BABA | 8 tekens van suiwer babaliefde

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Dis 'n gevoel soos geen ander nie: daardie oorweldigende liefde wat jy vir jou baba voel. Jou hart vermurwe eenvoudig as jy na die perfekte gesiggie kyk, en jy weet dat jy sonder twyfel jou lewe sal gee vir hierdie kleine bondeltjie wat jou bestaan so ingrypend verander het.

Tog kan dit, veral ná 'n uitmergelende, slapelose nag gevul met 'n troostelose gehuil, soos 'n baie eensydige verhouding voel waarin jy heeltyd sonder enige terugvoer wonder of jy op die regte pad is.

Jou baba kan dalk nie vir jou met woorde vertel jy is die mooiste, beste mamma vir haar nie, maar as jy weet waarvoor om uit te kyk, sal jy die boodskap duidelik kry. Elke dag wys sy met subtiele lyftaal presies hoe belangrik jy vir haar is en hoe graag sy by jou wil wees ...

1. Oë net vir jou

Sy is nog nie eens 'n week oud nie, maar terwyl jy haar voed of vashou kyk daardie ernstige ogies jou stip aan asof sy elke lyntjie op jou gesig wil memoriseer. Sy wil weet hoe lyk die belangrikste mens in haar lewe van wie sy in die baarmoeder net die stem kon hoor. Koester daardie oomblikke van betowering. Stut haar nekkie en hou haar gesiggie gereeld sowat 15 tot 23 cm van jou gesig af sodat sy die geleentheid kry om jou gesig te bestudeer. 'n Studie het gewys babas van tussen 12 en 36 uur oud toon reeds 'n voorkeur vir hul ma se gesig bo dié van vreemdelinge. Nog 'n studie het getoon pasgebore babas verkies gesigte waarvan die oë oop is sodat hulle kan oogkontak maak. Jou baba sal selfs vir 'n paar oomblikke ophou voed net om stil na jou te staar en in jou oë te kyk asof sy jou diepste gedagtes wil peil. Benut voedingstye as jul eie spesiale bindingstyd deur rustig en sonder onderbreking saam te sit en mekaar te ontdek.

2. Jy's instinktief my nommer 1

Al is jou baba nog skaars 'n armvol, weet sy jy is haar ma en wys sy elke dag deur haar lyftaal dat sy jou bo alle ander mense kies. Vir jou ruik jou propvol borsdoekie dalk na suur melk, maar vir jou baba sê dit haar mees geliefde mens is naby! Studies het gewys dat week oue babas al hul ma kan identifiseer deur die reuk van haar borsmelk en hul kop outomaties sal draai na die plek waar hulle haar melk ruik. Net so herken jou baba jou stem: Navorsing toon 'n baba in die baarmoeder se hart klop outomaties stadiger as sy haar ma hoor praat, en ander eksperimente het gewys dat as opnames van stemme vir pasgeborenes gespeel word, hulle dadelik hul ma se stem herken. Kyk 'n bietjie hoe jou kleinding se koppie in jou rigting draai en haar ogies jou soek die oomblik wat jy praat. Gesels met haar terwyl jy haar doek ruil of met haar op die mat speel - kort voor lank sal sy jou beloon deur gretig terug te "gesels" met babbelklankies wat jou net nog liewer vir haar sal maak.

3. 'n Spesiale glimlag

'n Mens se asem raak sommer weg wanneer jou baba daardie eerste keer vir jou glimlag. Hoewel haar eerste glimlaggie waarskynlik 'n nabootsing van jou eie gesigsuitdrukking is, sê dit reeds vir jou dat sy jou belangrik genoeg ag om na te aap - 'n reuse-kompliment vir jou! Teen sowat ses weke glimlag jou klein asjas met oorgawe in 'n duidelike uitdrukking van sosiale interaksie met die mense vir wie sy lief is. Glimlag terug en bou op hierdie spesiale oomblik: Jy sal jou betrap dat jy enigiets sal doen om daardie glimlag op haar gesiggie te sien en teen maand vier sal jy verseker bederf word met gereelde, klokhelder wyebek-laggies as jy soentjies op haar magie blaas!

