Goeie maniere wys begrip en respek vir ander. As ons kan leer om mekaar te respekteer, behoort sosiale euwels soos misdaad nooit eens kop uit te steek nie.
Goeie maniere is 'n wederkerige proses. Aan die een kant verbeter jou kind se sosiale vaardighede, verhoudings en gewoontes; aan die ander kant lei dit tot 'n positiewe selfbeeld omdat sy goeie terugvoer van die mense om haar kry.
Stel jou kind dus sommer van jongs af deur jou voorbeeld aan goeie maniere bloot - dit sal haar wys hoe om respekvol op te tree en later sal sy ware respek hê en betoon.
Goeie maniere word aan gesonde emosionele intelligensie (EK) gekoppel en maniere leer ook selfbeheersing, wat latere sukses aanhelp. Navorsing wys dat kinders wat van jongs af selfbeheersing kan toepas, beter vaar in prestasietoetse, stres beter hanteer en gewilder is.
Iemand met 'n hoë EK is empaties en bewus van haar eie en dié om haar se emosies, en sy weet ook hoe om dit suksesvol te bestuur. Goeie maniere gaan daaroor dat jy sensitief is vir ander se gevoelens en behoeftes.
As jou kind in die eerste 10 jaar van haar lewe leer om ma en pa se reëls te respekteer en volg, help dit haar om as tiener haar eie interne kompas te ontwikkel wat respek, maniere en reëls betref.
Kinders wat grootword sonder dat hulle respek en verdraagsaamheid geleer het, weet nie hoe om hulleself in sosiale situasies te gedra en handhaaf nie en loop 'n veel groter gevaar om as volwassenes onsuksesvol te wees.
Sulke kinders kom ook gou agter dat ander gefrustreerd en geïrriteerd met hul gedrag is en dat hulle as "stout" beskou word. Dit tas hul selfbeeld aan.
As jy jou kind met respek behandel, weet sy dat dit goed voel en sy weet ook dat sy ander goed kan laat voel deur dieselfde te doen.
Jou kind moet van jongs af leer dat haar gevoelens en behoeftes belangrik is, maar nie belangriker as dié van die mense om haar nie.
Jou taak & voorbeeld
Goeie maniere en sosiale vaardighede is aangeleerde gedrag en kinders het positiewe aanmoediging nodig.
- Jou eie voorbeeld is die sterkste wapen wat jy het. As jou kind sien jy tree hoflik teenoor ander op, jou "minderes" inkluis, is die stryd halfpad gewonne. Hoe jy jou kind behandel, is natuurlik ook hoe sy jou en ander gaan behandel.
- • Let op hoe jy self praat. Jou taal kan deurspek wees met sarkasme, vloekwoorde, skelname, geveinsde komplimente, rassisme en manipulerende woorde. Dit wys duidelik wat in jou kop en hart aangaan. Komplimenteer, bedank, ondersteun en bemoedig meer en fokus op die positiewe kant van die lewe. Begin positief praat, dan ontstaan goeie maniere makliker.
- Dink na oor die doel van reëls. Dit reguleer menslike verhoudings en handhaaf orde en regverdigheid. As jy dink reëls is te beperkend, gaan jou kinders dit onbewustelik agterkom. Sal jy werklik daarvan hou as jy in 'n sport meeding en jou opponent nie by die reëls hou nie, of as die bank die regulasies in verband met jou belegging oortree sodat dit jou opbrengs beïnvloed, of as iemand die verkeersreëls oortree en so 'n ongeluk veroorsaak? Leer jou kinders om die reëls te respekteer.
- Maak vrede met onderlinge verskille, soos tussen kulture. Ons is nie almal dieselfde nie, want ons is die produk van ons gene en ons verskillende ervarings. Niemand se tradisies verdien meer respek as 'n ander s'n nie.
Goeie maniere opdie spyskaart
Daar is soveel sosiale, emosionele en intellektuele voordele aan 'n tradisionele gesinsete saam om 'n tafel.
Nie net is gebalanseerde gesinsetes die hoeksteen van jou kind se fisieke en geestelike gesondheid nie, dis ook waar sy blootstelling aan goeie maniere voor die hand liggend kan wees. Dis hier waar hy leer om beleef vir iets te vra of iemand te help om iets soos die sout in die hande te kry. As jy aan tafel gereeld asseblief en dankie gebruik, word dit outomatiese gedrag by jou kinders.
Hulle leer ook om deur die ete aan tafel te sit, wat geduld en selfbeheersing verg en moontlik kan help dat hulle uit verveling hul kos opeet of 'n sinvolle gesprek met jou voer om die ledige tyd aan tafel te vul.
As jou kinders eers geleer het om stil te sit en nie hul kos of eetgerei rond te gooi nie, sal dinge soos met 'n toe mond kou en elmboë van die tafel af vanself volg.
WENKE
- Prys jou kind wanneer sy goeie maniere het of respek betoon.
- Fokus op een aspek van maniere tot sy dit onder die knie het (soos om jou nie te onderbreek wanneer jy met iemand anders gesels nie) voor jy die volgende aspek pak.
- Sê jou kind gerus voor sodat sy kan leer watter woordjies in watter situasie gepas is.
- Twee goue waarhede: wat jy saai sal jy maai; en doen aan ander soos jy wil hê hulle aan jou moet doen.
Leer hulle vroeg-vroeg
1-2 JAAR
- Voeg "asseblief" en "dankie" by jou kind se woordeskat sodra hy sy eerste woordjies baasraak.
- Jou peuter moet saam met julle aan tafel sit wanneer julle as gesin die hoofmaaltyd van die dag eet. As hy reeds sy kossies opgeëet het, kan hy met 'n lepel in die hand self probeer om sagte vrugte of jogurt te eet. Moedig hom aan om die eetgerei te leer gebruik.
- Jou peuter is al in staat om beleef te begin groet.
3-4 JAAR
- Leer jou kind die woorde "jammer" en "verskoon my" wanneer hy nie volgens etiket opgetree het nie, soos om die tafel te verlaat lank voor almal klaar geëet het.
- Hy behoort teen hierdie ouderdom die selfbeheersing te kan toepas om jou nie in 'n gesprek te onderbreek wanneer jy hom vra om dit nie te doen nie.
- Jou kind kan al verjaardagetiket verstaan, soos om elkeen te bedank wat vir hom 'n geskenk gegee het en om nie sy maatjie se geskenke oop te maak nie.
- Hy behoort te kan jammer sê wanneer hy iets verkeerds gedoen of iemand seergemaak het, hoewel hy dit waarskynlik eers teen agt jaar oud sal bedoel.
- Hy kan uit sy eie mense beleef groet.
Speletjies wat maniere oefen
Die towerwoordjies
Hou 'n teddiebeerparty en laat jou peuter die "ma" wees wat tee aan haar bere of poppe voorsit. Hulle moet asseblief sê wanneer sy hulle vra of hulle graag tee wil hê, en dankie wanneer hulle daardie tee ontvang.
Julle kan ook winkel-winkel speel, met jou as die winkelier wat jou peuter se inkopies een vir een vir hom aangee. Hy moet asseblief sê wanneer hy daarvoor vra en dankie wanneer hy dit kry. Ná 'n rukkie kan julle rolle omruil.
Telefoon-telefoon
Kinders is mal oor hierdie speletjie en jy sal vind dat bykans enigiets van 'n skoen tot 'n piesang as 'n telefoon kan dien. Voer lang gesprekke met mekaar en leer jou peuter om die telefoon korrek te antwoord en hoe om te groet wanneer hy aflui.
Hallo ouma, hallo oupa!
Jou kind kon as baba al vir ouma en oupa totsiens wuif. Bou hierop voort, want mense (en veral familie) voel gou te na gekom as jou kind hulle nie groet nie. Speel gereeld 'n groetspeletjie waar jy al die dinge in die kombuis groet wanneer julle daar instap (hallo kombuis, hallo stoof, hallo yskas, hallo mikrogolf) en weer afskeid neem wanneer julle vertrek (totsiens stoof, totsiens yskas), sodat jou peuter dit as vanselfsprekend aanvaar dat jy iemand groet wanneer jy hulle vir die eerste keer daardie dag sien en weer totsiens sê wanneer hulle vertrek.
Wag vir jou beurt
Geduld is vir peuters een van die moeilikste begrippe ooit. Maak 'n mikrofoon (uit 'n toiletrolletjie en tennisbal of iets soortgelyks) en laat die een wat die mikrofoon vashou, die spreekbeurt kry. Iemand anders mag daardie persoon nie in die rede val nie. As hy 'n spreekbeurt wil hê, moet hy liggies aan jou arm raak en jou kans gee om jou sin te voltooi voor hy die mikrofoon kan kry. Julle kan ook as gesin in 'n kring sit en 'n bal vir mekaar rol. Die een wat die bal kry, kan'n spreekbeurt kry.



















