
Vir lekker lê en lees
Dié twee boeke is vol bekoorlike stories vir jong kinders wat jou gaan help om leestyd gewoontevormend te maak. Wanneer jy die bad-boek-bed roetine probeer instel, gaan hierdie boeke help om elke aand interessant te hou. Kruip saam in en lees. Nóg oulike stories vir kleintjies deel 1 en deel 2, R99,90 elk, Fantasi.

Badboekies bo!
Dis nooit te vroeg om jou baba aan boeke bekend te stel nie en seker een van die lekkerste maniere om dit te doen, is met 'n badboekie. Ons weet nie wie op aarde die eerste keer badboekies uitgedink het nie - sy verdien 'n Bell's! Skaf hierdie twee aan om plas-plas 'n liefde vir lees te begin kweek. Badboek: By en Badboek: Uil is vol interessante diere. R75 elk, Human & Rousseau.

Vir besige handjies
Boekies met dik blaaie en trek- en skuifmeganismes is 'n slim manier om jou kind van heel kleins af in 'n boekwurm te verander. In die wildtuin en In die oerwoud is albei vol interessante diere wat wegkruip. Boots sommer hul geluide ook na wanneer julle hulle vind. R145 elk, Macmillan Children's Books.

Plaasstories wat boei
Jy kan eenvoudig nie 'n fout maak met 'n lekker, dik hardebandboek vol plaasstories nie. Avonture op die plaas was vroeër vanjaar uitverkoop, maar die uitgewer het laat weet dis nou weer beskikbaar. Kinders van vier tot agt jaar oud sal die stories baie geniet oor wat alles op Boer Frans se plaas gebeur. R225, Fantasi.

Boek teen boelies
Shudufhadzo Musida, Mej. Suid-Afrika, het 'n kinderboek geskryf wat in Afrikaans en vyf ander tale te kry is. Die inspirasie vir die storie was haar eie kinderjare toe sy onder boelies deurgeloop het. Sy wil met die boek kinders aanmoedig om met 'n volwassene te praat as iets slegs met hulle gebeur. Shudu vind haar sprankel, R95, Jacana.

Vind jou stem
Rorisang en haar tweelingbroer, Mo, moet die skooljaar by 'n nuwe skool begin. Die nuwe skool is ver van hul huis af en soggens sit hulle in die verkeer vas. Die buitemuurse aktiwiteite wat aangebied word, is dinge waarvan Rorisang nog nooit eens gehoor het nie! Dis 'n storie oor die belangrikheid van vriendskap en familie en hoe om jou stem te vind te midde van verandering. Refiloe Moahloli is altyd in die kol met kinderboeke wat ons menslikheid weerspieël. Die boek is ook beskikbaar in Zoeloe en Engels. Illustrasies deur Katlego Keokgale. Dis my naam, R120, Macmillan Children's Books.

Verbeeldingsvlug met Thoko
Die kreatiewe, gawe Thoko is 'n karaktertjie vol pret! Dié boek deur Niki Daly bevat vier stories uit Thoko se lewe wat baie maklik is om self te lees. Dink saam met Thoko diep oor onder meer wat skoonheid nou eintlik is en hoe 'n strandskoonmaakprojek iets groters kan word. Vlieg hoog! Thoko, R130, Jacana.

Pappa maak alles pret
Niki Daly is 'n Suid-Afrikaanse kultuurskat. As jy nog nie sy boeke ken nie, begin deur hierdie een aan te skaf. Op Pappa se skouers vertel die bekoorlike storie van 'n pa en seun wat die roete skool toe in 'n spesiale uitstappie verander met 'n baie spesiale manier waarop hulle mekaar groet. Dit sal 'n gunsteling-boek word vir voorlees en kinders wat self begin lees, sal dit ook geniet. R170, Tafelberg.

Padda kies koers
Padda is moeg daarvoor om heeldag net te sit en kwaak. Hy wil rondreis en die wêreld sien. Maar sal hy ooit weer veilig tuis kom? 'n Opwindende interaktiewe avontuur vir dapper klein reisigers met loergaatjies en 'n uitvou-verrassing aan die einde. Die boek is 'n genot vir peuters. Dit ontwikkel geletterdheidsvaardighede en ruimtelike woordeskat. Padda se groot avontuur deur Carly Gledhill, R140, Macmillan Children's Books.

Hoekom, mamma, hoekom?
Maak jou kind jou ook gek met al haar vrae? Die meisie met 21 vrae deur Boitumelo Mothupi en illustreerder Subi Bosa gaan oor presies so 'n dogtertjie wat boeke ontdek wanneer al die grootmense moeg word om haar te antwoord. Veral vir nuuskierige kinders kan boeke en stories werklik die wêreld ontsluit. R140, Macmillan Children's Books.

Julle gaan lag!
Het jy al 'n weermag Weense worsies gesien? Wat sal jy doen as jou huiswerk wegvlieg? Watter nare dinge gebeur as jy jou pizza met 'n mes en vurk eet? Vind uit in dié prettige, holderstebolder rympieboek wat jou kind sy maag sal laat vashou van die lag. Met 58 rympies is die boek werklik waarde vir geld ook. Al staan jy op jou kop en ander lawwe rympies deur Jaco Jacobs, R180, Macmillan Children's Books.



















