Dis geen wonder Renault het sy warmste blitsbuks, die Megane RS300 Trophy, na 'n trofee genoem nie.
Jy wil net pryse aan hom uitdeel as jy soos 'n magneet op spore om al wat draai en es is gly. Vir 'n 1.8-liter-knaap hou hy sy lyf Bosveldbul.

Dis nogal merkwaardig wat die Franse uit hierdie kompakte luikrug losgetoor het. Waar die meeste mededingers (Honda Civic Type-R, VW Golf GTI, Hyundai i30 N) met tweeliters grom, dans die Renault soos 'n Franse agterlyn op sy tone met sy 1.8-liter-turbo.
Maar hoor, hierdie turbo'tjie is warm gevryf. Met 221 kW en 420 Nm se wringkrag wat na die voorwiele seil, kry Renault meer oemf by die wiele as die geroemde GTI (180 kW) en i30 N (206 kW). Dis net die Civic met sy 228 kW wat meer perde uit die hek loslaat.
Maar ja, krag is gaaf solank jy dit kan benut.
In die Renault se geval kan jy maar met vertroue op vaart by 'n draai intuimel.
Daar's agterwielstuur, wat help met 'n skerper indraai, terwyl 'n sluitewenaar op die vooras met viskose koppeling help met wringstuur - daardie gelol van 'n stuurwiel wat bokspring in jou hande as jy vet gee en die wiele kyk nie reguit vorentoe nie.
Maar hy raak gou dors
Ek het die langpad gevat met die klein, plat-sit-Trophy, en benewens 'n hoë brandstofrekening (hierdie warmgemaakte enjins sluk maar gulsig aan petrol) was hy perfek om vragmotors en stadige voertuie op 'n slag verby te steek.
Jy mik-mik net, gee vet en daar skiet die Rênnou soos 'n renmotor vorentoe.
Dis 'n vierdeur-luikrug, wat tegnies beteken die gesin kan saamry. Maar die lae grondvryhoogte maak dat sy pens maklik oor 'n spoedwal kan skuur of, nog meer gereeld, die lae skorte by die neus.
My verbruik op die oop pad het net onder 10,0 liter gedraai, maar hy klim vinnig as jy entoesiasties ry of gereeld in die dorpsverkeer.
Ek hou van die RS300 Trophy omdat hy minstens uniek is: Sy kleiner enjin, maar ook omdat veel meer mense 'n GTI of 'n Hyundai gaan uitsleep. Plus, die verrigting bly nie agterweë met die kleiner enjin nie.
Renault-entoesiaste sal ingenome wees met hierdie blitsbuks van Parys.
Die groot klomp Volksie-tradisionaliste gaan nie weet wat hulle misloop nie.















