WANNEER IS DIE REGTE TYD?
"Dit is 'n goeie idee om in die eerste ses weke ná baba se geboorte nie te veel uit te gaan nie om baba teen infeksies te be- skerm - tot die eerste inentings gedoen is," sê die babasorgkenner Ann Richardson.
Beperk uitstappies dus tot besoeke aan die kliniek. Vroeggebore babas moet selfs nog twee weke langer tuis gehou word, is die raad van Elsabé Brusser, 'n verpleegster, vroedvrou en eienaar van die organisasie Mother Instinct, wat voorgeboorteklasse in Kaapstad en Johannesburg aanbied. Vertrou gerus jou instink, sê Elsabé.
" 'n Ma sal weet wanneer die tyd reg is." Marianne Styan (35), 'n leser van Kaapstad, het haar sommer al tydens haar swangerskap voorgeneem om binne twee weke ná haar seuntjie, Alexander, se geboorte uit die huis te kom.
"Vrees kan jou vasgekluister hou aan die huis. 'n Mens kan ook maklik kajuitkoors kry met 'n baba en ek probeer minstens een keer elke twee dae uit die huis kom, al is dit net om te gaan stap," sê Marianne.
"Moenie te veel dink aan ‘wat as' nie," is haar raad. "Die meeste van my vrese het nooit waar geword nie. Ek het die eerste paar uitstappies kort gehou. 'n Mens ontwikkel selfvertroue en dit word makliker."
BEPLAN, BEPLAN, BEPLAN
Die dae van impulsiewe uitstappies is vir eers verby. "Ek het met 'n skok agtergekom die tyd gaan ‘vinnig' êrens heen. Dit het my 'n uur gekos voor ons op die ou einde uit die huis is," sê Marianne.
"Borsvoed, doek ruil, sak pak, baba in die stootwaentjie kry en self regmaak ... dit word darem alles later makliker." Marianne en haar ma wou niks aan die noodlot oorlaat nie en toe hulle kos bestel by 'n koffieplek, het hulle sommer vir die rekening ook gevra.
"Ek was erg op my senuwees, maar ons klein aapstert het so lekker geslaap, ons kon nog 'n paar minute rustig kuier." "Dit help om baba te voed en sy doek te ruil net voor jy in die motor klim, want dan het jy so twee uur terwyl jou baba slaap," sê Marianne.
WAT MOET EK VIR BABA AANTREK?
Onthou, gemak is vir jou pasgeborene belangriker as om 'n modestelling te maak. Lae klere wat jy kan aan- en uittrek is die beste. Kies kledingstukke van wol en katoen wat kan asemhaal.
"Wees versigtig vir vliesstof omdat baba die vlies kan inasem en te gou kan warm word," sê Elsabé. Volgens Ann is dit 'n goeie riglyn om vir baba een laag meer klere as vir jou aan te trek.
Kies in die somer 'n kortmoufrokkie met 'n liggewig-groeipakkie, hempie of rokkie. Hou ook 'n paar sokkies en katoentruitjie byderhand. Trek in die winter vir baba 'n langmoufrokkie aan met 'n warmer groeipakkie bo-oor en sokkies en 'n truitjie of jassie. Klein kousies val maklik af - trek dit onder die groeipakkie aan. Buite is mussies wat oor baba se ore getrek word nodig. Tensy dit 15 grade C of kouer is, moet baba nie binne 'n mussie dra nie.
"Die beste plek om te voel of baba te warm of te koud is, is agter in sy nek. As baba sweterig voel, kry hy te warm en as hy koel voel, kry hy koud," sê Elsabé.
PAK DAAI SAK
"Eerder paraat met jou doeksak as onvoorbereid vir die een of ander katastrofiese doekinsident," meen die Kaapstadse leser Celinda Marais (29), ma van Etienne. Onthou net jy is nie 'n sjerpa wat jou wil dood dra nie, sê Elsabé.
Sorg dat jy dié noodsaaklikhede byderhand het: doeke (een doek vir elke uur wat julle uit gaan wees); reukwerende plastieksakkies; vogdoekies; 'n doekruilmat; 'n ekstra stel klere vir baba en 'n bostuk vir jou ingeval baba opgooi; 'n hoedjie of mus; 'n ekstra kombersie of moeseliendoek en 'n foppie. Celinda sê 'n borsvoedingsdoek is onmisbaar.
" 'n Vriendin het vir my so 'n oulike lappie gegee wat jy om jou nek bind. Aan die bokant is 'n hoepeltjie ingewerk waardeur jy jou baba kan dophou."
KIES JUL BESTEMMING
Neem babatreetjies as die idee van 'n uitstappie jou senuagtig maak. Gaan stap om die blok met jou baba in 'n drasak of gaan kuier by 'n vriendin se huis waar jy op jou gemak sal voel, sê Elsabé.
Ann stel voor jy vermy in die eerste paar weke van baba se lewe besige, raserige plekke omdat sy immuunstelsel so kwesbaar is. Klanke, ligte en mense wat nuuskierig onder sy kombersie inloer is oorweldigend. Wanneer jy later meer selfvertroue met doeke ruil en borsvoed het, kan jy die winkels aandurf. Celinda en haar man, Etienne, het 'n bestemming naby aan hul huis gekies vir hul eerste uitstappie.
"Klein Etienne was vier weke oud toe ons die buitewêreld die eerste keer ingevaar het," sê Celinda. "Ons het besluit dis 'n goeie plan om die Canal Walk-winkelsentrum, 'n katspoeg van ons huis af, te besoek, sodat ons vinnig op die vlug kon slaan as ons sou moes.
"Ná weke in die knus kokon van die huis was dit lekker vir 'n sosiale mens soos ek om weer tussen mense, klanke, kleure en geure te wees. Ons het ontbyt geëet by 'n koffiewinkel en soos nuwe ouers trots gespog wanneer mense oor ons seuntjie gekoer het. Hy het stroopsoet geslaap."
KEN JOU TOERUSTING
Oefen voor jul eerste uitstappie om baba met gemak in en uit die stootwaentjie en karstoeltjie te tel sodat jy nie met gespes of ander meganismes hoef te sukkel nie. Elsabé beveel aan jy gebruik 'n drasak, buidelsak of stootwaentjie wanneer julle nié in die motor ry nie eerder as dat jy baba die heeltyd in sy karstoel hou.
"Dit is senutergend om vir die eerste keer agter die stuurwiel in te klim met 'n baba in die karstoel," sê Marianne. "Aanvaar maar vroeg-vroeg daar is absoluut niks wat jy daaraan kan doen as baba huil nie. Ek gee maar net baie liefde wanneer ons tuis kom."
NEEM 'N VRIEND SAAM
Ondersteuning tydens jou eerste uitstappie sal voorkom dat jy oorweldig voel, sê Elsabé. "My man se teenwoordigheid was van onskatbare waarde," sê Celinda. "Hy het my op my gemak en meer selfversekerd laat voel en die ekstra hande is van groot hulp as baba kriewelrig raak en die kelner pas jou ontbyt voor jou neergesit het."
HOU DIE HORLOSIE DOP
Jou eerste uitstappie moet net sowat 'n uur duur. "In die eerste paar weke kan babas net 'n beperkte hoeveelheid wakker tyd hanteer voor hulle knorrig en oorgestimuleer raak en weer moet slaap," sê Ann.
"Pasgeborenes kan sowat 45 minute hanteer en teen drie maande kan 'n baba sowat 90 minute hanteer. Dié tyd sluit voeding en versorging in, en dit laat nie veel tyd vir ronddrentel nie."
HELP! BABA IS HONGER
"My baba voed op aanvraag en ek het my dae lank opgewerk oor die vooruitsig om in die openbaar te borsvoed," sê Celinda. "Al bedek ek ons netjies, was ek bekommerd oor hoe mense sou reageer. Ek het 'n paar keer by die huis geoefen om voor kuiergaste te borsvoed sodat ek my senuwees kon tem.
"Klein Etienne het nie in die lekker warm koffiewinkel, waar ons effe versteek gesit het, skreeuhonger geword nie, maar reg in die middel van 'n besige loopgang in die winkelsentrum. Wat staan 'n ma te doen? Ek het op die naaste bankie afgepyl, baba onder die voedingslappie ingewurm en gevoed! Ek het skoon vergeet om selfbewus te voel en soos my man opgemerk het, het niemand eens twee keer in my rigting gekyk nie. My vrese oor borsvoed in die openbaar was toe gelukkig heeltemal ongegrond."
Wenke wat help
Verken terwyl jy nog swanger is babavriendelike bestemmings waar jy kan borsvoed en waar daar skoon plekke is om 'n doek te ruil.
Beskerm baba teen siektes deur sy stootwaentjie met 'n ligte doek te bedek wanneer julle na besige plekke gaan, maar sorg dat die waentjie nie oorverhit nie.
As jy met baba buitentoe gaan, moet jy seker maak die son is nie te skerp nie. Sonskerm is nie goed genoeg nie. Direkte sonlig is warm en kan brand.





















