Motors

Ry-indruk: BAIC B40 Plus

Hoewel dit 'n betreklik onbekende naam in Suid-Afrika is, is BAIC op vyf na China se grootste voertuigvervaardiger. Die handelsmerk het in 2016 op eie bodem aangeland en in 2018 'n aanleg in Gqeberha opgerig.

BAIC Suid-Afrika bied tans net twee modelle te koop aan: die Beijing X55 en die BJ40 Plus wat ons hier bespreek. 'n Derde ryding, die B80, is op pad - dié lyk baie soos 'n Mercedes-Benz G-klas, terwyl die B40 Plus wat jy hier sien, jou dalk aan 'n ander soort voertuig herinner...

Wat het ons hier?

Die B40 is beslis geïnspireer deur Jeep se Wrangler, en nie op 'n bedrieglike manier nie - BAIC het die Wrangler-konsep in die vorige dekade wettig bekom by General Motors, vóór die Jeep-handelsmerk deur Stellantis oorgeneem is.

Dit is om dié rede dat die bagasieruim se deur op dieselfde manier oopmaak en die modderskerms, deurskarniere, remligte en selfs die sierrooster eenders lyk - hoewel BAIC sê die vyf gleuwe in die sierrooster (en nie sewe soos met 'n Jeep nie) is deur China se Groot Muur geïnspireer.

Die dak kan ook verwyder word, nes 'n Jeep s'n. Die B40 Plus is beskikbaar in vyf afwerkingsvlakke en twee enjinkeuses: 'n 2 l-petrol en 2 l-diesel wat albei deur 'n turbo aangejaag word.

Alle weergawes van die B40 Plus het deeltydse viertrek, maar jy kan kies tussen 6 spoed-outomaties of 6 spoed-handrat.

Ons toetsvoertuig was die B40 Plus Champion-vlagskipmodel met 'n turbopetrolenjin en outomatiese ratkas.

Die voorste dakpanele word maklik verwyder deur ‘n paar knippe te draai. Indien jy die hele dak wil afhaal gaan jy gereedskap en tyd nodig hê.
Die voorste dakpanele word maklik verwyder deur ‘n paar knippe te draai. Indien jy die hele dak wil afhaal gaan jy gereedskap en tyd nodig hê.

Binnelangs

In 'n verrassende wending lyk die instrumentepaneel glad nie soos die Jeep s'n nie, maar eerder soos dié van 'n Mercedes-Benz. BAIC vervaardig inderdaad die C- en E-klas namens Daimler AG vir die Chinese mark onder die handelsnaam Beijing Benz.

Dit is waarom die komende B80 soos 'n G-klas lyk. Die binneruim vertoon en voel luuks en daar's oorgenoeg skouer- en beenruimte.

Hier is dubbelsone-klimaatbeheer, 'n elektroniese handrem, aansitterknop, kruisspoedbeheer, elektriesverstelbare sitplekke vir die bestuurder, en USB-sokke. Die materiaalstoffering vir die sitplekke voel duursaam en is gemaklik.

Sig deur die agterruit is beperk, maar die trukamera help om te sien wat agter jou aangaan wanneer jy terugstoot.
Sig deur die agterruit is beperk, maar die trukamera help om te sien wat agter jou aangaan wanneer jy terugstoot.

Wat veiligheid betref, kry jy sluitweerremme, elektroniese remkragverdeling, stabiliteitsbeheer, vastrapbeheer, lugsakke vir die voorste passasier en bestuurder, 'n banddrukmonitor, parkeersensors en 'n trukamera. Die bagasieruim kan van 532 l tot 965 l vergroot word deur die agterste sitplekke plat te slaan.

Die bagasieruim het ongelukkig nie 'n deksel om jou kampgoed weg te hou van nuuskierige oë as jy jou voertuig alleen moet los in 'n parkeerterrein nie.

Die wielboë van die B40 is smaller as 'n Jeep s'n, met die gevolg dat dié BAIC se binneruim ook groter voel.
Die wielboë van die B40 is smaller as 'n Jeep s'n, met die gevolg dat dié BAIC se binneruim ook groter voel.

Hoe ry hy?

Die 2 l-petrolenjin trek heel sterk en die versnelling is gaaf vir 'n voertuig wat meer as 2 t weeg. Die vering is goed verstel sodat jy gemaklik voel op 'n slegte grondpad, en bakwieg deur die draaie van 'n teerpad is glad nie sleg nie.

Die 17"-bande het ook genoeg rubber tussen die padoppervlak en die vellings sodat jy deur slaggate kan ry sonder dat dit voel of jou rugwerwels gaan kraak.

Ons is nie gaande oor die outomatiese ratkas nie. Die blikbrein maak vreemde besluite soos om in 'n spesifieke rat te bly wanneer jy eintlik wil hê hy moet oorskakel. Ander kere wissel die ratte terwyl jy eintlik in dieselfde rat wil bly. Dié aardigheid steek gelukkig net kop uit as jy tegniese terrein in tweewielaandrywing takel.

In normale rytoestande is dit nie juis 'n probleem nie. BAIC is bewus van daarvan en toekomstige modelle kry almal 'n ZF-ratkas. Soos ons reeds genoem het, is die ritgehalte goed en in die week wat ons agter die stuur bestee het, het ons nooit voos gevoel nie.

Die BAIC se kajuit is verbasend stil vir 'n ryding met so 'n hoekige bakwerk, en die Bluetooth-radio se klank is duidelik hoorbaar op snelwegspoed.

Wat 4x4 betref, het ons Eswatini se modderige bosboupaaie gery wat geverg het dat ons laestrekratte inhaak. Die veelterreinbande het gesukkel om greep te kry in diep modder, maar die viertrekstelsel het hom goed van sy taak gekwyt.

Ons het ook klipbanke getrotseer en die grondvryhoogte is goed genoeg vir die meeste 4x4-roetes.

Die B40 het geen ewenaarslotte nie en hy maak eerder staat op sy elektroniese vastrapbeheer om wieltol in bedwang te bring. Dit werk goed en ons het nooit gesukkel nie. Die B40 se Achilleshiel is sy brandstofverbruik.

Teen snelwegspoed het die naald deurentyd op 13 l/100 km gelê, maar in Eswatini waar die spoedgrens selde bo 100 km/h is, kon ons die verbruik afbring tot 12 l/100 km. Dit is na ons mening aan die hoë kant vir 'n 2 l-enjin.

Die mededingers

Dit is moeilik om 'n mededinger vir die BAIC B40 Plus te identifiseer, want hy's 'n unieke ryding. Prysgewys is die Mahindra Scorpio-N min of meer sy eweknie, maar die Mahindra is groter en het sewe sitplekke.

Die Jeep Wrangler Rubicon is die naaste mededinger as dit gaan oor gees, maar hy kos aansienlik meer as die B40 Plus en die Jeep se veldryvermoë is strate beter danksy 'n ooraanbod van ewenaarslotte en ander 4x4-affêrings.

Die Toyota FJ Cruiser en Hummer H3 sou kandidate kon wees, maar daardie voertuie word nie meer vervaardig nie, en die vyfdeur-Suzuki Jimny wat eersdaags aanland, is te klein om 'n ernstige vergelyking te tref. Dit laat ons met die Toyota LC76-stasiewa - 'n ander unieke ryding wat 'n raps onder 'n miljoen kos.

Kortom: die BAIC B40 Plus het nie 'n klaarblyklike mededinger nie, selfs al herinner hy jou aan ander rygoed.

Slotsom

Die BAIC B40 Plus is 'n eiesoortige ryding wat 'n nismark vul. Dis 'n heel mooi voertuig en die ritgehalte is gemaklik. Die vervaardiger is nog nie lank genoeg in die land om 'n uitspraak te lewer oor betroubaarheid nie, maar die bietjie wat ons ervaar het, is dat die B40 Plus goed aanmekaar gesit is.

Ons voorspel nie die B40 Plus gaan in groot getalle verkoop nie, maar as jy op soek is na "iets anders", kan jy hom gerus oorweeg.

Spesifikasies

Model B40 Plus Champion

Enjin 1 999 cc-viersilinder-turbopetrol

Krag 160 kW @ 4 000 r.p.m.

Wringkrag 320 Nm @ 1 800 r.p.m.

Ratkas 6 spoed-outomaties

Aandrywing Deeltydse viertrek

Grondvryhoogte 210 mm

Nader- en vertrekhoeke 37° en 31°

Oorbrughoek 23°

Tenk 75 l

Brandstofverbruik 12,8 l/100 km (getoets)

Standaardbande 265/65R17

Gewig 2 110 kg

Afmetings 4 645 (l) x 1 925 (b) x 1 871 mm (h)

Sleepvermoë Onbekend

Veiligheidsgradering Nie getoets nie.

Waarborg 5 jaar/120 000 km

Diensplan 4 jaar/60 000 km

Prys R649 500

Van die mededingers

Vierdeurveldvoertuie met Jeep-inspirasie, plus 'n regte Jeep

Mahindra Scorpio-N Z8L R590 000

Vir R60 000 minder kry jy baie meer kar vir jou geld.

Toyota Land Cruiser 76 R992 300

Hy's oud, maar beslis nog nie koud!

jeep
jeep

Jeep Wrangler Rubicon R1 099 900

As jy 'n Jeep-agtige ryding soek, moet jy dalk 'n regte Jeep oorweeg.

Cyril Klopper (teks en foto’s)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM