Stuart Johnston het onlangs Ford se nuwe Mustang ontmoet en was beïndruk.
In 'n era van volgehoue tegnologiese verfyning is dit alte maklik om daardie ondefinieerbare motor-eienskap genaamd "karakter" te verwater.
Dis veral waar van hoë-verrigting-motors, tipies in gevalle waar die vervaardiger 'n onaangejaagde groot-kapasiteit-enjin met 'n kleiner turbo-bron vervang het.
Die nuweling is 'n fantastiese motor, een van die beste wat ek in jare bestuur het. Teen R1,3 miljoen sal Ford elke enkele een verkoop wat hulle na Suid-Afrika invoer.
Die kleiner enjins hou wel by wat verrigting betref. 'n Viersilinder met hoë-druk-aanjaging kan straks nog vir beter versnel- en topspoedsyfers sorg.
Plús veel beter verbruiksyfers.
Karakter gaan egter verlore.
Gelukkig het die Ford-motormaatskappy nie met hul nuwe sewende geslag Mustang in hierdie slagyster getrap nie.

Met die model se geboorte 60 jaar gelede het die intreevlakvariant met 'n sessilinder gespog, terwyl 'n V8 opsioneel was. Sommer gou-gou is die Mustang egter met 'n V8 geassosieer, waarna dit die standaard sou word, buiten 'n droewige tydperk in die middel-1970's toe die brandstofkrisis 'n skuif na 'n viersilinderbron genoop het.
Nou's die nuutste Mustang in Suid-Afrika bekend gestel met enige enjin wat jy ook al sou begeer, solank dit 'n V8 is! Die vorige geslag Mustang was natuurlik ook met 'n 2.3-liter-viersiliderturbo beskikbaar, maar in Suid-Afrika was die aanvraag so laag dat daai idee vir die nuwe model laat vaar is.
Plaaslik is die nuwe Mustang GT dus net beskikbaar met die 32-klep-5.0-liter-V8 wat as die Coyote bekend staan. Dis 'n evolusie van die vorige enjin. Wel met effe minder krag, maar met meer wring om syfers van 328 kW/540 Nm te lewer, wat baie is!
Dryfbaarheid is ook via 'n verbeterde 10-gang-outokas met vinniger wringomsetting verskerp. Die Mustang reageer nou veel vinniger as jy die versneller skielik teen lae snelhede wegskop.

Die 10-gang kies die regte rat en toer die enjin tot by 7 000 r.p.m. en meer, met wonderlike kragstuwing en warm versnelling, voordat die volgende rat met 'n blitsige skuif gehaak word wat so vinnig en presies soos die beste dubbelkoppelaarkaste s'n is.
Dis een van die beste verrigtingsratkaste wat ek nog ervaar het en hy help die Mustang om 0-100 km/h in 4,9 sekondes af te blits, voordat topspoed tot 250 km/h beperk word.
En as die pret eers verby is, kies die ratkas - sonder om vir 'n gang te jag - die regte ratio sodat jy jouself heel rustig in die V8 se borrelende kruisspoedklanke kan verlustig. Die enjin is inderdaad 'n heel bedaarde instrument as jy kalm deur voorstedelike strate suiker.
Die versneller se lang vlugdiepte beteken hoeka dat jy die presiese soort spoed kan vind wat jy soek en tog is daar nooit 'n gevoel dat die pretfaktor nou verby is nie. Dis omdat die wonderlike V8 'n voltydse teenwoordigheid in die kajuit het, of dit nou via 'n lae gerommel of 'n harde enjingrom is.
Die bestuurder is voltyds in't gesprek met die hart en siel van hierdie nuwe Mustang.
Gebruik al sy krag met mening en dit gaan jou by die pompe kos. Maar as jy teen die spoedgrense ry - waar 120 km/h by net meer as 2 000 r.p.m. in toprat gevind word - is dit moontlik om met 'n gelykmatige versneller 9 liter/100 km of minder op die oop pad te kry.
Die nuwe Mustang spog ook met al die hulptoerusting wat 'n bestuurder kan benodig. Op die koop toe is daar 'n paar rengerigte funksies soos drift mode wat jou onder meer in staat sal stel om 'n bietjie rubber te brand.
Heelwat verbeteringe is voorts aan die onderstel, vering en stuur gemaak. Aanvanklik het ek gedog dat die laespoedrit in die "normale" ritmodus effe ru was, maar vanweë die kommunikasie wat deur stuur- en vering-reaksies gelewer word, het ek later van mening verander.
Ford se MagneRide Active Suspension is eintlik na aan volmaak.
Die res van die motor kommunikeer ewe goed met die bestuurder. Sitplekke is uiters gemaklik en ondersteunend. Ek het veral gehou van die stewige laerug-ondersteuning. Die effe vierkantige stuurwiel spog ook met 'n lekker vet buiteraam.
Stilering is egter evolusionêr. Die dinkskrum agter die Mustang het net die lyne verskerp wat al vir die afgelope 60 jaar klassiek is. Geen van die stileringskenmerke is ligsinnig nie en almal pas bymekaar.
'n Eienskap waarvan foefie-liefhebbers sal hou, is die vermoë om die enjin van 'n afstand af aan te skakel en die toere op te jaag, wat dalk ideaal is om mense in openbare plekke te ontmoedig om dit te na aan jou lieflingmotor te waag.
Kajuitgehalte is ook verbeter. Die voorpaneel, deurpanele en sitplekke word alles deur premiummateriale bedek. Daar's geen ware tekens van kostebesparing nie, selfs al is die Mustang uiters prysmededingend.
Nog 'n kajuitkenmerk is die nuwe geïntegreerde instrumenthuls en raakskerm waarop jy uit verskillende instrumentasielesings kan kies. Ek het die klassieke spoedmeter en toerteller gekies wat my reguit terug na 1965 geneem het.
Die nuweling is 'n fantastiese motor, een van die beste wat ek in jare bestuur het. Teen R1,3 miljoen sal Ford elke enkele een verkoop wat hulle na Suid-Afrika invoer.
Plaas dus jou bestelling vroegtydig!
* Mustangs, wat toentertyd almal linkerstuurmodelle was, is sedert 1965 na Suid-Afrika ingevoer, hoofsaaklik deur private entoesiaste. Sedert die laat 1990's is die invoer van linkerstuurmotors egter verbied.
* Sedert Ford egter in laat 2015 regterstuurweergawes van die Mustang wêreldwyd begin versprei het, is die plaaslike segment van tradisionele sportmotors heeltemal deur die Mustang oorheers. In die afgelope nege jaar het Ford al meer as 4 000 eenhede verkoop.
* Let wel dat die "medium-geprysde sportmotorsegment" nie Porsche se uiters suksesvolle 911-model insluit nie. Die 911 verkoop self verrassend baie en het dit al vir jare lank gedoen.
- Prys: Ford Mustang GT - R1,3 miljoen.















