Motors

Ry-indruk: Ford Ranger Wildtrak Super Cab

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Hierdie soort bakkies het verskeie name: Toyota noem syne 'n Xtra Cab, Isuzu het 'n Extended Cab, Nissan het 'n King Cab (hy is egter nie in SA te koop nie) en Ford s'n heet die Super Cab. Daar is natuurlik voordele rondom so 'n verlengde-enkelkajuitbakkie.

Jy het nie net veilige pakplek binnelangs vir waardevolle items soos kameratoerusting nie - 'n dubbelkajuit bied wel dieselfde - maar daar is ook belastingsvoordele, net soos met 'n gewone enkelkajuitbakkie.

Volgens die wet op belasting op toegevoegde waarde word 'n dubbelkajuitbakkie beskou as 'n "motorkar" en dit is dus nie belastingaftrekbaar nie. Daarteenoor beskou dieselfde wet 'n voertuig waarvan die agterkant van die binneruim hoofsaaklik ontwerp is vir die vervoer van vrag as 'n afleweringsvoertuig, en dié is inderdaad belastingaftrekbaar.

Jy kan dus 'n Ford Ranger Wildtrak Super Cab onder jou besigheid se naam as 'n afleweringsvoertuig registreer en 'n deel van die belasting daarop terugeis, selfs al gebruik jy hom ook as 'n vakansiebakkie. Maar die finansiële toorkunsies daargelaat: Kom ons bekyk eers sy eienskappe en daarna gaan ry ons 'n draai.

Eienskappe

Die nuwe Ford Rangers, en veral die Wildtrak, is deftig verby. Die sitplekke is uiters gemaklik - hulle is in agt rigtings verstelbaar - en die ergonomie ten opsigte van hoe ver jy moet strek om by 'n knoppie uit te kom is goed beplan.

Die spasie agter die sitplekke is ruim genoeg vir 'n redelik groot ys-vrieskas, óf jou beddegoed as jy nie wil hê dit moet vol stof raak in die laaibak nie. Daar is twee paneelkissies in die vloer van die laairuim.

Een is leeg en groot genoeg om belangrike dokumente en twee bottels wyn in weg te steek. Die ander paneelkissie word gebruik vir die domkrag, sy slinger en die nooddriehoek. Ons moes 'n lekband vervang, maar die slinger (wat jy moet aanmekaarsit) het nie in die katrol gepas wat die noodwiel moet laat sak nie.

Ons het die eienaarshandleiding geraadpleeg, en volgens die prentjies blyk dit Ford het moontlik die verkeerde slinger voorsien. Maak dus 'n knoop in jou oor dat die verkoopsman demonstreer dat die slinger werk voor jy by die vertoonsaal uitry.

Die laaibak van ons Wildtrak-toetsvoertuig het 'n roldeur oor die laaibak gehad. Dit is glo sterk genoeg dat 'n volwassene daarop kan staan, maar ons wou dit eerder nie beproef nie. (Dit hang natuurlik ook af presies hoe groot daardie grootmens is, nè? - Red.)

Die laaibak se roldeur en klap is taamlik stofbestand, maar nie heeltemal stofdig nie - dit kon wel reën uithou. Binne die laaibak is 'n 12 V- en 230 V-kragsok, asook liggies sodat jy saans kan sien waar jou kampgoed lê.

(Soren Schmidt)

Hoe ry hy?

Alle luukse bakkies ry deesdae nes sedanmotors wat betref gerief en padhouvermoë, en die Wildtrak Super Cab is geen uitsondering nie. Ons het amper 2 500 km op die klok gesit in die week dat ons die bakkie toetsbestuur het, en ons het nooit moeg geraak vir die ryery of bekommerd geraak dat hy ons in die steek sou laat nie.

Ons het 'n bietjie 4x4 gery en die Wildtrak Super Cab se viertrekstelsel kon oral regkom mits sy treeplanke en laaibak nie vashaak nie. Dis maar alle bakkies se achilleshiel.

Die Wildtrak Super Cab het 'n ooraanbod van veiligheidstelsels wat help om 'n veiligheidsgradering van 5 uit 5 los te slaan. Een daarvan is baanbeheer wat jou waarsku as jy té na aan die kantstrepe ry en ingryp as die blikbrein voel jy ry nie mooi nie.

Ons is egter tot raserny gedryf deur 'n alarm wat ons berispe - en selfs die stuurwiel oorneem - wanneer ons vir 'n slaggat uitswenk. Die Wildtrak het ook 'n kamera in die voorruit wat spoedborde langs die pad lees en jou waarsku as jy te vinnig ry.

Ons toetsvoertuig het ons op grondpaaie gewaarsku om nie vinniger as 30 km/h te ry nie - ander kere 20 km/h. Presies waar die blikbrein aan dié snelhede kom, weet nugter, want die plaaspaaie wat ons gery het, het nie spoedborde gehad nie.

Wanneer dieselfde plaaspaaie met bossies oorgroei was, het die sensors wat jou waarsku teen gevare amper berserk geraak en ons moes dit gereeld afskakel. Trouens, elke keer as ons in die bakkie klim, het ons soveel as moontlik van die veiligheidstelsels afgeskakel, juis omdat dit so knaend is.

'n Mens betaal vir hierdie tegnologie en dit is jammer dat jy dit dikwels nie wil gebruik nie...

Slotsom

Dis 'n deftige ryding, maar daar is 'n paar haakplekke. Die knaende alarms kan afgeskakel word en die noodwiel se slinger wat nie wou werk nie, is 'n klein foutjie. Oor die algemeen is ons beïndruk deur die Wildtrak Super Cab. Jy en jou reismaat sal nie 'n fout maak om een te oorweeg nie.

Spesifikasies

Model getoets Wildtrak 2.0 BiT Super Cab 4x4

Enjin 1 996 cc, dubbelturbodiesel

Krag 154 kW @ 3 750 r.p.m.

Wringkrag 500 Nm @ 1 750 r.p.m.

Tenk 80 liter

Brandstofverbruik 7,5 l/100 km (getoets)

Standaardbande 255/65R18 Lengte 5 350 mm

BVM 3 280 kg

Toelaatbare vraggewig 995 kg

Sleepgewig 3 500 kg gerem en 750 kg ongerem

Grondvryhoogte 237 mm

Waaddiepte 800 mm

Veiligheidsgradering (NCAP 2022)

Waarborg 4 jaar/120 000 km (verlengbaar)

Diensplan 8 jaar/165 000 km (opsioneel)

Prys R788 300

Mededingers

Verlengde-enkelkajuitbakkies met viertrek

Isuzu D-Max 3.0 Ddi 4x4 Extended Cab R758 800

Hy's nie so wild en wakker as die Ford Ranger nie, maar sy enjin is feitlik onbreekbaar.

Toyota 2.8 GD6 4x4 Legend Xtra Cab R781 200

Die 2.8 DG6 is Toyota se staatmaker en jy kan 'n Hilux op elke groot dorp laat diens.

Cyril Klopper (teks en foto’s)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM