Ouerskap

45 maniere om die lewe te vier!

Getty Images
Getty Images

1. Stap in die tuin en pluk blomme vir elkeen van jou kinders se kamer.

2. Klim saam met jou kind boom.

3. Hou 'n gesinspiekniek by 'n natuurreservaat. Pak 'n bederfie vir nagereg in.

4. Maak geskenkpapier vir Kersgeskenke deur rooi en groen aartappelboompies op bruin papier te druk.

5. Beplan nou al 'n kleurryke herfs. Soek saad wat julle nou kan saai sodat die tuin nie aan die einde van die somer, wel... saai lyk nie.

6. Pars blomme in 'n ou telefoonboek en raam die droë blomme.

7. Tel plat klippies op, verf dit groen en pak dit in 'n potjie. So skep julle 'n abstrakte plant wat altyd groen bly en geen water nodig het nie.

8. Dis dié tyd van die jaar heerlik buite. Hang 'n laken op, huur 'n projeksietoestel en kyk een warm aand flieks in die tuin.

9. Trek ou klere aan en was jul hond buite om te wys hoeveel julle hom waardeer. Baljaar sommer self onder die sproeier saam met jou kinders.

10. Gaan lê een aand op die gras en kyk of julle verskietende sterre kan sien. Wens 'n wens vir jou gesin.

11. Blaas seepbelle. Hier is 'n resep: Meng vier koppies water met een koppie skottelgoedseep. Voeg 'n klein bietjie stroop by die mengsel om dit effens dikker te maak. Kleur dit rooi met voedselkleursel. Maak 'n seepbelstokkie van draad.

12. Koop waterverf en maak vingerkunswerke van dit wat jy en jou kinders in die tuin sien. Ruil kunswerke uit.

13. Speel een aand kaart terwyl julle vrugteslaai vir aandete eet.

14. Koop 'n vlieër en laat vlieg dit in 'n park of jul tuin.

15. Maak bliktelefone wat met 'n dun toutjie verbind is. Maak geselsies daarin - vertel jou kinders hoe lief jy hulle het.

16. Maak en vou papierhoede en versier dit met blinkers, knope en selfs lekkers.

17. Maak jul eie roomys met heerlike sjokolade- en jellieverrassings in. Eet dit saam in die tuin.

18. Trek waterstewels aan en hardloop saam met jou kinders deur waterplasse.

19. Soek alles wat met 'n S begin as julle van die skool af terugry. S staan vir somer!

20. Bou sandkastele in die tuin of op die strand.

21. Plaas vyf blikke van verskillende groottes op die vloer en kyk wie eerste 'n tennisbal daarin kan gooi. Die wenner hoef nie skottelgoed te was nie.

22. Die jaar 2022 gaan na die jaar 2023 verander. Kyk hoeveel sommetjies julle kan maak met 0, 2 en 3.

23. Ken jou kinders die name van die maande in volgorde? Leer vir hulle die Kaapse Klopse-liedjie daaroor. Toe nou, jy ken dit mos!

24. Skaf 'n nuwe 2023-kalender aan en bring solank al die verjaardae wat jy wil onthou daarop aan.

25. Maak 'n nuwe reël dat julle ligter sal lewe. Vir elke nuwe speelding of kledingstuk wat julle aanskaf, moet een ou speelding of kledingstuk dadelik weggegee word.

26. Sorg dat daar altyd 'n vreugdevolle vrugtebak in jou huis is. Dis so goed soos kuns!

27. Pak al jou speserye uit, laat jou kind daaraan ruik en leer haar die naam daarvan. Blinddoek haar en kyk of sy elke geur kan uitken. Gaan sommer die vervaldatums ook na en gooi oues weg.

28. Neem jou kind na 'n melkery sodat sy kan sien waar melk vandaan kom. As jy dapper voel, besoek sommer 'n slaghuis ook.

29. Kapenaars: Wag tot daar 'n wolk oor Duiwelspiek hang en vertel jou kind dan die storie van Van Hunks en die duiwel wat daar gesit en rook het.

30. Gautengers: Wag vir die volgende donderstorm. Wys jou kind daarop dat die blits eerste kom, en dan die knal. (Lig beweeg baie vinniger as klank.) Tel die sekondes tussenin. Elke drie sekondes verteenwoordig ongeveer 'n kilometer. So kan julle vasstel hoe ver of naby die middelpunt van die storm aan julle is.

31. Speel vir jou kinders marsmusiek en marsjeer deur die huis. Begin sommer met Johann Strauss sr. se Radetzky-mars.

32. Beproef 'n slag 'n ander vorm van vervoer, soos 'n bus of 'n trein. Dis vir jou kinders 'n groot avontuur.

33. Leer jou kinders hoe om slaai te maak, en sommer slaaisous ook.

34. Probeer om elke dag vyf porsies groente en vrugte te eet. Dis nogal pret as almal saam tel en saans kom vertel hoe hulle dit gedoen het.

35. Eet druiwe.

36. Laat elke gesinslid saans aan tafel 'n grappie vertel.

37. Was saam die motor.

38. Gooi of skop bal in die tuin.

39. Ry na 'n plek met 'n mooi uitsig en kyk hoe die son sak.

40. As jou kinders daarvoor lus is, kan julle 'n slag hul kamermeubels skuif of hulle kamers laat ruil. So 'n verandering kan baie opwindend wees.

41. Dra jul badwater elke aand met emmers tuin toe om water te spaar.

42. Het jou kinders 'n spaarvarkie? Gesels oor waarvoor julle wil spaar.

43. Beproef 'n paar nuwe braairesepte, want die somer is nog lank. By weber.co.za is heerlike idees.

44. Maak vir jou kinders hoede van die waatlemoenskil as julle klaar geëet het. Lekker taai!

45. Soek jul van in die telefoonboek op en kyk hoeveel mense dit met julle deel.

Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM