Motors

Wat ry en wat bly?

Van min plek as dit by 'n pakkery kom - dáárvan weet kampeerders maar alte goed. En dis nie die gewig wat altyd die grootste probleem is nie; bloot die hoeveelheid bagasie, en dan moet 'n mens soms ongemaklikebesluite neem. Gaan die kinders se fietse tuis bly, of daai ekstra kamptafel omdat die skoonfamilie gaan kom inloer?

As jy 'n klomp goed by die huis moet los, kan dit die vakansie bederf. Volg dus eerder 'n paar basiese reëls en sorg dat al die nodige bagasie saamgaan, eerder as net die helfte... saam met 'n paar teleurgestelde gesiggies.

Kampreël nr. 1: Bewaar die vrede

Elkeen in jou gesin het sy eie prioriteite as dit by die paklys kom. As jy die pakwerk aan jou meisiekind op hoërskool oorlaat, gaan sy dalk net 'n bikini, haar iPod en 'n skeepshouer vol grimering inpak.

Klein Frikkie gaan op sy beurt nie vir veel meer omgee as sy krieketkolf en duikbril nie - die gasbottel gaan waarskynlik agterweë bly. Dis dus belangrik om noodsaaklike dinge eerste op jou paklys te sit, maar dink mooi oor wat werklik noodsaaklik is.

Die kenners sê 'n mens het om en by drie liter drinkwater per dag nodig, maar wie sê die water is drinkbaar waar julle gaan kamp? Sal julle êrens water kan koop?

As jy by Hartenbos of 'n vyfsteroord in die Bosveld gaan kamp, gaan dit nou nie rêrig 'n oorlewingstryd wees nie. Die punt is egter: Jy moet mooi dink voor jy iets los, en almal se behoeftes in ag neem. Jou vrou se haardroër is dalk in haar oë belangriker as jou verkyker.

Dis 'n geveg wat 'n mens van die begin af moet afweer - met reël nr. 2.

Kampreël nr. 2: Pak slim

Hou 'n paar van die volgende idees in gedagte, en maak paktyd minder van 'n kopseer:

Hou roll call

Maak 'n lys van die dinge wat jy gewoonlik saamneem, in volgorde van noodsaaklikheid. Die noodhulptassie moet taamlik boaan die lysie wees en 'n tweede paar draftekkies redelik ver na die onderkant.

Dit gee jou nie net 'n idee van hoeveel goed daar plek voor moet wees nie, maar, baie belangrik, jy gaan nie sommer een van die noodsaaklike dinge vergeet nie.

Hopie!

Probeer al die bagasie op een plek in jou huis pak - soos die eetkamertafel. Dit sal jou 'n idee gee van hoeveel ruimte dit opneem.

In en binne-in

Pak goeters wat in mekaar kan pas, saam. 'n Klein kosblik kan byvoorbeeld binne 'n grote pas, en dan kan jy boonop iets soos tandestokkies in die kleintjie pak.

Hierdie spulletjie kan weer in 'n groot pot pas, en by die kampplek kan jy alles netjies in die kampkombuis uitpak.

Grotes eerste

Pak jou kampgoed in kratte, met groot goed soos koeldrankbottels onder en klein goed - soos blikkieskos - bo-op dit. (Moet net nie al die swaar bottels en blikke in een houer pak nie - iemand moet dit darem nog kan optel en ronddra.)

Bly in beheer

'n Mens kry meer in wanneer jy netjies pak eerder as om 'n klomp goed bo-op mekaar te gooi.

Meet en pas

Dit maak nie sin om 'n kilogram suiker saam te ry as jy net een of twee koppies koffie wil maak oor 'n kampnaweek nie. Jou jongste gaan ook nie met sy héle speelgoedkas speel nie.

Pak net die speelgoed wat tans sy gunstelinge is.

Kos soos ontbytgraan kan jy in 'n kosblik eerder as die oorspronklike verpakking saamry. Jy kan maklik tot die helfte van die plek spaar wat die oorspronklike boks sou opneem. Teesakkies in 'n plastieksakkie neem ook minder plek op as 'n boks of kosblik met dieselfde aantal sakkies in.

Enig in sy soort

Probeer om nie items te dupliseer nie. Neem byvoorbeeld een ordentlike warmding pleks van drie verskillende jasse.

Verpoeier dit

As jy werklik min plek het, oorweeg aanmaakkoeldrank en -souse pleks van bottels.

Ereplek

Pak die goed wat maklik platdruk - soos broodrolletjies en tjips - in 'n inkopiesakkie, en pak hom laaste. Dis gewoonlik lig, en sal maklik in 'n hoekie pas eerder as om waardevolle plek in 'n krat op te neem.

Span die os in

Probeer die swaarste, grootste goed in jou motor se bagasiebak laai eerder as in die woonwa. Pak dan die ligte groot goed eerste in die wa en die kleiner goed laaste.

As die skoen pas...

Gebruik jou wa se laaie en rakke waarvoor dit bedoel is. As jy 'n hangkas het, hang al jou klere in die kas en los die tasse tuis. Dieselfde geld vir kruideniersware (solank jy dit só kan pak dat alles netjies en styf inpas).

Maak die bed sommer tuis op met die beddegoed, en gooi net 'n ekstra warm kombers en lakens bo-oor. As jy hulle opvou, neem dit weer iewers anders pakplek op.

Ry nou en hoes eerder later

Vind vooraf uit of die plek waar jy gaan kamp, 'n winkel het, en los dinge soos kruideniersware en hout by die huis as jy dit daar kan koop.

Ons doen dit nog altyd so

As jy 'n manier kry waarop al jou goed inpas, probeer om elke keer dieselfde te pak. Só kan jy ook sien wanneer jy iets vergeet het.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM