Motors

Uitdaging vir grootmenere – en Chinese

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Met die sukses wat Chinese vervaardigers soos Haval/GWM en Chery die laaste paar jaar plaaslik behaal het, begin al hoe meer ander Chinese vervaardigers ook hul geluk beproef in die bakkiemark, waar daar hewige wedywering is.

GWM verkoop al jare lank sy Steed-bakkie en meer onlangs die gewilde P-Series, terwyl JAC met sy T9 en LDV met sy T60 ook onlangs in die kryt geklim het. En dis geen wonder nie, want Suid-Afrikaners is effens bakkie-behep.

Terwyl jy deesdae maklik meer as R1 miljoen sal hoes vir die Toyota Hilux of Ford Ranger se premium-modelle, bied die Chinese 'n aantreklike aanbod teen 'n aanloklike prys wat op aggressiewe stilering, moderne tegnologie en 'n lang lys standaardtoerusting berus, terwyl hulle ook die idee uitdaag dat Chinese rygoed van swakker gehalte is.

Nog 'n Chinese mededinger, Foton, het hom pas aan die Suid-Afrikaanse mark "herbekendgestel", gerugsteun deur 'n nuwe reeks handelsvoertuie. Met sy Tunland G7-bakkie wil hy nie net die grootmenere die stryd aansê nie, maar ook sy eie landgenote met 'n prys wat moeilik geklop kan word.

Die Tunland behoort met sy mededingende prys en netjiese voorkoms die aandag te trek.
Die Tunland behoort met sy mededingende prys en netjiese voorkoms die aandag te trek.

Vertel meer

Foton is China se topverkoper-handelsvoertuig-vervaardiger die afgelope 19 jaar en 'n filiaal van die BAIC-groep. Hy is geen vreemdeling in die land nie en is sedert 2008 bedrywig in die plaaslike mark met verkope van hoofsaaklik vragmotors en taxi's. Foton het as deel van sy nuwe aanslag die CMH-groep, 'n kernspeler in die plaaslike voertuigmark, genader­ om sy voertuie oor sy 40 handelaars landwyd heen te versprei, terwyl sy onderdelepakhuis van 10 000 m² die naverkopediens sal ondersteun.

Foton het verder planne om die Tunland in 2026 by BAIC se aanleg by Gqeberha te monteer.

Dis ook nie Suid-Afrika se eerste kennismaking met die Tunland nie. Hy is vroeër vanaf 2007 plaaslik as enkel- en dubbelkajuitbakkie verkoop totdat hy in 2018 stilletjies van die toneel verdwyn het. Die nuwe model is egter 'n veel aantrekliker en moderner voertuig as die een van ouds. Met 'n lengte van 534 cm en 'n breedte van 194 cm en 'n grondvryhoogte van 21 cm pas hy min of meer tussen die Hilux en Ranger in wat grootte betref.

Die stilering is minder "gewaagd" as van sy mededingers, wat hom moontlik groter byval by meer kopers sal laat vind.

Dit lyk wel asof Foton 'n bietjie by Toyota afgeloer het vir die voorkant se ontwerp met die ligte wat taamlik bekend lyk . . . In die al­gemeen is die Tunland egter 'n aantreklike bakkie en ontwerp-elemente soos die Foton-benaming wat prominent in die seshoekige rooster vertoon word, lyk treffend, terwyl al die model-le op netjiese 17"-allooiwiele ry, behalwe die topmodel, wat met 18-duimers spog.

Al is hy die werkesel, is die enkelkajuit ook goed toegerus.
Al is hy die werkesel, is die enkelkajuit ook goed toegerus.

Die reeks

Die Tunland is as enkel- of dubbelkajuit beskikbaar. Die enkelkajuit is die werkesel in die reeks en bestaan uit 'n enkele model, terwyl die dubbelkajuit vyf verskillende modelle bied met drie afwerkingsvlakke, die intreevlak-TL, TLX en die vlagskip, die Limited­.

Al die modelle word egter deur dieselfde enjin aangedryf, 'n 2-liter-turbodiesel wat 120 kW en 390 Nm se krag lewer, gekoppel aan 'n agtgang- outomatiese ratkas.

Die dubbelkajuit se intreemodel bied ook die opsie van 'n sesgang-handratkas, terwyl die enkelkajuit net met die sesgang-handratkas beskikbaar is wat krag na die agterwiele stuur.

Die dubbelkajuit se TL-model bied net 4x2-aandrywing met die TLX wat ook 'n 4x4-opsie bied, terwyl die Limited net met vierwielaandrywing beskikbaar is. Die 4x4-modelle het ook 'n meganiese sluitewenaar vir rowwer veldrywerk.

Ry lekker in gerief

Wanneer jy inklim, word jy deur 'n moderne binneruim begroet met netjiese afwerkings en details wat net so tuis sal lyk in 'n veel duurder voertuig, wat nog te sê 'n bakkie. 'n Breë skerm vir die media- en nutsfunksies strek oor byna­ die helfte van die instru­ment­paneel tot agter die stuurwiel, waar die instrumentasie en ander bestuursinligting ook vertoon word. Alles is darem nie digitaal nie, met die lugversorging wat met fisieke skakelaars beheer kan word.

Die tonnelkonsole in die duurder modelle het 'n glansswart afwerking en lyk heel deftig, hoewel dit dalk nie van die mees praktiese afwerkings vir 'n bakkie is nie. Daar is heelwat sagte oppervlakke wat bydra tot 'n gevoel van gehalte, maar sommige afwerkings oortuig nie heeltemal nie.

Die dubbelkajuit-modelle is goed toegerus, met selfs die intreevlak-model wat onder meer Android Auto en Apple CarPlay, spoedbeheer, drie bestuursmodusse en 'n tru-kamera bied.

Die duurder modelle vat dinge verder met onder meer kunsleer­sitplekke met elektriese verstelling vir die bestuurder en voorste passasier met verhitting en ventilasie, tweesone-klimaatbeheer en outomatiese ligte, terwyl die topmodel luukses soos 'n koordlose laaivakkie, 360°-kamerastelsel en veiligheidstoerusting soos 'n voorste radarstelsel, blindekol- en kruisverkeerwaarskuwing insluit.

Die enkelkajuit is nou wel die werkesel, maar selfs hy is met dieselfde mediaskerm as die dubbelkajuit toegerus met Apple CarPlay en Android Auto ingesluit, asook onder meer lugversorging en elektriese vensters.

Kyk weer, dis nie Toyota se Hiace Ses'fikile-taxi nie, dis Foton se Asambe, wat "kom ons gaan" in Zoeloe beteken.
Kyk weer, dis nie Toyota se Hiace Ses'fikile-taxi nie, dis Foton se Asambe, wat "kom ons gaan" in Zoeloe beteken.

Daar's nóg

Die Tunland G7 se groter boetie, die G9, en ligte hibriede weergawes, die V7 en V9, word ook vir die Suid-Afrikaanse mark beoog. Datums is nog nie bevestig nie, maar hulle sal waarskynlik in 2025 hul verskyning maak. Verwag meer luukses in 'n groter lyf en met stilering wat aan Ford se F150 herinner.

Die ander modelle wat bekend gestel is:

  • View Minibus: 'n luukse 15-sitplekbussie wat vir pendeldienste gebruik word;
  • Miler: 'n 2,1 ton-vragmotor;
  • eAumark: 'n ten volle elektriese vierton-vragmotor;
  • eTruckmate: 'n ten volle elektriese ligte vragmotor van 1,2 ton;
  • eView: 'n ten volle elektriese paneelwa; en
  • Asambe: 'n 16-sitplek-taxi.

Slotsom

Ons kon nog nie self agter die stuur van die Tunland inskuif nie, maar op sigwaarde lyk dit asof Foton sy Chinese mededingers en selfs die gevestigde bakkie-name van hom sal laat kennis neem danksy 'n aanbod wat goeie waarde vir geld bied, met meer op pad.

Die tyd sal leer of hy genoeg murg in sy pype het om in die taai bakkiemark te oorleef, maar die tekens lyk belowend.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM