Die WegRy Bull Run in samewerking met General Tire kom nader. Die spanne is besig om hulle rygoed reg te kry, en seker te maak die ou goed loop. Hier wys die The Jack hoe hulle regmaak vir die groot uitstappie.
WYS ONS WAT JY DOEN!
Die dae is besig om al hoe langer te word, wat beteken dat die winter einde se kant toe staan. Dit beteken ook dat die WegRy Bull Run, in samewerking met General Tire, net om die draai is.
Omdat 'n groot deel van die Bull Run oor jou kar en jou span gaan, gee ons nou vir jou die kans om vir die hele wêreld te wys waarmee julle besig is. Is jy dalk besig om 'n turbo-aanjaer op jou Renault 11 vas te bout? Kry jou VW Kewer dalk 'n deur of twee ekstra? Al wat jy hoef te doen, is om 'n kort video met jou foon te skiet, en by hierdie skakel op Google Drive op te laai:
" target="_blank">https://drive.google.com/open?id=0B_XSU8LhsRvNelpFNlpmYzFOcFk
Kliek op "Open in Drive" regs bo op jou skerm, en wanneer jy ingeteken het met jou Google-rekening, kan jy dan net 'n video drag and drop op die skerm, en ons sal die beste vyf video's kies om vir die wêreld te wys (elkeen van hulle sal ook 'n digitale intekening vir 6 maande op WegRy kry!) Die video's kan in enige formaat wees, net solank jy darem kan sien of dit 'n Ford of 'n Anglia op die video is. Dit sal natuurlik ook help as die span voorgestel word en 'n bietjie oorspronklikheid aan die dag gelê word.
Ons weet julle Bull Runners is gretig om bietjie af te show, so moenie hierdie kans laat verbygaan nie!
Die res van die video's wat nie gekies word nie, sal ons gebruik agterna as ons die video van die Bull Run aanmekaar sit, so jou moeite sal darem nie verniet wees nie!
Spring gou en kry daai video's by ons.
WegRy Bull Run in samewerking met General Tire












