Ouerskap

Baba se refluks: ’n Groot gewroeg oor spoeg

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty/Gallo Images
Getty/Gallo Images

Is jy een van daai ouers wie se baba dag en nag sonder rede huil en oomblikke ná badtyd weer na suur melk ruik? Jy is nie alleen nie. Die helfte van alle babas jonger as drie maande spoeg elke dag. Dis natuurlik waarom pa's en ma's met klein babatjies éérs die spoegdoek optel en dán die baba.

Wat is refluks?

Wanneer melk of kos wat in die maag is tot in die slukderm opstoot, noem ons dit refluks. Regurgitasie ontstaan wanneer hierdie teruggespoelde melk tot in die mond en selfs by die mond uitkom.

Refluks is niks ongewoons nie. Dit gebeur normaalweg sommer 'n paar keer per dag met gesonde babas, kinders en grootmense; gewoonlik ná ete. Die meeste mense weet nie eens dat dit gebeur nie. Regurgitasie is meer algemeen by babas omdat hul slukdermpie nog so kort is, maar kom teen sowat 12 maande vanself reg.

As 'n baba se liggaam hom nie self teen die gewone uitwerking van refluks kan beskerm nie, ontstaan reflukssiekte. Dit beteken dat die refluks meer gereeld is en langer duur as normaalweg en probleme veroorsaak.

Refluks en regurgitasie is dus normaal en jy hoef nie dokter toe te gaan daaroor nie, maar reflukssiekte moet behandel word. As jou baba spoeg, maar mooi groei en gelukkig is, is daar niks om oor bekommerd te wees nie.

Dokter toe

Jou dokter sal vra wanneer die gespoeg begin het en hoeveel dae en hoeveel keer per dag jou baba spoeg. Hy sal ook jou baba se groei nagaan, uitvra oor voedings en soek na tekens van infeksie van die slukderm.

Vertel hom ook van enigiets anders wat jy opgelet het, soos as jou baba bloed opbring, donker stoelgange het, meer as gewoonlik huil, moeilik asemhaal, koors het of lusteloos is. In sommige gevalle sal jou dokter jou baba laat opneem om toetse te doen wat sal help vasstel of die refluks normale perke oorskry.

Hoe om jou baba te help

  • Voed minder en meer gereeld Gee jou baba kleiner hoeveelhede voedings, maar meer gereeld. Probeer jou baba ook altyd half regop hou wanneer jy hom voed.
  • Vryf die winde uit Winde kan die melk maklik laat uitkom. Vryf dus windjies gedurende en ná voedings versigtig uit sonder om druk op haar magie te sit. Laat haar op jou been sit eerder as dat sy oor jou skouer hang en vryf haar ruggie.
  • Hou baba regop Hou jou baba direk ná 'n voeding sowat 'n halfuur lank so stil as moontlik en regop. Ruil haar doek dus liewer voor 'n voeding as agterna, en maak seker dat die doek nie te styf om haar magie span nie.
  • Sit haar op haar magie Die refluks kan minder wees as sy op haar maag pleks van haar rug lê. Moet jou baba egter nooit op haar maag of sy laat slaap nie, want dit verhoog die gevaar van wiegiedood. Magie­tyd terwyl sy wakker is, is veilig.
  • Skuins lê met slaaptyd Laat haar teen 'n skuinste slaap. Lig die koppenent van haar bedjie effens; dit kan dalk help. Belê in een of twee skuins kussings waarop jou baba kan slaap om haar bolyf op te lig.
Getty/Gallo Images
Getty/Gallo Images

HET JY GEWEET?

'n Karstoeltjie is nie die beste plek vir 'n baba met refluks nie, aangesien die posisie waarin jou baba is refluks aanmoedig. Hou haar dus net in die karstoeltjie terwyl julle ry en nie ander tye nie.

Moet ek ander melk gee?

Die hoeveelheid wat jou baba spoeg, lyk gewoonlik vyf keer meer as wat dit is. Al lyk dit dus of sy alles opgegooi het, is dit waarskynlik net 'n bietjie.

Een van die eerste dinge wat jy kan verander is om minder melk op 'n slag te gee, maar meer gereeld. Gee melk op aanvraag, soos 'n bietjie elke twee uur pleks van groter hoeveelhede elke vier uur.

In sommige gevalle kan 'n koeimelk­allergie ook regurgitasie veroorsaak. As jy borsvoed en jy vermoed koeimelkallergie is die probleem, kan jy twee tot vier weke lank alle suiwel uit jou dieet skakel en kyk of baba minder opbring. Vroue wat nie borsvoed nie, sal 'n spesiale borsmelkvervanger moet gebruik om dieselfde toets te doen. 'n Dieetkundige of jou pediater kan daarmee help. As dit nie beter word nie, is suiwel nie die oorsaak nie en kan dit weer ingesluit word.

As jou baba reflukssiekte het, kan dit help om die voedings te verdik. Vra jou pediater daaroor. Jy gaan dit net voor die voeding doen omdat die ensieme in die borsmelk dit ná 'n paar minute weer dun sal maak. As jou baba reeds 'n borsmelkvervanger drink, kan jy 'n spesiale anti­-regurgitasie- (AR-) soort oorweeg.Bespreek dit egter eers met jou dokter.

Verdikte melk sorg wel dat minder melk by jou baba se mond uitstroom omdat dit nie so hoog in die slukderm kan opbeweeg nie. Navorsing wys egter dat die melk nie minder kere in die slukderm sal opstoot nie, en die suur melk kan selfs langer in die slukderm bly. Dit gaan dus nie in alle gevalle die probleem oplos nie.

As die slukderm te veel gebrand word, sal die dokter medisyne voorskryf wat die suur in die magie verminder sodat die melk wat opstoot, nie so brand nie.

Hoe weet ek my baba het reflukssiekte?

Een van die algemeenste tekens van reflukssiekte is 'n baba wat baie spoeg. Dit alleen beteken egter glad nie dat sy reflukssiekte het nie.

As hierdie gereelde gespoeg veroorsaak dat jou baba nie genoeg gewig aansit nie, infeksie in haar slukderm kry, of soveel pyn het dat sy buitengewoon baie huil of selfs voedings weier, het sy reflukssiekte. 'n Baba met reflukssiekte kan ook baie prikkelbaar wees, hoes of haar ruggie krom trek van die pyn.

Alle babas met reflukssiekte spoeg egter nie, en dit kan dus gebeur dat sy nooit spoeg nie en tog hierdie komplikasies ontwikkel. Moet dit eerder nie self diagnoseer nie. As jy vermoed jou baba het reflukssiekte, moet jy liewer 'n pediater raadpleeg.

Hou moed

Die meeste babas wat spoeg is gelukkig en kry geen probleme nie. Net 'n klein persentasie ontwikkel reflukssiekte, die ander moet net vasbyt! Dit is nie altyd maklik nie, maar met genoeg ondersteuning sal jy maklik daardeur kom. Gaan drink tee saam met ander ma's wat ook babas het wat baie spoeg. Net die wete dat daar iemand anders is wat dieselfde as jy deurmaak, sal jou gemoed goed doen.

Wanneer jou baba begin eet, sal sy heelwat minder spoeg. Dit voel dalk nou soos 'n ewigheid, maar die spoegfase gaan sommer vinnig verby.

Wanneer is 'n operasie nodig?

As 'n heel laaste uitweg kan babas met reflukssiekte geopereer word.

Voor 'n operasie oorweeg word, moet die reflukssiekte so erg wees dat dit baba se groei inkort, hewige ongemak veroorsaak en tot lewensbedreigende aspirasie kan lei. (Aspirasie vind plaas as die vloeistof wat in die slukderm opstoot, ingeasem word en in die longe beland.)

Die operasie is betreklik eenvoudig en behels dat die boonste deel van die maag styf om die slukderm gevou en vasgeheg word. Dit staan bekend as fundoplikasie of die sogenaamde Nissen-prosedure.

Stille refluks

Stille refluks kom net by jong babas voor. Hulle het refluks, maar gooi nie melk op nie.

Verskeie pediaters en spesialiste in die veld van baba- en kindergesondheid is dit eens dat die hoofsimptome van stille refluks 'n aanhoudende, ontroosbare gehuil is; hewige ongemak en prikkelbaarheid; 'n ruggie wat agter­oor beur; voeding- en slaapprobleme, moontlik gereelde longinfeksies, 'n gereelde gehik of aanhoudende gehoes; 'n voortdurende gesluk; slegte asem of asem wat suur ruik; 'n verstopte neus amper asof hulle 'n ligte verkoue het; of 'n skielike geskree. Hierdie babas word dikwels ook skreeuend wakker.

Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM