Ouerskap

Ai, die selfverwyt!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Jy is ademloos van verwondering oor daardie lieflike bondeltjie in die bababed, maar skielik ervaar jy 'n warboel emosies.

Daar is trots, vreugde, oorweldigende liefde - maar ook vrees en skuldgevoelens. En jy's nie alleen nie. Ma's oor die wêreld heen worstel met dieselfde gevoelens. Niemand kan stry nie: Om 'n ma te word, is een van die wonderlikste gebeurtenisse, maar dis ook een van die stresvolste en moeilikste fases in jou lewe.

Die sielkundige Ilze van der Merwe- Alberts van die Bella Vida-sentrum in Bryanston sê as 'n ma die lewe aan 'n baba skenk, word skuldgevoelens sommer terselfdertyd gebore.

"Die meeste skuldgevoelens berus egter op wanpersepsies en daarom moet jy perspektief behou en objektief na jou situasie en kwelkwessies kyk."

Daar is geen twyfel dat ma's (eintlik vroue in die algemeen) tot skuldgevoelens geneig is nie, sê Anne Cawood, 'n maatskaplike werker met 'n privaat praktyk en skrywer van die bekende Grense-reeks.

"Hierdie aanhaling uit 'n boek het my onlangs opgeval: ‘Skuldgevoel is so 'n vroulike emosie dat dit in pienk ink geskryf behoort te word.' Ek dink egter nie dis 'n natuurlike deel van ouerskap nie, want dit lyk nie of pa's dit deel nie. Ek dink vroue het oorkrities oor hulleself geword. Dit kan wees omdat ons oor eeue heen gesosialiseer is om te glo dat ons ten volle vir ons gesin se geluk verantwoordelik is.

"Goeie ma's moet mos hul eie behoeftes opsyskuif en hul kinders en man se behoeftes eerste plaas, of hoe?Ma's het dus mettertyd begin glo dat alles van hulle afhang, ook hul kinders se geluk. Die samelewing het egter verander en meer ma's het buite die huis begin werk, maar daar word steeds van hulle verwag om vir die kinders en huishouding verantwoordelik te wees," sê Anne.

Ma's het dus ál meer druk op hulleself begin plaas en probeer om supervroue te wees. "Enigiets wat nie perfek is nie, is vir hulle onaanvaarbaar - en só het skuldgevoelens ontstaan."

Nuwe ma's kry swaar

Veral nuwe ma's word deur skuldgevoelens geteister, sê Anne. Hulle word oorval deur goedbedoelde raad van familielede, klinieksusters, artse, die media en boeke.

"Al wat nuwe ouers wil doen, is om dinge reg te doen, maar hulle raak verward. As 'n paartjie se idees oor kind grootmaak boonop verskil, word daar druk op hul verhouding geplaas. Kommunikasie ly daaronder en probleme kan in die verhouding ontstaan. Die nuwe ma se behoefte om alles reg te doen en die perfekte ouer te wees, kan meer en meer begin oorheers," verduidelik Anne.

Sy sê dikwels begin ma's dan vergelykings tref. As 'n vriendin se baba begin deurslaap terwyl jou eie glad nie slaap nie, word die druk net erger. Gevoelens van mislukking en skuld begin jou gesonde oordeel aantas.

Meg Faure, medeskrywer van die Koester jou baba-reeks, sê dis 'n oorweldigende gevoel om 'n ma te word en dit verander nooit regtig nie.

"Ons maak elke besluit baie persoonlik omdat ons weet dat ons vir altyd 'n impak op 'n menselewe maak. Dis juis waarom ons elke liewe besluit ontleed. Met baie van ma's se besluite moet jy jou eie, jou kind, jou man en nog boonop jou werk se behoeftes in ag neem.

"Dis dan geen wonder dat daar kompromieë aangegaan moet word nie. Dis juis in hierdie oomblikke en weens die klein foute wat ons as mense maak, dat skuldgevoelens ontstaan."

Meg sê skuldgevoelens is 'n absolute deel van ouerskap. "Die meeste dinge waaroor ons stres, is onbelangrik. Sal jou baba vir die res van sy lewe daaronder ly omdat jy sy doek te lank aangelaat en hy brandboudjies gekry het? Die antwoord is nee. Sal jou baba 'n emosionele wrak wees omdat jy hom 'n paar minute gelos het om te huil sodat jy jou kleuter se boude kan afvee? Nee, hy sal nie. Dis daarom baie belangrik dat ons as ma's perspektief behou en weet dat ons volgens ons kapasiteit aan baba se emosionele behoeftes voldoen."

Vat dié situasies vas

Ons bekyk 'n paar tipiese oorsake van skuldgevoelens en Ilze deel raad.

1. EK SOEK TYD VIR MYSELF! Monica de Beer van Kaapstad vertel sy wou nooit haar baba by haar ma of skoonma los nie. "Ek het gevoel of ek haar dan afskeep. Ek het later geleer dat ek tyd vir myself en my verhouding met my man nodig het."

Wenk Jy sal beter na jou baba kan omsien as jy self meer energie het, beter slaap en gelukkig is.

