Ouerskap

BOEKE | Lees, verf & word slim!

Baba & Kleuter leeshoekie
Baba & Kleuter leeshoekie

Meisies met planne

Minki se boekedag en Minki maak 'n plan, deur Jaco Jacobs
Minki se boekedag en Minki maak 'n plan, deur Jaco Jacobs

In Minki se boekedag is een van Minki se gunstelingboeke die inspirasie om Lara beter te laat voel nadat haar dansdrome vir eers daarmee heen is. Minki maak 'n plan is die volgende boek in die reeks en Minki en haar maats is baie opgewonde toe hulle 'n onverwagse besoeker kry.

Maar waar kom hierdie dierbare katjie vandaan? Hierdie boeke is deur Jaco Jacobs geskryf en die oulike illustrasies is deur Tumi K. Steyn. Dit is geskik vir planmakers ouer as agt jaar. R120 elk, Pan Macmillan.

Aandag, alle avontuurlustiges

Die dodelikste donuts in die heelal deur Cecilia Steyn
Die dodelikste donuts in die heelal deur Cecilia Steyn

As iets te goed klink om waar te wees … is dit gewoonlik. Vra maar vir Wynand. Hy het gratis oliebolle uit New York bestel om sy ma se aaklige groen muffins vir die skoolkoekverkoping vry te spring. Maar toe werk die bestelling nie heeltemal uit soos beplan nie. Gelukkig vir hom is sy ma 'n superheldin. Die dodelikste donuts in die heelal deur Cecilia Steyn lees lekker.

Die groot teks is maklik leesbaar en die taalgebruik toepaslik vir beginnerlesers en dié wat reeds goed op dreef is. Staan nader, avonturier! Die illustrasies deur Johann Strauss is baie opwindend. R165, NB-Uitgewers.

Lees hierdie een op ‘n vol maag

Wat eet Mpumi? deur Lebohang Masango
Wat eet Mpumi? deur Lebohang Masango

Wat eet Mpumi? is 'n nuwe toevoeging tot die Mpumi-reeks en deur die Suid-Afrikaner Lebohang Masango geskryf. Hierdie boek met helder illustrasies is gemik op drie- tot sesjariges en word op 'n eenvoudige en maklike wyse aan die jong lesertjies weergegee.

Dit is ideaal vir voorlees en jou kleinding gaan versot op die Mpumi-karakter wees. In Wat eet Mpumi? stel Mpumi al haar gunsteling-kosse bekend. Waarskuwing: Moenie honger lees nie! R65, New Africa Books.

Blink breintjies, vinnige vingers

Verf en leer: 123 en Verf en leer: Kleure
Verf en leer: 123 en Verf en leer: Kleure

Hierdie hardebandboeke het versteekte prente wat gevind moet word en leer jou kleuter hoe syfers lyk en om te tel! En as die breintjies voos geleer is, kan daardie klein vingertjies werk. 'n Kwas word ingesluit sodat jou kind water oor die wit agtergrond kan verf om kleure en prente te laat verskyn. Die kleur sal weer verdwyn en die prente kan oor en oor gebruik word. Verf en leer: 123 en Verf en leer: Kleure, R170 elk. NB-Uitgewers.

Woorde maak slim

My eerste tweetalige woordeboek
My eerste tweetalige woordeboek

Verbreed jou nuuskierige agie se wêreld met hierdie prettige, helderkleurige woordeboek.

In dié boek verken en leer jou kleuter die name van allerlei dinge om hom. Elke bladsy is vol prente en dinge wat gesoek en waaroor gesels kan word. Dis 'n hardebandboek met illustrasies in volle kleur. My eerste tweetalige woordeboek, R260, NB-Uitgewers.

'n Moet vir jou boekrak

'n Goue ster vir Faizel deur Rafiek Mammon
'n Goue ster vir Faizel deur Rafiek Mammon

Die illustrasies in hierdie boek is bekoorlik. 'n Goue ster vir Faizel deur Rafiek Mammon is spesiaal vir voorskoolse kinders geskryf. Faizel geniet sy eerste dag by die skool en vind vinnig 'n geleentheid om sy klasmaats in te lig oor die natuur en die wonder van sterre.

