BABA | Maak só met brandboudjies

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Jou baba se vel is uiters sensitief. Boonop is dit vogtig in die babadoek en bevat jou kleinding se piepie en poef allerhande chemikalieë wat haar vel kan irriteer. Die geskaaf van die doek self kan ook lastig word. Dis dus geen wonder dat dié dele soms tot velprobleme geneig is nie.

HET JY GEWEET?

As luieruitslag jou baba herhaaldelik pla, beproef 'n ander soort babadoek. Sy kan moontlik reageer op ‘n stof in die doek wat haar vel irriteer.

Voorkom brandboudjies so

  • Ruil baba se doek gereeld om, veral nadat sy gepoef het.
  • Vee haar vel goed af om alle reste te verwyder. Skoon water is goed genoeg, of gebruik afveedoekies wat geen alkohol of geurmiddels bevat nie. Maak die plekkie goed droog voor jy 'n nuwe doek aansit.
  • Maak seker dat die doek nommerpas, eweredig en gemaklik sit sodat dit nie gaap, knyp of skaaf nie.
  • Vermy sterk sepe, geurmiddels en chemikalieë wat jou baba se vel kan irriteer. Hou bad- en doekruiltyd so eenvoudig en prikkelvry moontlik.
  • Wend 'n boudjiesalf aan wat 'n beskermende laag tussen jou baba se vel en die urine in die doek kan vorm. Petroleumsalf is 'n gewilde alledaagse voorsorgmaatreël teen luieruitslag omdat dit nie taai is of mors nie. Wit sinkoksied is dikker en taaier en dalk 'n beter opsie vir babas wat geneig is tot luieruitslag. Babapoeier word deesdae nie meer so gereeld gebruik nie uit vrees dat dit die longetjies irriteer. Mieliemeel, 'n bekende boereraat, word nie aanbeveel nie omdat dit swamgroei kan veroorsaak.

Ligte uitslag

Maak nie saak hoe skoon en droog jy jou baba se boudjies probeer hou nie, luieruitslag is so te sê gewaarborg. Wanneer jy die eerste tekens van 'n uitslag sien, begin onmiddellik met behandeling om die plekkie te streel en te versorg. Was dit sagkens - moenie vryf nie, gebruik eerder 'n beker, spuitnaald met water of tuitbottel om urine of stoelgang mee af te was. Druk die area liggies droog sonder om te vryf. Dit sal 'n groot verskil maak as jy dit eers deeglik droog laat word. Indien moontlik kan jy jou baba op haar magie laat lê sonder 'n doek of boudjiesalf sodat die boudjies lug kan kry. Doen dit 'n paar keer per dag. Moet net nie vergeet om eers 'n mat of handdoek onder haar neer te sit nie. Jy kan kies en keur tussen salwe vir luieruitslag. 'n Goeie oor-die-toonbank-salf behoort 'n ligte, normale uitslag hok te kan slaan. Vra gerus jou apteker of klinieksuster om iets aan te beveel.

WENK

Anders as wat jy dalk gehoor het, het gewone luieruitslag meestal niks met voedselallergieë te doen nie. Moet dus nie kossoorte begin uitskakel nie.

Probleemuitslag

'n Ligte luieruitslag kan jou baba dalk knieserig maak, maar behoort met behandeling vinnig te verdwyn. Komplikasies kan intree wanneer die vel, wat reeds deur die uitslag beskadig is, binnegedring word deur bakterieë of gis. Dit is dan dat die uitslag vererger en jy moeiliker daarvan ontslae raak. Wanneer jy met hierdie hardnekkige en meer kommerwekkende luieruitslag te doen kry, moet jy onthou dat hulle nie almal dieselfde is nie. Hul oorsake verskil en elkeen word anders behandel. Daar is subtiele verskille wat jou in staat sal stel om die spesifieke luieruitslag te identifiseer sodat jy die regte produk kan kies om dit mee te behandel. Hier volg 'n gids vir die algemeenste soorte luieruitslag, hul oorsake, simptome en behandeling.

