuwe, plat digitale inligtingskerm wat prominent in die instrumentpaneel vertoon. Die blikbrein is soms bietjie stadig om funksies uit te voer, maar die stelsel is heel maklik om aan te leer.
Iets wat genoem moet word, is dat die X6 se inligting- en vermaakstelsel ook met handgebare kan werk. Dis seker fantastiese nuus vir sommige, maar toe ek op die maat van 'n liedjie my hande saambeweeg, verander die snit na die volgende snit: Die blikbrein het my handbewegings as 'n bevel gelees! Gelukkig kan 'n mens die funksie afsit.
Agter sal twee volwassenes met gemak kan sit, en my kop het nie teen die (laer) dak geskuur nie. Die laairuim is redelik vlak, maar strek diep in.
Die X6 is iets van als: 'n Statussimbool, 'n lekker praktiese nuts wat stylvol in die dorp lyk, maar ook 'n langpad-ryding as jy straks net twee mense is.
Hier's die huis-toe-neem-boodskap: Die X6 het sy vreemdheid-skoene ontgroei.





















