Motors

Plaaslik geboude Ford-ikone: Van die ikoniese Capri tot die blitsige Sierra XR8

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Foto: Galloimages/Gettyimages.com

Ford Capri Perana (1970)

Die Capri Perana was bekend vir sy oorheersing in Suid-Afrika se Groep 5-renne, veral gedurende die 1970-seisoen. In daardie jaar het Bobby Olthoff met sy Capri Perana V8 nie minder nie as 13 uit die 14 wedrenne gewen.

Die Capri Perana is uniek deurdat dit die enigste fabrieksgoedgekeurde Capri is wat ooit met 'n V8-enjin toegerus is. Hier het die 5.0-liter-"Windsor"-V8 uit 'n Mustang diens gedoen. Jy kon 'n Capri Perana uitken aan sy groter wiele, dubbele uitlaatpype en unieke bakverfkleure: heldergeel of rissierooi.

Die Perana het 'n skamele 1 100 kg geweeg en sy 210 kW en 407 Nm het amok gemaak op die renbaan. Dit is om dié rede dat hy so gewild was onder die gewone man op straat. Basil Green-motors het ongeveer 500 Capri Peranas verkoop.

Ford Cortina Merk 3 Springbok-bakkie (1971)

Entoesiaste sal dalk onthou dat Ford 'n paar jaar nadat die Cortina-bakkie bekend gestel is, 'n beperkteuitgawe-Cortina-bakkie en -sedan bekend gestel het: die Springbok-weergawes. Hierdie voertuie is groen-en-goud geverf ter ondersteuning van die Springbokspan wat in 1976 na Nieu-Seeland getoer het.

Die bakkie, ook bekend as die "Bokkie-bakkie", was die gewildste van die twee voertuie en is destyds in Ford se Port Elizabethse aanleg gebou. Die bakkie op die foto hiernaas behoort aan Brian Rademeyer wat dit by sy pa, Hugh, geërf het.

As Ford gou spring, kan hulle die nuwe Ranger groen-en-goud verf ter ere van die Bokke se sege oor die All Blacks in 2023 se Wêreldbeker-eindstryd.

Ford Cortina XR6 Interceptor (1981)

Ter viering van sy motorsportsuksesse het die Ford-motormaatskappy 'n "Team Ford"- weergawe van sy Cortina XR6 met blou strepe vervaardig, maar die gesogtse Cortina was die XR6 Interceptor. Dié het gepronk met skadu-latte - of dan louvers - oor die agterruit,

'n klein drukvlerk en die vierspeekwiele. Die Interceptor se drieliter-V6 het 'n stel driedubbele afwaartse 42 Weber-vergassers en hoëverrigting-uitlaatspuitstukke gehad. Een van die interne opgraderings aan die enjin was 'n aggressiewer nokas. Die resultaat was 118 kW, 'n gesonde toename bo die 101 kW van die standaard-"Essex"-V6-enjins.

As jy een van hierdie menere in jou truspieëltjie gewaar het, het jy uit respek afgetrek sodat hy kon verbykom, veral as hy aan die blitspatrollie behoort.

Ford Sierra XR8 (1984)

Die XR8 is vir die renbaan ontwikkel, en Ford moes minstens 200 produksievoertuie bou voordat hy aan die Groep 1-wedrenne mog deelneem. Die vyfliter-V8 kom uit die Mustang en die ratkas was 'n Borg Warner-5 spoed-handrat.

Dit het 161 kW en 374 Nm uitgeskop en die dryfasse moes vervang word met stewiger onderdele. Jy kon 'n XR8 uitken aan sy Ford-renstrepe en dubbele druk- vlerke op die agterruit. Die sierrooster was ook groter om meer lug aan die tweedubbelloop-Holly-vergasser te lewer.

Suid-Afrika was die enigste land ter wêreld wat met 'n V8 Sierra gepronk het, en Willie Hepburn het in die WesBank Modified-wedrenne gesorg dat die kar "The Animal" gedoop word. Die XR8 se 0-100 km/h- versnelsyfer was 6,95 s en sy topspoed 231 km/h.

Het jy iewers dalk 'n seldsame sleepsel of ryding raakgeloop? Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na rysleep@weg.co.za.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM