Ouerskap is 'n wonderlike ding. Voor jy jou eie baba het, kan jy jou dalk glad nie indink hoe jy ooit 'n doek geruil gaan kry nie. Jou instink om jou baba te versorg, is egter veel sterker as enige negatiewe gevoelens wat jy vooraf kan hê. Al waaroor jy later omgee, is dat jou baba skoon en gemaklik moet wees. Dis 'n bevredigende gevoel om in jou brose klein mensie se behoeftes te kan voorsien. Selfs die allerverskriklikste doek word later maar net 'n snaakse storie. Hier is ons raad om jou te help oorleef en floreer …
Poef - wat jy kan verwag
Pasgeborene Jou nuwe baba se eerste poef noem 'n mens mekonium. Dis swart en taai en taamlik moeilik om skoon te maak, ook omdat jy nog onseker voel oor hoe om jou baba te hanteer. Hou moed - dit word regtig baie gou gewoonte! Later moet jy oppas as jy jou baba se beentjies na sy magie toe opdruk, want dit kan 'n ontploffing tot gevolg hê.
Suigeling Goeie nuus! Borsbabas se poef ruik nie sleg nie en die effense reuk pla ouers nie juis nie. Dit word ook maklik skoongevee. Wees egter gewaarsku … wanneer jou baba begin tande kry, kan dinge vir 'n ruk rof raak wanneer die gewraakte tandedoek sy verskyning maak. Dis 'n groot, wilde, suur poefdoek wat onmiddellike aandag vereis sodat jou baba nie brandboudjies kry nie.
Ouer baba Wanneer jou baba kossies begin eet, verander sy poef weer eens baie. Die goeie nuus van hierdie stadium is dat jou baba waarskynlik minder kere per dag gaan poef. Die poef is stewiger en word dus makliker skoongemaak. Baie babas raak besonder voorspelbaar sodat jy selfs soggens kan wag voor julle uitgaan tot baba klaar gepoef het, of saans kan wag vir 'n aflewering voor jy baba in die bad sit.
Peuter Doekruiltyd word speeltyd! Jou kind wriemel, maar gelukkig is julle mos nou al bedrewe doekruilers. Hou interaksie speels en stresvry. Dink aan dié tyd as spesiale bindingstyd. Kyk gerus waar in die dag jy jou kind vir rukkies sonder 'n doek kan laat rondloop. Die vars lug is goed vir die vel. Jou kind kry dan ook kans om te ontdek wat gewoonlik in die doek gebeur, en dié bewuswording is een van die eerste treetjies op die pad na potjielesse. Omdat hedendaagse doeke soveel gemakliker is en beter funksioneer as die vorige generasie doeke, begin kinders ál later met potjielesse. Dis normaal. Moet jou dus nie te veel aan 'n ouma se geligte wenkbrou steur nie.
Merke, gereed, ruil
Voorbereiding is alles. Hier is nege wenke wat kan help:
- Hospitale voorsien nie doeke nie; maak dus seker jy neem genoeg saam wanneer julle die nuwe baba gaan haal.
- Kom dadelik in die gewoonte om jou doeksak altyd gepak en gereed te hou. Sodra julle tuis kom ná 'n uitstappie, moet jy weer doeke inpak. Te veel is beter as te min. Wat nog in die sak moet kom, is 'n afveebare oppervlak waarop jou baba kan lê (baie doeksakke het 'n ingeboude een), vogdoekies, waslap, lekkerruik-plastieksakkies, ontsmetsproei, boudjiesalf en ekstra klere vir jou baba. Hou sommer 'n ekstra voorraad in jou motor se kattebak ook - jy sal nooit spyt wees nie.
- Hou waterlose handreiniger in jou doeksak, handsak en motor sodat jy altyd kan seker wees jou eie hande is skoon, maak nie saak waar julle moes doek ruil nie.
- Sit 'n sneesdoekie oor jou babaseuntjie se penis sodra jy sy doek verwyder. Dis baie tipies dat seuntjies 'n straal piepie sodra hulle die vars lug voel en dan sit jy en baba heel moontlik met nat klere opgeskeep.
- Wees bewus daarvan dat te veel boudjiesalf nie 'n goeie ding is nie. Dit kan afsmeer aan die binnekant van die doek en dit veroorsaak dan dat die doek nattigheid nie meer so goed absorbeer nie.
- Dit gebeur met ons almal: Poef loop agter teen jou baba se rug uit. Juis om dié rede word babas se frokkies gemaak met 'n nek wat kan ooptrek sodat jy die frokkie na onder kan uittrek en nie die hele poefspul oor jou baba se kop moet oplig nie. Slim, nè?
- Gee terugvoer aan die bestuur van enige openbare plek waar jy al 'n doek geruil het, winkelsentrum of restaurant. Laat weet hulle as hul geriewe skoon en gerieflik is en vra vir 'n verbetering as die geriewe veel te wense oorlaat.
- Hou altyd 'n hand op jou baba, of julle nou tuis doeke ruil of iewers anders. Babas rol vinnig om en jy wil beslis nooit hê dat jou baba van die tafel afval nie. Dit is dus noodsaaklik dat jy die doekruilstasie tuis so inrig dat jy alles byderhand het.
- Maak die hele plek ná die doekruiling goed skoon sodat jy met die volgende sessie weet dat alles higiënies is.
Moenie aanvanklik te veel pasgeborene-doeke koop nie, want babas ontgroei daardie grootte taamlik vinnig. As jy doeke vir 'n swanger vriendin se babatee koop, belê ook eerder in die tweede grootte.
Kies die regte doek
Doeke werk volgens gewig, nie ouderdom nie. Wanneer doeke begin lek, is dit 'n teken dat jy na die volgende grootte moet oorskakel. As jy weet wat jou baba weeg, kan jy dié teken hopelik vermy.
Moenie aanvanklik te veel pasgeborene- doeke koop nie, want babas ontgroei daardie grootte nogal vinnig. As jy doeke vir 'n swanger vriendin se babatee koop, belê ook eerder in die tweede grootte. Dikwels kry nuwe ma's so baie pasgeborene-doeke present dat hulle dit nie alles kan opgebruik nie.
Broekdoeke is baie gemaklik, want dit voel en sit meer soos onderkleertjies. Onthou net dat wanneer jy dié doeke ruil, jy die kante oopskeur. Jy trek nie die vol doek af nie, want dit loop net op 'n gemors uit.
Jy wil 'n doek kies wat jou kind nêrens gaan druk of knyp nie. Jy wil tog hê jou kleinding moet altyd gemaklik genoeg voel om te kan rol en beweeg, want dis deur sulke fisieke spel dat hulle leer en ontwikkel.
Goeie absorpsie is ook 'n oorweging, want jy wil nie hê 'n nat doek moet jul kosbare nagrus onnodig versteur nie.
Peuters wat met potjielesse begin het, kan gemotiveer word om gouer te vorder wanneer julle oorskakel na broekdoeke, want dit laat hulle 'n bietjie ouer voel en gee hulle ook beheer om self op en af te trek as daar 'n nood is. Terselfdertyd word hulle nog beskerm in die geval van 'n glipsie.
Broekdoeke kan ook gebruik word om jou ouer kind meer soos 'n grootsus of ouboet te laat voel wanneer 'n nuwe baba kom. Só weet jou kind dat hulle 'n spesiale plek as oudste in die familie het. Die baba dra babadoeke, maar hulle dra broekdoeke omdat hulle ouer is.















