0 - 6 maande
Jou borsmelk voorsien in al jou baba se voedingsbehoeftes. Iewers tussen 17 weke en ses maande gaan jou baba egter gereed wees om aan vaste kos bekendgestel te word. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan dat jy egter steeds aanhou om jou baba te borsvoed.
Eerste kos
Puree vir beginners. Sagte, gladde, fyn puree of pap is 'n goeie keuse vir jou baba se eerste kennismaking met vaste kos.
WAT OM TE GEE: Graanpap vir babas; gladde purees van gestoomde vrugte soos appels en pere, of soet groente soos wortels, patat en pampoen; ryp fyngedrukte piesang. Stel die kosse een-een bekend en begin dit later kombineer.
VERMY EERS: Baie sterk smake en enigiets wat tot verstikking kan lei. Sout, suiker en heuning is verbode, so ook die drink van koeimelk.
7 maande+
Tekstuur en smaak. Sagte klonte en interessante smake moedig jou baba aan om te begin kou.
WAT OM TE GEE: Yssterryke kos soos beesvleis, lam, vis, eiers, hoender, lensies en bone, groen blaargroente en verrykte pap. Kombineer met kos wat vitamien C bevat sodat dit beter geabsorbeer word. Jogurt en pasta kan ook nou gegee word.
VERMY EERS: Bygevoegde sout en suiker, gerookte kos of verwerkte kos.
10 maande+
Vingerkos. Moedig jou kleinding aan om self te begin eet.
WAT OM TE GEE: Sagte repies gaar vleis, hardgekookte eier in kwarte gesny, blokkies sagte kaas, ryskoekies, gaar pastavormpies, sagte droëvrugte soos appelkose, piesangskyfies, gestoomde groenterepies, avokadostukkies, baba- tandekoekies, korslose roosterbrood met smeerkaas.
VERMY EERS: Enigiets waaraan jou baba kan verstik soos harde neute, springmielies, rosyntjies of druiwekorrels. Onthou om jou baba nooit met kos alleen te laat nie.
12 maande+
Maaltye. Hou aan om nuwe kos en teksture bekend te stel. Teen 12 maande moet jou baba eet wat die res van die gesin eet.
WAT OM TE GEE Volvet suiwelprodukte, alle soorte vleis en vis, 'n groot verskeidenheid groente en vrugte op verskillende maniere gaargemaak en ook rou, 'n verskeidenheid graankosse, bone en lensies. Geur jou baba se kos met matige kruie en speserye soos pietersielie en kaneel.
VERMY EERS: Lekkergoed en koeldrank, verwerkte kos vol sout, kleurstowwe en kunsmatige geurmiddels. Heuning kan eers ná 12 maande gegee word.




















