‘Eintlik kan ek nie eens onthou wanneer ons dogtertjie in ons bed beland het nie. Sy was 'n slegte slaper en een aand het ek haar uit pure moedeloosheid langs my in die bed gesit. Ek kon eenvoudig nie nog een keer opstaan en na haar bedjie loop nie. Sy het daardie aand geslaap soos 'n baba moet.
"Ek het dit die volgende aand weer probeer en toe ek weer sien, het ons 'n permanente bedmaatjie en ek minder donker kringe onder my oë!" vertel Annie Marais van Pretoria.
Met dié was die koeël deur die kerk en die Marais se groot dubbelbed het 'n spreekwoordelike kermisbed geword.
Gesinsbeddens is taamlik omstrede en almal het 'n mening daaroor: swanger vroue, nuwe ma's, gesoute ouers, en - kan jy maar weet - jou ma, skoonma, tante, ouma en al hul vriendinne ook.
Vra jy raad oor dié kwessie is almal kenners en word hulle in drie duidelike kampe verdeel: absoluut, geensins en miskien.
Suster Lilian is een van Suid-Afrika se voorste babasorgkenners en 'n vurige voorstander van die gesinsbed. Sy sê dis 'n realistiese opsie omdat dit vir babas en hul ouers prakties en gerieflik is.
"Babas en ouers kry meer slaap en voel die volgende dag meer uitgerus. Dis ook 'n koesterende manier om in jou baba se emosionele behoeftes te voorsien. Jou kinders is nie stout of bedorwe as hulle snags naby julle wil wees nie. Hulle is klein en hulpeloos en het dag en nag jou liefde en aandag nodig. Hulle sal mettertyd minder afhanklik raak en jy sal dalk later met nostalgie aan hierdie dae terugdink."
Suster Lilian sê ook 'n gesinsbed werk as 'n kitsmedium vir aanrakingsterapie. "Babas gedy op aanraking, hulle groei beter, het 'n sterker immuunstelsel en openbaar minder angstige gedrag. Terapeutiese aanraking behels gewoonlik massering, maar blote liggaamlike nabyheid is ewe voordelig. As baba knus tussen ma en pa lê, geniet sy heelnag hierdie voordeel. Aangesien ouers dikwels heeldag werk, is dit die ideale oplossing."
Suster Lilian sê nog 'n rede om 'n gesinsbed te oorweeg, is omdat dit doodeenvoudig lekker is! "As jy kan leer om dit te geniet, 'n gerieflike slaapposisie vind en jou nie aan al die streng kinderopvoeders steur nie, gaan jy dalk wonder hoe julle ooit tevore sonder jul baba kon slaap."
Daar is nie eintlik 'n reg en verkeerd as dit by dié vraagstuk kom nie, sê Erica Neser, skrywer van Slaapgids vir babas en peuters. "Wat vir een gesin reg is, is dalk vir 'n ander verkeerd. 'n Mens moet na elke gesin se individuele behoeftes en omstandighede kyk. Ouerskapstyl, die aantal kinders en almal se geaardhede speel ook 'n rol.
"Dit is net die gesin self wat kan besluit wat vir hulle werk, maak nie saak wat ander mense dink nie."
As baba by julle slaap
Erica sê die algemene aanbeveling is dat babas minstens die eerste ses maande in hul ouers se kamer slaap omdat dit die risiko van wiegiedood verlaag. "Dit maak ook sin vir baba om binne armafstand van jou af te slaap sodat jy maklik kan uitreik, aanraak en troos sonder om op te staan. Jou baba kan dus aanvanklik in 'n stootwaentjie of bababedjie reg langs jou bed slaap of in 'n bababed wat aan die groot bed vasgemaak is en relings aan die drie ander kante het. Dit gee vir jou baba 'n aparte slaapoppervlak, maar genoeg plek vir ma en baba en baba is steeds lekker naby en voel veilig." A
s ouers hul baba in hul bed wil laat slaap, is daar ook "nessies" wat in die middel pas waar die baba 'n aparte oppervlak en eie komberse het, sê Erica.
"Baie mense waarsku dat die gesinsbed gevaarlik is, maar die gevolg van hierdie waarskuwing is dat baie ma's op 'n rusbank of stoel gaan sit om in die nag te borsvoed. Die ma wil voorkom dat sy met baba in die bed aan die slaap raak, maar dan raak sy en baba op die bank aan die slaap en dis baie gevaarliker as 'n bed."
Suster Lilian het die volgende wenke:
- Sit alles wat jy in die nag nodig kan kry langs jou bed reg sodat jy glad nie hoef op te staan nie.
- Leer om te lê en voed met jou baba teen 'n kussing gestut of plat op die bed.
- Jy kan in die eerste paar weke selfs net daar in die bed doeke omruil met die minste moontlike moeite, tensy baba 'n luieruitslag het.
- Moenie helder ligte aanskakel nie en probeer om self nie nugter wakker te word nie.

Maar wat van my man?
Een van die grootste oorwegings by ouers is hoe 'n gesinsbed die band tussen hulle sal raak.
Die bekende seksuoloog dr. Elmari Mulder Craig draai nie doekies oor die onderwerp om nie. Sy sê reguit dat babas en kleuters nie in hul ouers se bed hoort nie, aangesien dit die ouers se sekslewe omkrap. "Bababottels en kinderspeelgoed hoort ook nie in 'n paartjie se slaapkamer nie. Dit is belangrik dat jou slaapkamer 'n sensuele en rustige atmosfeer het," sê Elmari.
Maar sal 'n baba in jul bed noodwendig jul verhouding benadeel?
Erica sê dit verskil van gesin tot gesin. "Net ouers kan besluit of die baba in die bed of kamer 'n negatiewe uitwerking op hul verhouding het.
" Ouers moet ook besef dat die geboorte van 'n baba - of die baba nou in die bed, kamer of sy eie kamer slaap - buitendien die verhouding ingrypend kan verander en dat albei ouers groot aanpassings sal moet maak.
" 'n Mens moet dus versigtig wees om 'n baba in die bed alleen die skuld te gee as die verhouding swaarkry.
"As 'n paartjie se verhouding goed is, sal hulle plek en tyd vir mekaar maak, waar en wanneer ook al. Die babakamer is tog verlate, nie waar nie?"
ONTHOU
Jou kinders is nie stout of bedorwe as hulle snags naby julle wil wees nie. Hulle is klein en hulpeloos en het dag en nag jul liefde en aandag nodig.
DIE GESINSBED SE VOORDELE
Erica sê
- Niemand hoef snags op te staan nie en dis veral in die winter gerieflik.
- Jou baba voel knus, warm en veilig.
- Ouers voel gerus oor hul baba, want sy is reg langs hulle. As sy haar komberse afskop, kan sy net weer toegetrek word.
- Vir party babas is die gesinsbed die enigste plek waar hulle werklik goed slaap.
- As jul gesin elders oornag, sal jou baba waarskynlik nie baie ontwrig word nie, want jy is mos daar.
- Baba kan self 'n bietjie aan ma drink net wanneer sy wil sonder om regtig vir ma heeltemal wakker te maak.
- Dit kan die band tussen ouers en baba versterk.
- Dit bevorder borsvoeding, verhoog melkproduksie en onderdruk ovulasie.
- Dit verminder die aantal kere wat baba in die nag huil.
- Wanneer ouers kies dat baba by hulle slaap, is dit oor die algemeen 'n positiewe ervaring vir albei ouers.
DIE GESINSBED SE NADELE
Erica sê
- Ouers kan dalk sleg slaap met 'n baba tussen hulle. Party babas skop en swaai hul arms en maak baie geluide terwyl hulle slaap.
- Ouers se bewegings kan die baba steur.
- Ouers kan 'n verlies aan privaatheid en intimiteit ervaar.
- Party babas is geneig om meer gereeld te wil borsvoed as wat hul ma sou verkies.
- Navorsing het getoon dat die verloop tussen voedings 90 minute is vir 'n baba wat by haar ma slaap, teenoor 180 minute vir 'n baba wat alleen slaap.
- Selfs die grootste voorstanders van die gesinsbed erken dat dit die beste werk met een kind op 'n slag. Dis glad nie so maklik met twee of meer nie!
- Dit kan moeilik wees om 'n baba wat aan jul bed gewoond is, die nag by 'n oppasser te laat.
- Jul bed kan gou te klein voel en julle sal dalk 'n groter bed moet koop.
Dit was lekker, maar nou's dit verby
Daardie oulike baba in jou bed word gou groot en ontwikkel in 'n eiewyse kleuter wat op haar plekkie in jou bed aandring - gewoonlik die grootste stuk! Hoe gemaak as lekker nie meer lekker is nie en julle haar wil skuif?
Marna du Toit van Johannesburg het haar dogtertjie op net jonger as drie jaar oud na haar eie kamer laat trek. "Dit was 'n proses, maar ons het haar kamer so mooi en gerieflik moontlik gemaak en haar heeltyd positief gemotiveer om daar te slaap. Sy het 'n hele ruk in die nag na ons toe gekom, maar ons was rustig daaroor.
"Vandag slaap sy heerlik in haar eie bedjie. Ek moet bieg dat ons albei daardie klein warm lyfie in ons bed gemis het, maar dit is net heerlik om weer ordentlik te kan lê en nie meer met 'n toon in die neus wakker te word nie!"
As jy soos Marna dié stap wil doen, het Erica goeie raad:
- Wees daarop voorbereid dat jou kind dalk nie van hierdie nuwe plan gaan hou nie.
- Gee haar kans om vir kort rukkies in haar nuwe bed te speel om aangename assosiasies daarmee te vorm.
- Skuif haar só: Laat haar eers in haar eie bed langs jou bed slaap. Wanneer sy dit aanvaar, kan jy haar bed bietjie vir bietjie wegskuif. As jy die skuif in een enkele stap doen, moet jy jou kind baie ekstra liefde en versekering gee. Wees geduldig en voorbereid op 'n paar slegte nagte.
- Jy kan 'n matrassie onder jou bed hou en as jou peuter in die nag na jou kamer kom, kan jy dit uittrek en haar tot opstaantyd daar laat slaap.
- As jy jou kleinding uit jou bed na haar eie kamer wil skuif, laat haar eers op haar eie matrassie langs jou bed slaap. Daarna kan jy haar matras na haar eie kamer skuif. 'n Ander plan is om by haar in haar kamer te slaap tot sy aan die kamer gewoond is; daarna skuif jy jou geleidelik uit.
- Gee jou peuter 'n dowwe nagliggie en wys haar hoe om dit self aan te skakel.
- Party gesinne gebruik 'n "kinderbed" waar 'n peuter saam met 'n ouer boetie of sussie in 'n dubbelbed kan slaap.




















