Ouerskap

Baba: Is dit tande?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty/Gallo images
Getty/Gallo images

Sommige ma's ervaar tande kry as 'n ware uitdaging wat met weke se ongemak en pyn vir hul babatjie gepaardgaan. Baba & Kleuter het by verskeie kenners gaan aanklop oor hoe 'n mens verligting kan bring.

Nege uit tien keer is die simptome wat jy sien nie aan tande te wyte nie, is iets wat pediaters dikwels sê. Dis hoekom die middels wat aangebied word nie verligting bring nie. Baie babas tussen vier en ses maande oud is gedurig met hul hande in die mond en kwyl dikwels, maar dis ook een van die maniere waarop hulle teksture en smake ontdek, en dít het niks met tande te doen nie.

As jy dink jou baba kry tande maar binne 'n week is daar nog nie 'n tand te sien nie, is die simptome waarskynlik aan iets anders te wyte.

Sou dit wel tande wees, kan jy dit stapsgewys benader. Probeer eers om iets aan die tandvleis te smeer. 'n Tandemiddel bevat gewoonlik verdowing. As dit nie werk nie, moet jy voortgaan met mondelikse behandeling deur iets met parasetamol (Panado of Calpol) of ibuprofeen (Nurofen) te gee.

HET JY GEWEET?

Die algemene reël is dat jou baba vir elke ses maande van sy eerste lewensjare vier tande kry.

Hoe weet jy dis tande wat pla?

Die tandvleis is geswel en rooi wanneer 'n baba tande kry, sê Machel Leuschner, 'n Pretoriase apteker. "Jy sal ook waar­skynlik 'n harde knop onder die geswelde tand­vleis voel."

Ander algemene simptome sluit in prik­kelbaarheid, huilerigheid, rusteloos­heid en oormatige speekselproduksie met kwyl, en jou baba gaan waarskynlik aan voorwerpe byt of kou.

Die swelling in die mond kan party­keer tot agter in die keel strek, wat moont­lik die buis na die ore (Eustachius-­buis) kan beïnvloed en oorpyn veroorsaak. As gevolg daarvan kan jou kind moontlik aan sy oor trek of vat.

Machel waarsku egter: "Moet nooit oorpyn onderskat of net aan tande toeskryf nie omdat dit meestal ander oorsake het wat ernstiger is."

Tande kry kan ook ander gevolge inhou, sê Machel. "Ensieme wat in jou speeksel voorkom, kan soms 'n uitslag om die mond veroorsaak en die maagwand irriteer, wat diarree en luieruitslag tot gevolg kan hê. Maar ook hier moet 'n mens versigtig wees om gevolgtrekkings te maak. Maak seker dat tande die sondaar is en nie iets anders nie."

Simptome soos aptytverlies is seldsaam en daarom moet jy jou dokter raadpleeg as jou kind ophou eet. Daar is geen mediese bewys dat tandekry koors ver­oor­saak nie, aangesien koors aan infeksie toegeskryf word. As jou kind koors het, moet jy liewer dokter toe - die tandekry val dan waarskynlik net toevallig in dieselfde tyd.

Wat die pediater aanbeveel

Tanderinge ... veral dié met 'n jel binne-in wat jy in die yskas kan koud maak. Babas hou daarvan en dis ook 'n bietjie grof sodat hul tassin gestimuleer word. Sorg net dat dit skoon bly, want dit val gereeld op die grond. Jy kan selfs Telament-­druppeltjies of enigiets met 'n smakie waarvan jou baba hou aan die tandering vryf as jou baba dit nie net so wil aanvaar nie.

Suighappies Vingerkos met 'n tekstuur masseer seer tandvleis. Droë mango's is seker die beste voorbeeld, maar biltong­stokkies werk ook uitstekend. Sorg net dat biltongstokkies van 'n betroubare bron af kom en laag in sout is. Albei hierdie kos­sies het 'n lekker smaak en die teks­tuur bring verligting. Hou natuurlik net jou baba goed dop sodat jy kan ingryp in die geval van verstikking.

Beproef een van hierdie vyf oplossings:

  • Tandemiddels
  • Mondelikse medikasie
  • Vingermassering
  • Tanderinge
  • Droërige kosstokkies

HET JY GEWEET?

  • Dogtertjies kry oor diealgemeen vinniger tande as seuntjies.
  • Onderste tande kom gewoonlik voor die boonste tande uit.
  • Melktande is kleiner en witter as permanente tande.

Pynstillers en poeiers

1. Watter middels help?

Beskikbare middels sluit gewoonlik 'n pynstiller, anti-inflammatoriese middel, plaaslike verdower of kombinasies daarvan in.

Of dit werklik verligting bring, is 'n ope vraag. Babas en peuters kan nie hul vlak van pyn of verligting aan ons kommuni­keer nie en dis moeilik om 'n mediese uitspraak te lewer.

Die gevaar van die meeste oor-die-toon­bank-preparate is oordosering,newe-effekte of interaksies met ander medikasies of siektes.

Die doeltreffendheid van hierdie middels teen tandekry moet nog verder ondersoek word.

Pansoral-tandejel bevat bestanddele van natuurlike plantbronne sooskamille en heemswortel, wat bekend is vir hul strelende en kalmerende eien­skappe. Dié jel bevat nie suiker of alkohol nie en kan so gereeld as nodig gebruik word.

2. Wat is die riglyne vir gebruik?

Middels soos Teejel wat cholien­salisilaat ('n plaaslike pynstiller) bevat, mag nie meer as drieuurliks aangewend word nie en verkieslik nie meer as ses keer binne 24 uur nie. Dit bring egter net 'n paar minute lank verligting en word deur oormatige speeksel verder verdun. Dit bevat ook alkohol.

Onthou dat jy glad nie vir kinders onder 16 aspirien mag gee nie omdat dit die seldsame maar gevaarlike Reye-­sindroom kan veroorsaak.

Salisielsuur of choliensalisilaat is pynstillers en kom in SM-33-jel en Teejel voor, terwyl die aktiewe bestanddele lignokaïen of bensokaïen plaaslike verdowers is in Prodol-druppels, SM-33-jel en Medijel.

Die plaaslike verdowers en pynstillers is albei aangedui vir pyn wat met seer tandvleis verbind word.

Moet liefs nie meer as een middel saam gebruik nie - vul die middel wat jy kies liewer met 'n medisynelose behandeling aan.

Vra altyd ook vir die dokter of apteker voor jy iets koop, want van die middels is geskik vir ouer kinders, maar nie klein babas nie.

3. Kan ek hierdie middels sonder voorskrif koop?

Die meeste middels vir die simptome van tandekry is oor die toonbank beskikbaar as skedule 2-preparate.

Voorbeelde sluit in middels soos Panado of enige ander pynstiller met parasetamol, Nurofen of enige ander ibuprofeenbe­vat­tende preparaat (pyn­stiller en anti-inflam­matories vir die swelling). Dit kan jy eers van drie maande af gee.

Dan is daar die plaaslike verdowers of pynstil­lers soos Teejel, Prodol-druppels, SM-33-jel en Medijel.

Moet egter nie enige van hierdie middels langdurig gebruik nie. As dit teen dag vyf nog nie werk nie, het jy 'n ander probleem as tand wat pla. Jou kind beleef dalk ernstige frustrasie of is verkouerig, honger, oorvoed of het refluks - daar is baie dinge wat jou baba se ongemak kan veroorsaak.

Hoewel die boeke noem dat kinders hul eerste tande teen ses maande oud kry, is dit geensins noodwendig so nie.Heelwat babas kry eers teen agt maande tande en in sommige gesinne selfs ná hul eerste verjaardag. Dan dink die ma al sedert maand drie dat elke knies en piep tande is, met die gevaar dat die ware oorsaak van die kind se ongemak nooit behandel word nie.

Tandemiddels en pynstillers kan drie tot vyf dae lank aaneenlopend met vei­ligheid gebruik word.

As jy nog steeds daarna iets wil gebruik, oorweeg gerus die gebruik van poeiers sonder para­setamol soos Ashton & Parsons se tandekrypoeier en dien Calpol of Panado mondeliks toe. So hou jy beheer oor die dosisse en dit wat jou kind inkry.

Homeopatiese verligting

Verskeie homeopatiese middels kan met sukses ingespan word om tandekry-­simp­tome te verlig, sê Johannesburgse homeo­paat, dr. Jana Mostert. Dié middels is volkome veilig en het geen newe-effekte nie.

  • Chamomilla-druppels is die algemeenste en kan gereeld deur die dag gegee word.
  • Buso van Natura en Ashton & Parsons se tandepoeier (bevat kamille)
  • Vinceel-mondsproei van Heel. Dit help ook vir mangelonsteking en enige ander swelling in die mond en keel.
  • W.Last se tandejel

Al hierdie middels is by groter apteke en apteekgroepe verkrygbaar.

HET JY GEWEET?

In albei kake kom tande in pare uit, een links en een regs - maar die volgorde kan verskil.

Pas hulle mooi op

Dis belangrik om jou kind se melktandjies mooi op te pas, al gaan hy hulle eendag almal verloor. 'n Infeksie in die melktande kan die permanente tande wat daaronder lê beskadig.

Moet beslis nie die boereraat volg wat sê dat jy growwe suiker in die tandvleis moet inmasseer nie. Dit sal vir jou baba seer wees, bring geen verligting nie, en suiker is heeltemal oorbodig in 'n baba se dieet. Boonop kan dit tot tandbederf lei as daar reeds tandjies in die mond is.

Julle moet begin tande borsel sodra die eerste tandjie deur is. Eintlik is dit 'n goeie idee om vroeër al jou kind se tandvleisies gereeld te begin skoonvee sodat hy gewoond kan raak aan 'n mondsorgroetine. Melktande bederf vinniger en dis maklik om dit mis te kyk tot dit te laat is.

Moet nooit jou kind met 'n bottel in die mond aan die slaap laat raak nie. Die inhoud (of dit nou melk, sap of tee is) dam in die mond op. Hoe langer die tandjies met die suiker in die vloeistof in aanraking kom, hoe slegter is dit vir hulle.

Fluoried kan tandemalje versterk en tandbederf help voorkom, maar dis baie belangrik om dit in die regte hoeveelhede in te kry.

Praat beslis eers met jou tandarts voor jy begin aanvul, want te veel fluo­ried is weer skadelik. Onthou, die fluoriedvlak van water verskil van plek tot plek.

HET JY GEWEET?

Teen die ouderdom van driebehoort jou kind ál sy melktande te hê.

Louïne van der Vyver

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM