Ouerskap

BOEKE | Boeke beloon!

Getty Images
Getty Images
Leer my Lees met Tippie die Olifant Vlak R: Boek 1-10
Leer my Lees met Tippie die Olifant Vlak R: Boek 1-10

Dis 'n belegging

Leer my Lees met Tippie die Olifant Vlak R: Boek 1-10 is 'n stel wat jy gerus kan aanskaf as jou kind vanjaar gaan leer lees. Die boekies bied uitstekende steun aan ouers, onderwysers en natuurlik aan die ontluikende lesertjie ook. Die skrywers, José Palmer en Reinette Lombard, het jare ervaring in die kuns van kinders leer lees. R1 500 vir die stel van 10, LAPA Uitgewers.

Skool vir talente, eerste periode: oorverdowend
Skool vir talente, eerste periode: oorverdowend

Vir ouer kinders

Skool vir talente, eerste periode: oorverdowend deur Silke Schellhammer is vir selflees deur nege- tot 12-jariges, maar jy kan dit gerus vir jou jonger kinders voorlees. Die hoofkarakter, Alva, is in 'n kosskool op 'n verlate eiland. Dis vir kinders met ongewone talente. Van hulle kan krimp, vlieg of deur deure loop! Alva se talent is dat sy diere kan hoor praat. Hopelik is hierdie boek so suksesvol dat dit 'n reeks word. R185, Human & Rousseau.

Lekkerlag-pretboek
Lekkerlag-pretboek

Dik van die lag!

Het die jaar 'n bietjie ernstig begin met grootskool-sake? Dan's dit tyd om 'n slag te lag. Tel jou kind op jou skoot en blaai saam deur De Wet Hugo en Tumi K. Steyn se Lekkerlag-pretboek. Die grappe is skerp, die raaisels slim en die vreemde feite is vreemd verby. Nooi sommer 'n maatjie oor om die boek saam te geniet, want die speletjies in die boek is fantastiese ysbrekers. Afrikaanse kinders is so gelukkig dat sulke gehalteboeke in ons taal uitgegee word. R155, Human & Rousseau.

Die Krok en Dil-leesreeks
Die Krok en Dil-leesreeks

Leer lag-lag lees

Die Krok en Dil-leesreeks uit die pen van Jaco Jacobs het 'n sterk strokiesprent-aanslag met volop spraakborrels en fantastiese volkleurillustrasies deur Nadia du Plessis. Die twee onwaarskynlike beste maats, 'n knorrige krokodil en 'n lewenslustige komkommertjie, sal dadelik in beginnerlesers se harte kruip. Elke boek beloof 'n prettige storie met hope humor. Jaco is self die pa van twee dogtertjies, Mia (9) en Emma (7), wat die afgelope paar jaar leer lees het, en dis waarom hy die reeks begin skryf het. R45 per boek, Pan Macmillan.

Loer binne: Wilde diere
Loer binne: Wilde diere

Gryp die hele reeks!

Loer binne: Wilde diere is 'n stewige kartonboek met 10 lig-en-loerflappies. Dis die jongste toevoeging tot die Loer binne-reeks en sal selfs die gryperigste handjies oorleef. As jou baba pas self begin "lees" het, is hierdie reeks ideaal. Die lewendige illustrasies van diere van die woestyn en woud is daarop gemik om die kleintjies se aandag te boei. R165, Human & Rousseau.

Eko-kind
Eko-kind

Die bekoring van bome

Zenzele is lief vir elke boom in die woud, maar haar gunsteling is the kremetartboom. As sy tog net met bome kon praat! Met 'n besoek aan Gogo op haar verjaardag kry Zenzele 'n groot verrassing…! Eko-kind is deur Ken Wilson-Max geskryf en geïllustreer. R120, Jacana.

Babadierestories: Nag, Apie en Nag, Eendjie
Babadierestories: Nag, Apie en Nag, Eendjie

Strelend met slaaptyd

Babadierestories: Nag, Apie en Nag, Eendjie is stories om jou soetlief mee aan die slaap te sus. Die foto-illustrasies is opvreetbaar oulik. Wikkel jou styf langs jou kind in, hou jou stemtoon laag en rustig, blaai stadig, en sommer gou sal daardie ooglede swaar word - joune ingesluit. R140, Human & Rousseau.

Lekker Liewe Heksie-stories, 'n leesboek-omnibus
Lekker Liewe Heksie-stories, 'n leesboek-omnibus

Liewe immergroen Levinia

Dié boeke is deel van ons Afrikaanse kultuurskat. Daar's 'n gat in jou boekrak en sommer in jou kind se opvoeding ook as julle nie Liewe Heksie-boeke het nie. Komaan, koop die omnibus en ondersteun plaaslike uitgewers en talent! Levinia se avonture in Blommeland is net so bekoorlik soos toe die vorige geslagte voor die radio ingeskuif het om te luister. Hier word 10 van die gewildste stories eenvoudig vertel en prettig geïllustreer. Dis ideaal vir nuwe lesertjies. Lekker Liewe Heksie-stories, 'n leesboek-omnibus deur Verna Vels en Vian Oelofsen R250, Human & Rousseau.

Jy is 'n wens
Jy is 'n wens

Wenskinders se stories

Hierdie prenteboek vertel op 'n deernisvolle manier die storie van verskillende gesinne wat kinders aanneem. Dit is die perfekte wegspringplek vir ouers wat met kinders oor aanneming wil gesels, en dit help kinders om te verstaan dat elke gesin spesiaal is - al lyk ons nie noodwendig dieselfde nie. Jy is 'n wens deur Jaco Jacobs en Tumi K. Steyn R150, Pan Macmillan.

Stories in die wind
Stories in die wind

Eg Suid-Afrikaans

Tien verhale uit die Richtersveld, Namakwaland en die Kalahari word hier meesleurend vertel. Dis eenvoudig lieflik. Die karakters is diere, mense, die son, maan en sterre. As jy daardie streke in ons land ken, sal die boek jou beslis soontoe laat terugverlang, en as jy nog nie daar was nie, sal julle dalk net jul volgende vakansie begin beplan. Suid-Afrika het veel meer te bied as net die groot vyf. Koop en bewaar hierdie boek vir die nageslagte ook. Stories in die wind deur Deidré Jantjies en Davin Andrew R180, Tafelberg.

CTA