Ek het daar gestaan met die blik melkpoeier in my hand en probeer sin maak van al die bestanddele wat buite op die blik aangedui word. Die rye en rye ander opsies op die winkelrakke het ook nie juis gehelp met die keuse nie. Ek wou nie rêrig blikmelk koop nie, maar ek was moeg. So moeg. En Lillie-Marie het so baie gehuil.
Van die begin af was dit vir my belangrik om 'n betrokke pa te wees. Nie net later wanneer my dogtertjie al kan loop en lag en gesels nie, maar van haar eerste oomblikke in die wêreld af. Enige man wie se vrou met 'n keisersnee die lewe geskenk het, sal weet dat daardie weke ná die geboorte moeilik vir die mamma kan wees. Veral dan is dit belangrik dat jy jou deel doen deur doeke te ruil, te help met badtyd en winde uitvryf. Die een ding wat ons mans egter nie kan doen nie, is borsvoed. Glo my. Ek het nou al drie keer The Notebook gekyk en lakteer steeds nie.
Ek het moedeloos gevoel omdat dit die een ding was waaroor ek nie beheer gehad het nie. Ek kon my dogtertjie vashou as sy huil, haar warmer aantrek as sy koud kry, ek kon haar bad, doeke ruil en winde uitvryf. Maar ek kon haar nie voed nie. Karin het wyd gelees en navorsing gedoen in aanloop tot Lillie-Marie se geboorte en tot die gevolgtrekking gekom dat borsvoeding die beste vir ons babatjie sou wees. Ons het begrip daarvoor dat dit nie noodwendig vir almal beskore is nie, maar waar moontlik sou ons probeer borsvoed.
Dit is egter nie altyd maklik nie en as die twyfel begin aanklop, is dit net 'n kwessie van tyd voor dit sommer die deur oopskop. 'n Mamma wat die eerste keer borsvoed, is met onsekerheid gevul. Sy kan nie sien hoeveel melk haar baba inneem nie en het daardie eerste paar dae al die bemoediging nodig wat sy kan kry. Veral van haar man.
Maar die twyfel het my ook beetgepak en kort voor lank het my twyfel na Karin oorgespoel en het sy ingestem dat ek blikmelk kon koop. En daar bevind ek my voor rye en rye blikke met onverstaanbare teks daarop. Terwyl ek so staan en soek na die beste blik vir my baba, vang 'n kort sinnetjie in groot vet hoofletters op een van die blikke my oog: BREASTMILK IS THE BEST FOOD FOR BABIES.
Ondersteun en bemoedig jou vrou. Jy sal die resultate in 'n gesonde babatjie sien.
Skielik is ek baie vies vir myself dat ek toegelaat het dat die twyfel my oorweldig en dat ek nou nog deur 'n blik ook berispe moet word. Ek is blikloos terug huis toe.
Wanneer dit gebeur dat jou babatjie gereeld wil voed of dalk baie huil, is sommige mense geneig om die fout by die bors te soek. Facebook, familie en vriende kan jou vrou baie maklik in haarself laat twyfel en laat wonder of sy genoeg melk produseer. En of daardie melk genoeg voedingswaarde het.
Dan is dit baie belangrik om jou vrou te bemoedig en te verseker dat die fout nie by haar lê nie. Om dit te kan doen, moet jy as man jou self ook met die nodige kennis bemagtig. Lees na oor borsvoeding en word vertroud met terminologie soos "voed op aanvraag", wat beteken dat die babatjie gevoed word namate haar behoefte ontstaan. In so 'n geval sal sy baie meer gereeld voed en is dit ook baie moeiliker om jou dag te beplan. Ontspan, dit word later beter.
Gaan lees oor die kolostrum wat kort ná jou kind se geboorte deur die borste geproduseer word. Gaan lees oor die voedingswaarde daarvan, die teenliggaampies wat daarin voorkom en die hupstoot wat dit jou babatjie in haar eerste dae gee.
Wees daarvan bewus dat deur borsvoeding jy jou babatjie die beste voedingstowwe tot jou beskikking bied. Die beste wat laboratoriums kan optower, hou nie kers vas by dit wat deur jou vrou geproduseer word nie.
Weet ook dat borsvoeding aanvanklik seer en ongemaklik vir die mamma kan wees. Ondersteun, bemoedig en troos. En bly soms stil. Die laaste ding wat jou vrou wil hoor as sy oor haar seer borste afpak, is "ek weet". Nee, ek is bevrees ons weet nie.
Wanneer die nasionale rugbyspan deur 'n moeilike tyd gaan hoor ons gereeld die aanmoediging: Boys, back die Bokke. Vir elke man wie se vrou dalk deur 'n moeilike tyd met borsvoeding gaan, wil ek sê: Boys, back die bors. Ondersteun en bemoedig jou vrou. Jy sal die resultate in 'n gesonde babatjie sien.




















