Bad, doek, voed, slaap.
Eet, doek, speel, slaap.
Bad, doek, voed, slaap.
Voed, doek, slaap.
Herhaal.
Herhaal.
Herhaal!
Jou behoefte aan volwasse geselskap en die verveling daarvan om dag in en dag uit presies dieselfde dingetjies te doen, laat 'n mens moeg en sonder inspirasie voel. Die prentjie begin egter anders lyk as jy verstaan dat hierdie alledaagse aktiwiteite jou geleentheid is om jou kind nou al 'n ongelooflike hupstoot in die lewe te gee.
Talle studies wys dat sensoriese stimulasie en emosionele betrokkenheid die grondslag van breinontwikkeling is, wat weer die platform skep vir alle ontwikkeling, emosionele intelligensie en dus ook langtermyn-sukses, sê Meg Faure, arbeidsterapeut en skrywer van die Baby Sense-reeks en stigter van die Play Sense- app. Dit is daarom van die hoogste belang dat jy in die vormingsjare elke sintuig stimuleer.
Ja, wat 'n baba voel, ruik, proe, hoor en sien help om breinpaadjies te vorm terwyl die brein ontwikkel en so nie net jou kind se brein nie, maar sy fisieke ontwikkeling ook verbeter.
Teen 'n kind se tweede verjaardag het sy brein tot 80 persent van sy volwasse gewig gegroei.
"Vanaf bevrugting tot twee jaar ontwikkel 'n mens teen 'n pas wat nooit weer herhaal word nie. Hierdie 1 001 dae gee jou die geleentheid om 'n ander mens se lewe te beïnvloed en te vorm ... Dit is 'n kosbare geskenk en 'n oorweldigende verantwoordelikheid," sê Meg.
Sy raai ouers egter af om net ál meer speelgoed en tegnologie in te span om kleintjies te stimuleer. Die fokus behoort te wees op eenvoudige speletjies en persoonlike aandag.
"Elke oomblik van baba se daaglikse versorging bied 'n geleentheid vir die verbetering van sensoriese betrokkenheid," sê Meg.
BADTYD
Badtyd is dikwels die enigste skermvrye tyd vir ouers en baba, wat dit regtig die ideale geleentheid maak om eksklusief op jou baba te fokus, sê Meg. 'n Mens weet dat badtyd gehaltetyd saam met jou baba is, maar jy besef nie altyd watter ideale ontwikkelingstyd dit ook bied nie.
Natuurlik is dit te verstane dat versorgers en ouers aan die einde van die dag net wens dat baba so gou moontlik kan gaan slaap, sodat jy kan rus, werk of ontspan, maar herinner jou aan die voordele van gehaltebadtyd.
"Stel baba aan 'n verskeidenheid teksture bloot waarmee sy kan speel en waaraan sy kan voel.
"Loofahs, sponse, waslappe en naelborsels het alles verskillende vorms en teksture," sê Liz Senior, ook 'n arbeidsterapeut en stigter van die Clamber Club.
Laat baba liggies van kant tot kant en heen en weer deur die water gly terwyl jy haar aanmoedig om te spat en te skop.
Dis vir haar heerlik om die beweging en die gespoel van die water om haar lyfie te voel. Praat oor elke liggaamsdeel terwyl jy dit was om liggaamsbewustheid verder aan te help.
Daar's 'n direkte verbinding tussen die reuksintuig en die limbiese stelsel, wat emosies help ontwikkel en herinneringe skep. 'n Kalmerende geur tydens badtyd het 'n positiewe uitwerking op ma én baba.
TYD VIR AANTREK
Die ideale tyd vir 'n lekker massering is ná 'n bad en net voor aantrektyd. Dis nou ook 'n goeie geleentheid om te gesels. Baba leer nuwe woorde terwyl jy oor die verskillende kledingstukke en liggaamsdele gesels, byvoorbeeld: "Kom ons trek jou kortbroek aan ... waar is jou voetjies … hier is hulle!"
"Rol jou baba liggies van kant tot kant op die doekruiltafel terwyl jy hom aantrek om sy gevoel van beweging te bevorder en hom aan te moedig om later self te rol. Hang ook bewertjies bo die tafel en voeg verskillende voorwerpe by om sy aandag te trek en hom visueel te stimuleer," sê Liz.
ETENSTYD
Voeding is 'n wonderlike tyd om oogkontak te maak en met jou baba te praat, terwyl mondelikse stimulasie en smaak ook ontwikkel.
"Wanneer jou baba gereed is om vaste kossies te begin eet, sal hy ook kan gryp en vat. Dit gee hom die kans om sy greep en fyn motoriese vaardighede oefening te gee met vingerkossies van alle vorms en groottes. Bloubessies is kleiner en verg 'n knypaksie met die vingers, terwyl appelstukke groter is en 'n volledige handgreep nodig het," sê Liz.
"Laat jou baba toe om met sy kos te speel en die teksture te voel. Waatlemoen is koud en sag, terwyl vla of pap warm en glibberig is."
DOEKE RUIL
Wanneer jy doeke ruil, moet jy bontstaan om baba op haar ruggie gelukkig te hou! Doen dit deur te sing, praat en lees en so verstandelike vaardighede te stimuleer.
"Boots baba se geluidjies na, wys jou gevoelens met jou gesigsuitdrukking en stemtoon, of praat oor haar omgewing," is Liz se raad.
Wanneer baba rustig en wakker is, is dit tyd vir massering. Gereelde, liefdevolle aanraking deur 'n liefdevolle versorger of ouer is belangrik vir groei, ontwikkeling, kommunikasie en leer. Dit gee selfs die immuunstelsel 'n hupstoot en help om jou baba te kalmeer.
Die tassintuig ontwikkel reeds teen 14 weke swangerskap en is die sintuig wat met geboorte die deeglikste ontwikkel is.
Die gevoel van aanraking is jou liggaam se grootste sensoriese stelsel, wat nie net insette van die hele vel ontvang nie, maar ook van binne die liggaam.
Aanraking is noodsaaklik vir die ontwikkeling van motoriese vaardighede, emosionele stabiliteit en leer. Daar is selfs bewyse dat te min aanraking die produksie van groeihormone aantas en stres laat toeneem.
Namate baba ouer word, sal sy graag speelgoed wat bo haar kop hang, gryp of trek. Hang speelgoed dus aan 'n rek sodat sy dit maklik nader kan trek. Maak seker al die deeltjies is styf aangeheg sodat dit nie in jou kleintjie se mond loskom nie.
REUK = STIMULEERDER VAN HERINNERINGE
- Reuke veroorsaak meer emosionele en lewendiger herinneringe as ander sintuie.
- Babas kan hul mamma net aan hul reuk herken.
- Heerlike, bekende geure kan hul bui verbeter en hulle opgewonde maak.
AANRAKING = 'N BOUER VAN VERBINTENIS
- Baba se eerste sensoriese stimulasie vind al plaas wanneer hy in die baarmoeder is.
- As embrio word sy vel en brein uit dieselfde laag gevorm.
- Roetine-aanraking en massering ontwikkel selfvertroue en empatie.
- Dit verbeter slaapgehalte en -duur.





