Hierdie pragtige boek is vir vyf- tot negejariges, maar die hele gesin sal dit geniet. Dit is te kry in Engels, Afrikaans, Zoeloe en Xhosa. R130, Jacana Media.

Hoe pas ek in?

Ek is vuur, Ek is lug, Ek is water en Ek is aarde geïllus­treer deur Thembinkosi Kohli
Ek is vuur, Ek is lug, Ek is water en Ek is aarde geïllus­treer deur Thembinkosi Kohli

Hierdie boeke kan jy maar weer en weer voorlees. Ek is vuur, Ek is lug, Ek is water en Ek is aarde is 'n reeks oulike boeke wat voorskoolse kinders aanmoedig om hulself en die wêreld om hulle te leer ken.

Die helder en vrolike illustrasies deur die Suid-Afrikaanse kunstenaar Thembinkosi Kohli word aangevul met kort woorde en sinne. Die reeks verduidelik jou kind se verband met die aarde en die aarde se belangrikheid in ons daaglikse bestaan. Die hele gesin sal dit geniet! Die boeke is in elf tale beskikbaar. R95 elk, New Africa Books.

Tonekrul-lekker

Net aliens eet spinasie deur Jaco Jacobs
Net aliens eet spinasie deur Jaco Jacobs

Net aliens eet spinasie is 'n heerlike versameling lekker stories deur Jaco Jacobs en geskik vir nege- tot 12-jariges. 'n Alien land in 'n swembad, kinders verdwyn in 'n biblioteek, 'n monsterhond word 'n woefie-woef en 'n vampier-jagter-ouma bestorm 'n skool met 'n knoffel-bazooka - en dit alles saam met fassinerende swart-wit illustrasies deur Iain Rennie.

Die nuwe uitgawe van hierdie boek bevat agt stories wat jou kind lekker sal laat gril en ril van plesier. Jaco Jacobs het reeds meer as 180 boeke vir kinders geskryf en hy spog met 40 bekronings vir sy werk. R145, NB-uitgewers.

Kom ons werk saam!

Spanmaats is deur Refiloe Moahloli
Spanmaats is deur Refiloe Moahloli

Hierdie boek laat jou hart warm voel, want wie hou nou nie van 'n mooi storie wat familie en vriendskap inspan nie? Morena hou van sy nuwe skool - buitemuurse aktiwiteite, speeltyd met sy maats en skoolsport. Veral sagtebal.

Maar sy span bly verloor. Gelukkig beraam Morena 'n plan om seker te maak die span bereik nuwe hoogtes. Spanmaats is deur Refiloe Moahloli geskryf en deur Katlego Keokghale geïllustreer. Dit is in vier tale beskikbaar: Zoeloe, Xhosa, Afrikaans en Engels. R140, Pan Macmillan.

Gee pad, plastiek

Wilde diere en Plaasdiere
Wilde diere en Plaasdiere

Lapboekies is weer oral te sien! Diere is altyd 'n gunsteling by babas, of dit nou wilde diere of plaasdiere is. Die boekies Wilde diere en Plaasdiere het op elke bladsy 'n mooi illustrasie van 'n Suid-Afrikaanse dier mét die dier se naam - in Afrikaans en Engels - sodat jou kleinding nuwe woorde kan leer.

Hierdie tweetalige boeke het kreukelpapier op die eerste bladsy vir ure se sensoriese pret! R185 elk, NB-Uitgewers.

Drake, vlieënde perde en ganse

Drake deel nooit deur Nicola Kinnear
Drake deel nooit deur Nicola Kinnear

Dit is 'n mooi boek dié - van die mooi lewenslessies tot die helderkleurige illustrasies. In Drake deel nooit deur Nicola Kinnear (en vertaal deur Jaco Jacobs) raak Rissie die draak se Reëlboek vir Drake weg. Die ander diere in hierdie pragtige wonderwêreld het genoeg gehad en toe hulle die reëlboek vind, verander hulle saam met Rissie die aaklige reëls.

Van toe af is Rissie altyd gaaf, deel sy haar skatte uit en speel sy saam met haar nuwe maats. Nes jy wil hê jou kleinding moet doen, nè? Die boek is ideaal vir voorlees. R155, NB-Uitgewers.

Baba & Kleuter  |

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM