Dit help alles
Sommige babas se tande verskyn stil-stil, maar ander is beslis nie so gemaklik met die proses is nie. En 'n moeilike baba beteken 'n moeë ma. Hier is rate wat ons by ervare ma's en mediese kenners gekry het.
TREK DIE AANDAG AF Bedags is dit soms genoeg om baba se aandag van haar ongemak af te trek deur haar besig te hou met aktiwiteite soos stap, dans en bietjie vertroeteling.
MASSERING Vryf ferm met 'n skoon vinger oor haar tandvleisies. Jy kan ook 'n rubber-tandeborseltjie gebruik om die tandvleis mee te masseer.
TANDEDRINGE 'n Tandering is nie te hard nie en is lekker koumateriaal. Belê gerus in die soort wat jy in die yskas kan sit om af te koel - die koue sal ekstra verligting bring. Moet dit nie vries nie!
KOS OM AAN TE KOU Dit sluit in hoenderbeentjie sonder vleis, wortelstokkies, appelskyfies, selderystokkies en broodkorsies. Baie ma's hou van tandebeskuitjies, maar die suikerinhoud kan taamlik hoog wees. Oumas beveel dikwels biltong aan - maak seker dis nie te sout nie en bly naby.
ELEKTRIESE TANDEBORSEL Jy kan dit gebruik om baba se tandvleis mee skoon te maak (en later haar tandjies) en babas is blykbaar dol oor die vibrasie in hul mondjie.
KOUE DINGE Koue bring verligting. Sit dus haar fopspeen in die yskas of gee haar koue jogurt, koue wortels of 'n piesang wat 'n rukkie in die yskas was.
KAMILLE Baie homeopate beveel kamille aan vir tandekry - jy kan kamilletee gee of Weleda se tandekrypoeier, wat ook kamille bevat.
MONDVERDOWINGSMIDDELS Kyk na opsies soos Teejel, Pansoral-jel, Prodol (deur baie ma's aanbeveel) of poeiers soos Vidol en Ashton & Parsons. Nog 'n gewilde opsie by ma's is Dynexan, wat eintlik vir volwassenes bedoel is. Praat egter eers met jou apteker daaroor. Jy kan jou apteker ook vra vir hul eie tandemengsel.
PYNSTROPE Babaveilige pynstrope soos Panado en Calpol behoort met uitsondering gegee te word, maar kan veral in die nag help. Bly weg van aspirien - dis baie gevaarlik vir kinders jonger as 16.
HET JY GEWEET?
Die meeste babas kry hul eerste tand tussen vier en sewe maande oud.
Tandhigiëne
Hoe gesond baba se melktande is, het 'n invloed op haar volwasse tande. Vee haar eerste tandjies twee keer per dag skoon met 'n skoon, nat lappie. Jy kry ook spesiale vingertandeborseltjies. Die grootste oorsaak van tandbederf by babas is dat hulle met 'n bottel slaap, omdat die vloeistof agter die tandvleis opdam en groot skade aanrig - vermy veral bottels sap en versoete tee. Dit kan baba se tandjies letterlik wegvreet.
IS DIT TANDE?
Kenners verskil oor die simptome van tandekry, maar almal is dit eens dat tandekry nooit 'n kind ernstig siek maak nie. Jy kan verwag dat jou asjas in hierdie tyd wel:
- prikkelbaar kan voorkom,
- byterig kan wees,
- baie kan kwyl (wat tot 'n uitslag op die kennetjie kan lei),
- onwillig kan wees om te eet omdat haar tandvleis sensitief is, en
- slegter as gewoonlik kan slaap. Sommige kenners reken ook dat tandekry gepaard kan gaan met doeke wat erger as gewoonlik ruik, 'n baie effense koors en ligte diarree (nie erg nie). Moenie siektesimptome afskryf as tandekry nie - praat liewer met jou apteker, dokter of klinieksuster as jy twyfel.




















