Dink jy die woord "nagmerrie" is gelyk aan 'n klein baba op 'n vliegtuig? Dit hoef nie so te wees nie. Vlieg bly een van die veiligste maniere van vervoer en is beslis vinniger as ander opsies. Lugdienste maak dit ook deesdae vir ouers so gerieflik moontlik.
Berei so voor
- Jy moet gewoonlik 'n klein vasgestelde bedrag vir kinders onder twee jaar oud betaal. Dit wissel na gelang van die lugdiens. Kinders van twee en ouer betaal by baie lugdienste die volle of byna die volle tarief.
- Jy moet jou baba se geboortesertifikaat by die toonbank wys.
- Daar is doekruilgeriewe op alle vliegtuie. Sommige lugdienste het ook wiegies beskikbaar. Die aantal aan boord is egter beperk.
- Niemand mag op die vliegtuig se vloer lê nie.
- 'n Karstoeltjie word ook toegelaat, maar dit maak deel uit van jou handbagasie. As jy dit tydens die vlug wil gebruik, moet jy by jou lugdiens seker maak oor koste. Jy gaan vir 'n ekstra sitplek moet opdok as jy dit langs jou wil plaas. Die karstoeltjie moet vorentoe kyk en met die vliegtuig se veiligheidsgordel vasgemaak word.
- As jy 'n maaltyd vir jou baba wil hê, moet dit ten tyde van die bespreking versoek word. Nie alle lugdienste het egter babakos nie. Vind voor die tyd uit.
- As jy self melk en kos saamvat, sal die personeel dit vir jou verhit.
- Die meeste lugdienste laat een sak handbagasie vir jou baba toe. Jy kan ook 'n karstoeltjie en 'n opvoubare stootwaentjie op die vliegtuig saamneem.
- As jy internasionaal reis, moet jy by die departement van binnelandse sake om 'n paspoort aansoek doen. Neem jou kind se geboortesertifikaat asook 'n afdruk daarvan en die bedrag vir die paspoort saam - dit moet meestal in kontant betaal word. Albei ouers en die kind moet by die aansoek teenwoordig wees. Neem jul identiteitskaarte saam, asook 'n huweliksertifikaat. Die paspoort sal vir vyf jaar geldig wees.
- Pak 'n klein noodhulptassie vir enige moontlike probleme aan boord.
- As jy borsvoed, maak seker dat jy genoeg vloeistof inneem. As jou baba bottel drink, maak seker jy het genoeg formulemelk afgemeet en genoeg bottels ingepak. Die vlugpersoneel kan water voorsien.
- Pak 'n reismatjie in om jou baba se doek by die lughawe te ruil.
- As jou baba nog klein is en jy nie 'n stootwaentjie wil saamneem nie, neem 'n doek of sak saam waarmee jy baba teen jou lyf kan vasbind.
Wanneer kan 'n baba veilig vlieg?
Wag tot jou baba 'n maand oud is voor jy die vliegtuig aandurf, sê dr. Claudia Gray, 'n pediater van Kaapstad. As jou baba vroeg gebore is, 'n geskiedenis van borsprobleme het of kort tevore 'n operasie gehad het, moet jy nog langer wag. "Die laesuurstof-omgewing kan 'n baba met borsprobleme se simptome vererger," waarsku Claudia.
Dit is 'n goeie idee om jou baba te laat ondersoek voor jy vlieg om seker te maak hy het nie 'n infeksie nie, sê Claudia.
"Probeer 'n toe neusie voor die vlug met neusdruppels oopkry. Moenie sommer vir jou baba 'n kalmeerstropie gee nie; die witgeraas van die vliegtuig is gewoonlik genoeg om babas te laat bedaar." Ander gevare aan boord is infeksie (daar's baie mense, 'n beperkte ruimte en dus kan die kieme na hartelus van passasier na passasier spring) en druk op die buite- en middeloor, veral as die lugdruk met die landing en opstyging verander. Die meeste mense kom dit te bowe deur te sluk, kou of gaap, maar babas en klein kinders kan swaarkry. Die beste raad is dus om vir jou baba sy fopspeen of 'n bottel te gee terwyl julle opstyg en land.
So doen dié ma's dit
Vicky Whitehead van Ekhurhuleni het al met 'n driejarige kleuter en 'n eenjarige tweeling na Londen gevlieg. "Trek vir jou kinders gemaklike klere aan. Myne het sommer klaar hul pajamas aangehad. Dis nie maklik om die hele gesin in die badkamer te kry nie. Pak vir elke kind sy eie sak; dit maak dit makliker om elkeen se goedjies te vind. Pak snoephappies vir groter babas in. Probeer om nie onnodig doeke te ruil nie, veral nie as jy nie ver vlieg nie - dis makliker om dit in die lughawe se kleedkamer gedoen te kry. Moenie 'n ligte stootwaentjie vergeet nie; jy gaan jou hande nodig hê om jul bagasie af te tel."
Doné Hanekom van Perth, Australië, en haar gesin is al gesoute reisigers. "Probeer in die nag vlieg en probeer jou kind op die lughawe wakker hou. My dogtertjie, Mia, het met opstyging aan die slaap geraak en eers ná sewe uur wakker geword. Neem 'n leë bababekertjie en -bakkie saam. Die vlugpersoneel kan die bekertjie voor slaaptyd vol melk maak. Ek neem ook altyd my kinders se sagte speelgoed en kombersies saam. Moenie te veel speelgoed inpak nie; dit val heeltyd op die vloer. Vir groter kinders is teken- en magneetborde wenners. Ek en my man sit gewoonlik agter mekaar langs die venster, elkeen met 'n kind by ons. Elkeen is dan vir een kind verantwoordelik."
Helen Vermaak van Johannesburg kuier dikwels met haar twee klein kinders by haar familie in Brittanje. "My beste wenk is om te ontspan. 'n Mens hoop jou baba is nie knieserig nie, maar as hy is, is daar nie veel wat jy daaraan kan doen behalwe om te troos nie. Niemand wil die ma met die skreeuende baba wees nie, maar ontspan en probeer om jou kind se aandag met 'n bottel of eetdingetjie af te lei. En vra gerus hulp. Ek het op O.R. Tambo met twee kinders, drie sakke handbagasie en 'n stootwaentjie geland en moes ons drie groot tasse kry. Die personeel moes maar help!"





















