BABA | Sewe slim speletjies

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

1. Sing en klets

'n Vrolike gekletsery, singery en verskillende gesigsuitdrukkings is wonderlike visuele en ouditiewe stimulasie vir jou baba. Dink aan liedjies sing, rympies opsê, boekies lees en musiek luister.

Behou goeie oogkontak tydens al dié aktiwiteite aangesien dit belangrik is vir spraak-, taal- en sosiale ontwikkeling. Beweeg ook rond terwyl jy sing sodat jou baba jou met haar oë kan volg en haar visuele veld kan ontwikkel, net soos met kiekeboe.

2. Massering

Gereelde massering van jou baba se lyfie stimuleer nie net haar tasstelsel nie, maar help ook met liggaamlike bewuswording en is wonderlik vir binding tussen ma en baba. Gebruik ferm masserings, rol haar lekker styf toe met 'n kombersie of handdoek en druk lekker diep op die lyfie. Speel ook met sponsies en skuim in die bad.

3. Magietyd

Al verpes baie babas dit om op hul maag te lê, is magietyd baie belangrik. Kort rukkies op die maag is goed vir die ontwikkeling van haar nek- en rugspiere en help met latere aktiwiteite soos sit, kruip en loop. Plaas jou baba op haar magie op 'n speelmat of kombersie en speel saam deur plat op jou eie maag voor haar te lê sodat sy jou gesig kan sien. Glimlag, klets en sing vriendelik vir haar.

Jy kan ook 'n paar van haar gunsteling-speelgoed of 'n spieël voor haar plaas. Hou haar twee of drie keer per dag sowat drie tot vyf minute in dié posisie.

4. Perdjie galop

Sit met jou baba op jou skoot en laat haar op jou bene wip terwyl jy 'n bekende liedjie sing soos "Hop, hop, hop, perdjie loop galop" of "Yankee Doodle".

Wanneer jy op 'n bepaalde plek in die rympie kom, kan jy haar agteroor met jou hande agter haar kop laat sak. Sy sal leer om die beweging te verwag en haar rompbeheer sal aangemoedig word.

Vestibulêre stimulasie (beweging) is belangrik vir die ontwikkeling van balans, spiertonus en motoriese beplanning.

Onthou net, baie babas voel bedreig as hulle agtertoe kantel omdat hulle nie kan sien wat agter hulle gebeur nie. Hou die speletjie aanvanklik dus maar kort.

5. Kiekeboe

Dié speletjie, ook bekend as "waar's hy? daar's hy!" het geen bekendstelling nodig nie en is belangrik vir sosiale en emosionele ontwikkeling. Dit is die begin van heen-en-weer-interaksies tussen jou baba en iemand anders. Dit versterk haar visuele veld en prikkel haar sin vir humor. Boonop leer die speletjie haar meer van voorwerppermanensie, oftewel die idee dat iets (jou vriendelike gesig) steeds bestaan, al kan sy dit nie sien nie.

6. Swaai swaai riepa

Swaai jou baba in 'n kombers heen en weer met ritmiese swaaibewegings. Hou ná 10 tellings op en begin dan weer swaai. Herhaal, maar moenie te lank aanhou nie. Dit help met motoriese en sensoriese ontwikkeling en vorm die grondslag van jou baba se ruimtelike oriëntasie sodat sy sin van haar wêreld kan maak. 'n Ouer baba wat al goeie balans het, kan op 'n kombersie sit en stadig vorentoe getrek word. 'n Kartonboks werk ewe goed.

7. Morsjors

Babas mag maar met hulle kos speel - dit is 'n wonderlike manier van verkenning en berei hulle vir meer vaste kossoorte voor. Plaas 'n skinkbord voor jou baba in haar eetstoeltjie en gee eers een, dan twee of drie kossoorte waarmee sy kan speel. Oorweeg fyngemaakte pampoen of jogurt (nat), droë pap of strooisels (droog) of iets taais soos konfyt. Gee ook vir haar 'n teelepel waarmee sy die kos kan rondstoot. Moedig haar aan om aan alles te raak, met 'n oop handjie te smeer of met een vinger te "teken". Onthou, die idee is verkenning en stimulasie van die tassintuig - en dalk toevallig smaak ook.

Speelgoed wat werk

  1. Bordboekies bied van kleins af stimulasie en help om babas se taal en woordeskat te ontwikkel. Kyk uit vir vat-en-voel-boekies met 'n verrassing op elke bladsy of skaf 'n wurmhandpop aan wat saamlees. Balle van verskillende gewigte, teksture en vorms verskaf hope pret.
  2. Balle wat vanself onvoorspelbaar beweeg, laat babas lag en moedig hulle aan om te beweeg. As jou baba nog nie kan kruip nie, kan jy haar in 'n afgebakende area neersit sodat die balle na julle terugkom. Verskillende groottes leer haar om met een of albei hande met verskillende grepe op te tel en om te rol en gooi.
  3. Badspeelgoed Die meeste babas geniet badtyd en dit is 'n wonderlike tyd vir rustige verkenning aan die einde van die dag. Gryp sommer 'n paar items uit die kombuis soos plastiekbekertjies vir skink, 'n tregter en 'n paar goed wat kan dryf en sink. Verskillende sponse en waslappe is ook oulik vir die bekendstelling van nuwe teksture.
  4. Ratels bly 'n kanniedood as dit by babaspeelgoed kom, want dit leer hulle oor oorsaak en gevolg: As jy iets beweeg, gebeur iets. Dit help ook om te oefen om te gryp. Kyk uit vir verskillende vorms en groottes wat oulike geluide maak.
  5. Speelgoed met teksture soos aktiwiteitsmatte, lussielappies met verskillende teksture en ander speelgoed help met die ontwikkeling van die gryp-aksie asook tasstimulasie.
  6. Ballonne en sagte balle help met die ontwikkeling van jou baba se visuele veld as sy dit dophou om te sien waarheen dit gaan. Sy sal dit ook probeer volg as sy al seil of kruip.
  7. Stootkarretjies of skopfietsies is groot pret vir babas wat begin staan en stap - maak seker dit is stabiel genoeg om veilig vorentoe gestoot te word. Stabiele bokse kan ook swaarder gemaak en dan vorentoe gestoot word.
Beatrice Moore-Nöthnagel

SPELETJIES VANDAG

CTA