4. Is Mamma nog daar?

Hoe meer beweeglik jou ouer baba raak, hoe meer sal hy begin om sy omgewing te verken, maar kyk gerus hoe dikwels jou kleinding terugkeer na jou toe of net omkyk om seker te maak jy is nog naby! Dis normaal dat jou baba nou verder van jou af begin beweeg, maar die oomblik dat hy onseker voel, sal hy bevestiging soek dat jy, sy veilige vesting, wel nog in die omtrek is. Hy wil weet dat jy daar is vir hom, dat jy 'n soentjie sal kan gee as hy sy kop stamp. En as hy moeg verken is, kan jy maar weet: Hy sal terugkeer na jou skoot, waar hy veilig en gelief voel. Hy sal terugkeer na die een wat hy liefhet.

HET JY GEWEET?

Dopamien, 'n plesierhormoon, speel 'n belangrike rol in binding tussen ma en baba. Terwyl jy jou kleinding vashou, voed en wieg, kry julle albei 'n dosis van hierdie ‘towermiddel' in.

5. Armpies omhoog

Hoe ouer en meer beweeglik jou babalyfie raak, hoe duideliker wys sy lyftaal ook sy liefde vir jou, soos wanneer jou sewe maande oue baba jou sien en onmiddellik sy armpies omhoog gooi om opgetel te word. Of as hy op iemand anders se heup sit en jy verbystap, kan hy hom amper uit die persoon se arms draai net om by jou te wees. Hy wys sy voorkeur duidelik: Jy is die een wat hy liefhet en by wie hy nou wil wees.

6. Blye weersiens!

Hou 'n bietjie dop hoe jou patroontjie se gesig ophelder die oomblik wanneer jy by 'n vertrek instap nadat jy 'n rukkie weg was - dis genoeg om jou hart in botter te verander! Jou baba kan dalk heel gelukkig weg van jou af speel tussen mense van wie hy hou, maar niks kan sy vreugde verbloem as jy weer op die toneel verskyn nie. Sy hele lyfie wikkel van opgewondenheid, hy glimlag van oor tot oor en sy ogies blink. Met jou daar loop sy beker eenvoudig oor. Natuurlik kan dit ook soms beteken dat jou baba moeilik van jou afskeid neem - veral ná sewe maande wanneer skeidingsangs begin inskop. Bou sy vertroue en liefde deur nooit skelm weg te glip nie en deur hom altyd met oorgawe en blydskap te groet wanneer jy hom weer sien.

Getty Images
Getty Images

7. Drukkies en nat soentjies

Vanaf omtrent 10 maande word jou kleinding bewus van die belangrikheid van drukkies en koesterende oomblikke en dat hy dit nie net kan ontvang nie, maar ook kan gee. Dis 'n goue tyd in 'n ma se lewe - as hulle eers in die laerskool is, word die soene en drukkies dikwels skaars - geniet dus elke oomblik daarvan en wees maar gereed vir ietwat lomp pogings, soos oopbeksoentjies wat 'n slobberige, sopnat spoegstreep op die wang los! Moedig jou kleinding se liefdesbetonings aan deur positief daarop te reageer sodat hy kan leer hy hoef nie net 'n passiewe ontvanger van liefde te wees nie, maar dat hy ook die mag het om ander mense se lewe mooier te maak. Dit wys boonop jy doen iets reg, want hy leer by jou hoe om liefde te gee.

8. Jy troos my die beste

Op 'n moeilike dag is jy dikwels die enigste een wat jou kleinding kan troos. Die oomblik dat jy haar in jou arms neem, smelt sy teen jou vas asof sy deel is van jou en jy kan voel hoe haar lyfie teen joune ontspan - en skielik voel jy soos die beste ma in die wêreld. Jou geur, jou gevoel, jou stem verteenwoordig vir haar die toppunt van veiligheid, want dit is waaraan sy in die baarmoeder gewoond geraak het. Jy kan op hierdie diep vertroue voortbou deur te reageer as jou klein mensie huil, haar op te tel as sy die behoefte aan aanraking het en haar te voed as sy honger is. So leer sy deur jou dat sy die hele mensdom kan vertrou. Haar liefde vir jou word in der waarheid die fondament waarop sy toekomstige verhoudings bou.

SPELETJIES VANDAG

CTA