  • GISUITSLAG Hierdie uitslag, ook bekend as sproei of kandidiase, kom voor wanneer swamdeeltjies die gebarste vel binnedring. Dis 'n algemene nadraai wanneer baba 'n antibiotikum gebruik het of as gewone brandboudjies langer as normaalweg duur. Soek na 'n rooi, verhewe, vlekkerige uitslag met 'n duidelike rand, meestal oor die geslagsdele, maar met satellietvlekke om die doekarea versprei. Die uitslag begin as klein, rooi kolletjies wat vermeerder en uiteindelik aan mekaar vasgroei. Hierdie uitslag kan jou baba se vel uiters gevoelig maak en haar baie olik laat voel. Behandeling 'n Teenswambehandeling is nodig om die uitslag onder beheer te kry. Nistatien en klotrimasool is twee middels wat oor die toonbank beskikbaar is. Wend die room soos voorgeskryf twee keer per dag aan en wend die boudjiesalf bo-oor aan. 'n Natuurlike opsie is acidophilus-poeier, wat gisinfeksies teenwerk. As jy borsvoed en jou baba het sproei, sal jy jou self ook moet behandel. Wat dikwels gebeur is dat swaminfeksies oor en weer tussen ma se tepel en baba se mond versprei word. Julle sal albei behandeling nodig hê om heeltemal daarvan ontslae te raak.
  • SEBORREE is 'n velontsteking wat enige deel van die lyf kan aantas, maar dit kan in die doekarea veral aggressief wees. Soek na 'n groot, rooi, duidelik afgebakende vlek oor die geslagsdele, lies en onderbuik. Dit kan dalk meer verhewe, grof, dik en olierig wees as ander soorte uitslag en kan gelerige rowe vorm. Behandeling Salf met 1% hidrokortisoon is baie doeltreffend hiervoor. Wend dit twee keer per dag aan, maar moet dit nie langer as 'n week gebruik nie omdat dit uiteindelik die vel kan beskadig.
  • 'N ALLERGIE-RING kan deur sekere kossoorte veroorsaak word wanneer dit in jou baba se poef uitgeskei word. Suurvormende kos soos sitrus en souse met 'n tamatiebasis is van die grootste sondaars. Anders as wat jy dalk gehoor het, het gewone brandboudjies niks met kosallergieë te doen nie - moet dus nie kossoorte begin uitskakel as jou baba net luieruitslag het nie. Raadpleeg liewer jou dokter as jy dié uitslag opmerk. Soek na 'n rooi ring om baba se anus. Behandeling Skakel enige kossoort uit wat jy vermoed 'n rol kan speel. As jy borsvoed, sal jy dalk sekere kossoorte uit jou eie dieet moet skakel, maar borsbabas ontwikkel selde 'n allergie-ring. Dit is meer algemeen by bottelbabas en wanneer babas vaste kos begin eet.
  • IMPETIGO kom voor wanneer sekere bakterieë (strepto- of stafilokokkusse) gebarste vel binnedring. Dit is taamlik aggressief en kan vinnig na ander dele van baba se lyf versprei. Die uitslag kan letsels laat as jy dit nie onmiddellik behandel nie. Soek na blase of rooi, verhewe vlekke wat 'n heuningkleurige kors uitstoot. Behandeling Raadpleeg jou dokter so gou moontlik. Hy sal die nodige antibiotiese salf of mondelikse antibiotikum voorskryf.
  • KONTAK-LUIERUITSLAG is die algemene, ligte luieruitslag waarna vroeër in die artikel verwys is. Soek na plat, rooi geïrriteerde dele op die vel. Wanneer die uitslag baie erg is, sal die vel afdop of blase vorm en afval. Behandeling Hou die area skoon, goed droog en wend 'n goeie luieruitslagroom aan.
  • INTERTRIGO is 'n uitslag wat ontstaan in die voue van die vel om die doekarea waar dele van die vel teen mekaar skuur. Soek na 'n uitslag met 'n rooi voorkoms in die voutjies wat soos brandmerke lyk. Behandeling Gewone wit salf met 'n petroleumbasis.

DOKTER TOE!

Brandboudjies is werklik algemeen en selde 'n rede tot paniek. Wanneer die uitslag egter aanhou en gereelde behandeling nie werk nie, moet jy 'n deeglike diagnose en voorskrif by die dokter kry. Die kans is dan goed dat daar 'n bakteriese of swaminfeksie bestaan. Die uitslag kan pyn en ongemak by jou baba veroorsaak, maar wanneer dit gepaardgaan met ander simptome soos koors of rusteloosheid, of as die merkies op 'n ander deel van baba se lyf uitslaan, moet jy die dokter raadpleeg.

SPELETJIES VANDAG

CTA