BABA | Slaap salig

Getty Images
Getty Images

Die brein is allermins afgeskakel wanneer jou baba slaap. Hierdie ure van rus is wanneer daar fluks geliasseer word aan die hele vorige wakker tyd se gebeure en ervaringe.

En onthou, vir 'n baba is die wêreld volkome nuut en stimulerend - en soms oorweldigend. Daar is baie wat so 'n klein mensie moet verwerk.

Terwyl ons slaap, word verskeie hormone soos groeihormone, testosteroon, melatonien en prolaktien, asook serotonien afgeskei. Die werk wat al hierdie stowwe in die liggaam verrig, help jou kind se lyf om te groei en te ontwikkel. Dit ondersteun geheue, metabolisme en 'n stabiele gemoed.

Navorsing wys die bloedvloei na 'n baba se brein verdubbel in die aktiewe slaapstadium. Self hul hare, naels en vel groei en herstel tydens slaap. Alles van jou baba se spiere tot hul skelet ontwikkel terwyl hulle slaap. Dit is dus baie belangrik dat hulle so min slaapprobleme moontlik het. Slaap is goed vir babas en noodsaaklik vir hul allerbeste ontwikkeling.

Snork jou baba?

Die oorsaak is moontlik vergrote mangels of neusmangels. Laat die dokter daarna kyk. 'n Kind wat snork, kry tot 1½ uur minder slaap in as een wat stil slaap, en kan snags tot twee keer meer wakker word.

Hoekom ‘sukkel' babas om te slaap?

Die brein het slaap-en-wakker-patrone, en daar is twee hoof-slaapfases waarvan jy dalk al gehoor het: REM-slaap en nie-REM-slaap. REM staan vir rapid eye movement en dié slaapfase word gekenmerk deur vinnige, rukkerige oogbewegings, verlies van spiertonus, vlakker asemhaling en helder, duidelike drome.

Pasgeborenes en babas tot so vier maande oud bring meer tyd deur in REM-slaap as in diep slaap. 'n Slaapsiklus se duur is ook vir 'n baba korter as vir 'n volwassene, en dis eers teen ses tot agt maande dat die siklus meer soos 'n volwassene s'n begin lyk.

Dis hoekom jý na 'n onderbroke nag vodde voel, maar jou baba op en wakker is. 'n Pasgeborene sal 16 tot 20 uur uit 24 slaap. Dit klink dalk soos 'n droom, maar onthou, die slaap gaan baie onderbroke wees, want dis heeltemal normaal dat 'n pasgeborene elke twee tot drie uur wil drink.

Teen ses maande slaap babas gewoonlik 10 tot 12 uur per nag, en bedags tot twee uur.

Dis belangrik dat jy besef dat babas se slaap-wakker-siklus verband hou met die res van hul daaglikse ritmes van voeding, hormoonvrystelling en liggaamstemperatuur: alles dinge wat jy kan inspan om hulle geleidelik sover te kry om "beter" te slaap. En met "beter" bedoel ons meer soos 'n volwassene, dus beter vir jou.

Hoe lank behoort 'n baba te slaap?

'n Baba kan in haar eerste jaar veroorsaak dat haar ouers tussen 400 en 750 uur slaap verloor. Dit klink verskriklik en voel ook soms so, maar troos jou daaraan dat 'n mens in 'n mate daaraan gewoond raak.

Die doekvervaardiger Pampers het 'n reuse-opname onder ma's gedoen en die uitslag bevestig wat nuwe ma's gou leer. Sowat 40 persent van ma's het gesê hul baba is twee keer of meer per nag wakker. En altesaam 67 persent pas minder as ses uur ononderbroke slaap per nag in. Net 7 persent slaap meer as agt uur per nag.

Elke baba verskil egter en is 'n unieke mens. Die riglyne in dié artikel is dus net op gemiddeldes gegrond. Moenie angstig voel as jou baba nie presies volgens die voorspelling slaap nie.

Pasgeborenes slaap tot 20 uit 24 uur, maar word gereeld wakker om te voed. Hul magie is klein, hul voedingsbehoefte groot, en melk verteer vinnig.

Van omtrent vier weke af, en met die regte hulp van jou, sal jou baba begin om snags meer te slaap en bedags minder, hoewel hul algehele slaaptyd steeds sowat 15 uur is.

Jou baba sal byvoorbeeld op drie maande bedags vyf uur slaap en snags 10 (met voedingsonderbrekings). Tipies sal jou baba soggens 'n uur slaap en smiddags langer. Ander knip weer drie uiltjies wat almal ewe lank is.

Teen ses maande slaap jou baba snags tot 11 uur lank, met twee tot drie dagslapies van altesaam byna vier uur. 'n Voorspelbare roetine is beslis nou moontlik. Elf uur per nag is tot op die ouderdom van drie jaar heeltemal in orde, maar dagslapies sal ál minder word en soms wegval.

Wenke wat werk

  • Skep 'n kalm slaapomgewing vir jou baba, hetsy in haar eie kamer of in jou kamer. Snags moet die kamer donker en stil wees. Bedags kan jy ook die gordyne toetrek. As skielike geluide jou baba kan wakker maak, kan jy 'n CD met witgeraas speel om die klanke te verdoesel.
  • Die bedlinne moet sag en snoesig wees en jou baba moet volkome gemaklik wees. Die kamer moet ook nie te warm wees nie. Dis 'n goeie plan om voor drie maande seker te maak dat sy (veral snags) op dieselfde plek slaap - die bekendheid sal haar rustiger laat voel.
  • Begin laatmiddag al ontspan deur stimulasie te beperk. Stel 'n slaaptydroetine in. Dit kan dinge insluit soos 'n warm bad en massering, gevolg deur 'n voeding, storie of gebed; dalk 'n wiegeliedjie.
  • As jy snags wakker word, moet jy ook die rustige atmosfeer handhaaf. Hou die kamer donker (afgesien van 'n dowwe nagliggie as jy moet sien wat jy doen), beperk oogkontak en probeer om nie te praat nie.
  • Jy kan jou baba ook van drie maande af iets gee wat sy met slaap kan leer verbind, soos 'n kombersie of sagte speelding. Hou dit dan altyd slaaptyd byderhand. Sy sal dit gerusstellend vind.
  • 'n Foppie kan werklik help, want babas vind suig kalmerend. Maar wees egter gewaarsku dat sy jou dalk snags kan wakker skree om die foppie te soek as sy hom in die nag verloor.

Hoekom word babas wakker?

  • HULLE IS EENSAAM Jou nuwe baba voel dalk alleen en onrustig in haar eie bedjie. Oorweeg dit gerus om haar by julle te laat slaap as dit julle almal sal help om 'n beter nagrus te kry. As dít nie vir jou 'n opsie is nie, kan jy probeer om haar lekker styf toe te draai en in 'n knus wiegie te laat slaap eerder as in 'n groot, oop kot. Veral pasgeborenes hou daarvan om styf toegedraai te word.
  • HULLE HET SKEIDINGSANGS Dis 'n tipiese stadium by ouer babas van sewe of agt maande en jy moet jou baba met liefde en geduld leer dat jy wel daar is, al is jy nie sigbaar nie. Wees ekstra gerusstellend in hierdie fase.
  • HULLE IS HONGER Babas het klein magies en melk verteer gou. Maar vanaf sowat ses maande is dit nie meer nodig om snags te voed nie. Keer dat dit 'n gewoonte word.
  • HULLE IS ONGEMAKLIK WEENS 'N NAT OF VUIL DOEK Maak seker jy gebruik die regte grootte doek. Ruil dit net voor slaaptyd en sorg dat die rekkies aan die kante na buite uitgetrek is. Gebruik 'n doek van 'n goeie gehalte.
  • HULLE KRY TANDE OF IS SIEK Tande pla gewoonlik vanaf ses maande. Wees ekstra geduldig en liefdevol, maar probeer by jul roetine hou en doen wat jy kan om verligting te gee.
  • HULLE BELEEF 'N TYD VAN VERSNELDE GROEI Hou by jul roetine - dit sal jou baba veilig laat voel.

Hoe kan jy help?

Daar is nie kitsoplossings vir slaapprobleme nie, maar wel riglyne wat die toets van die tyd deurstaan het.

"As jy bedags 'n sensitiewe en verstandige aanslag het en saans 'n paar maklike strategieë inspan, behoort slaapkwessies oorkombaar te wees," sê die bekende vroedvrou en skrywer suster Lilian.

5 kg = 5 uur

Klein babas het klein magies en sal gereeld wakker word om te voed. Tot jou baba nie minstens 5 kg weeg nie, kan jy nie verwag dat hulle langer as 5 uur aaneen sal slaap nie.

Hou baba se wakker tye dop

Die Johannesburgse pediater dr. Mudammad-Ashraf Suleman Ahmed (self 'n pa van vyf) sê baie ma's probeer hul baba bedags wakker hou met die hoop dat hulle snags beter slaap. Dit werk nie. Slaapontneming lei tot nagte wat nóg rusteloser is.

Volgens Ann Richardson en Meg Faure, skrywers van Koester jou baba, lyk die dag se wakker tye min of meer só; daarna tree oormoegheid in:

0 tot 6 weke = 40 tot 60 minute

6 tot 12 weke = 60 tot 80 minute

3 tot 6 maande = 1½ uur

6 tot 9 maande = 2 uur

9 tot 12 maande = 2½ uur

1 tot 2 jaar = 3 tot 3½ uur

2 tot 3 jaar = 4 tot 5 uur

Tussen een en twee jaar val oggendslapies gewoonlik weg. Die meeste kinders het tot drie jaar nog 'n middagslapie nodig. Hou dit 'n daaglikse instelling.

3 maande Jou baba behoort nou agt uur sonder 'n voeding klaar te kom, maar sal nog om ander redes wakker word.

4 maande As jy wil hê dat jou baba in sy eie kamer slaap, moet jy hom voor vier maande skuif. Daarna word dit moeilik.

6 maande Jou baba is fisiek daartoe in staat om deur die nag te slaap, maar sal dit nie noodwendig doen nie.

Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

CTA