2. EK MOET TERUGGAAN WERK TOE "Ek het aan die begin omtrent elke oggend gehuil as ek my baba moes aflaai," vertel Chantel Eckhard van Roodepoort. "Ek het so sleg gevoel dat ek daardie hulpelose bondeltjie by iemand anders moes los. Dit was absolute hel."

Wenk Werk is een van die hoofredes waarom vroue skuldig voel. Jy voel skuldig as jy by die werk is en weer skuldig as jy by die huis is en eintlik baie werk het. Kry perspektief en fokus op die positiewe. Sê vir jouself: Ja, dis nie vir my lekker om my kind by ander mense te los nie, maar dit is goed dat my kind ander mense leer ken. So leer hy om ook op ander mense staat te maak en dit help hom om verhoudings met ander te smee.

3. EK IS NIE 'N PERFEKTE MA NIE "Ek voel skuldig omdat my huis altyd omgekrap is en ons permanent kitskos eet," kla Elsabe Conradie van Ventersdorp in Noordwes.

Wenk Daar is vandag soveel druk op vroue om 'n perfekte ma te wees. Ons leef in 'n era waarin ons toegang tot 'n wye verskeidenheid bronne van inligting het. Boeke vertel jou wat om te doen en TV- programme wys ons die illusie van 'n ma met perfekte grimering, golwende hare, 'n laggende baba en 'n fynproewerete op die tafel. Die werklikheid is egter myle daarvan verwyder. Vertel jouself elke dag dat jy 'n goeie ma is. Wees net goed genoeg - nie perfek nie!

4. EK VOEL SKULDIG OOR MY ANDER KINDER "Ek het ongelooflik skuldig gevoel omdat ek kort van draad met my oudste was en ons ook nie meer soveel tyd saam kon deurbring nie," onthou Mandy Brown van Durbanville in Kaapstad. "My dogter was drie en het dikwels gehuil dat ek haar moet optel, maar dan moes die baba weer gevoed word. Dit het my hart gebreek en my soos 'n monster laat voel."

Wenk Wees realisties en besef jy kan nie ewe veel aandag aan jou baba en ander kinders bestee nie. Vra dus hulp en laat jou maat met die versorging van die baba help sodat jy ook spesiale bindingstyd saam met jou ander kinders kan deurbring.

5. EK HET NIE MEER TYD VIR MY MAN NIE 'n Baba het 'n geweldige impak op jou huwelik en ma's voel dikwels skuldig omdat hulle meen hul liefdesverhouding ly onder die nuwe baba en hulle het nie tyd of lus vir seks nie.

Wenk Probeer om nou en dan, selfs net vir 'n uur, iets saam te doen en in die aand tyd te maak om oor jul dag te gesels. Deel jou frustrasies en bekommernisse met jou maat.

Moenie jou laat intimideer deur mense wie se raad nie met jou metodes ooreenstem nie.

Weg met verwyt

  • Begin sommer vroeg in jou swangerskap aan jouself werk, sê Anne. "Kry insig in jou temperament. Intense, doelgedrewe vroue moet besef dat dinge aan die begin nie georganiseerd gaan wees nie en dat jy jou deur jou baba moet laat lei."
  • Koester realistiese verwagtinge - veral van jouself.
  • Werk uit hoe jy en jou maat die baba gaan grootmaak. Besluit wie julle vir raad gaan nader.
  • Moenie jou laat intimideer deur mense wie se raad nie met jou ouerskapsmetodes ooreenstem nie. Wees veral versigtig vir mense wat dinge sê soos "Jy moes liewer ... of "Ek het nog altyd ...", sê Anne.
  • Onthou dat jy oor jou eie reaksies besluit. Niemand kan jou skuldig laat voel nie. Hulle kan dalk probeer, maar jy moet jou daaraan herinner dat jy dinge op jou manier doen. Jy sal self uit jou foute leer.
  • Moenie jou oor die klein dingetjies moeg maak nie, is Meg se raad.
  • Ilze se raad is dat jy uit 'n ander oogpunt na die bron van jou skuldgevoel kyk. "Probeer die positiewe in elke situasie raaksien en moenie net op die negatiewe vashaak nie."

Dis baie belangrik dat ons as ma's perspektief behou en weet dat ons volgens ons kapasiteit aan baba se emosionele behoeftes voldoen.

Skuldgevoelens en depressie

Een van die kommerwekkende gevolge van ma's se strewe na volmaaktheid en gepaardgaande skuldgevoelens is dat dit tot nageboortelike depressie kan bydra, sê die sielkundige Ilze van der Merwe-Alberts.

"Daarom is dit belangrik om 'n steunstelsel te hê en iemand op wie jy kan staatmaak en by wie jy raad kan vra."

"Dis so belangrik dat vroue besef daar is nie iets soos 'n perfekte ouer nie," sê Anne.

"Dis 'n kringloop. As jy ontspanne is, help dit jou baba om ook te ontspan en positief te ontwikkel. Dit laat jou weer ontspan. "

'n Gespanne ma wat met skuldgevoelens worstel, se baba sal ook veeleisend en gespanne word - wat weer tot nuwe skuldgevoelens kan lei."

Zerelda Esterhuizen

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM