John Braxton Hicks was 'n Britse dokter wat in die 19de eeu in verloskunde gespesialiseer het. In 1872 het hy agtergekom dat vroue pynlose sametrekkings kry wat hulle met kraam verwar en dat dit gereeld gedurende swangerskap kan voorkom en vroeg al kan begin. Hy het dit toe die Braxton Hicks-sametrekkings gedoop.
Namate jy die einde van jou eerste trimester nader (wanneer jy tussen 10 en 12 weke swanger is), kan jy dalk al af en toe voel dat jou maag verstyf. Dit word veroorsaak deur die hormoon estrogeen, en ook deur die baarmoeder wat rek.
Verbeel jou hierdie sametrekkings is "babadrukkies" en beskou dit as 'n bevestiging van jou swangerskap en dat jou liggaam al klaar sekere belangrike strukturele veranderings maak ter voorbereiding van die geboorte.
Braxton Hicks-kontraksies kom in vlae. Omdat die serviks nog gesluit is en die vrugwater in die baarmoeder vasgevang is, plaas dit egalige druk op jou baba se lyfie. Janet Balaskas, stigter van die Aktiewegeboorte- beweging, beskryf hierdie sametrekkings in haar boek New Life as "emosioneel waardevol" in die kraam-voorbereidingsproses.
Die kontraksies behels gewoonlik ook dat jou bloeddruk, polsslag en die druk in jou baarmoeder effens verhoog, en dit neem toe in die laaste ses weke van swangerskap. Dit streel jou baba en help jou om te begin oefen om later ware kraamkontraksies te hanteer.
Daar word trouens gemeen dat Braxton Hicks help om die senupaadjies te ontwikkel wat jou liggaam later nodig gaan hê om kraamkontraksies te koördineer. Dit help moontlik ook om die serviks vir die bevalling voor te berei, en daarom word dit soms ook oefenkraam genoem.
As dit jou eerste baba is, is die kans goed dat die Braxton Hicks-kontraksies ongesiens en ongevoel verby kan gaan tot heelwat later in jou swangerskap.
Hoe weet ek dis nou sulke tyd?
Braxton Hicks-kontraksies
- Die kontraksies is ongereeld.
- Die duur van die kontraksies is wisselvallig.
- Die intensiteit verander.
- Jy voel dit regoor jou hele maag.
- Dit kan verlig word deur te stap of deur 'n warm bad of stort te geniet.
- Daar is geen kraamtekens nie.
- Jou water het nie gebreek nie.
Ware kraamkontraksies
- Die kontraksies is gereeld.
- Dit word ál gereelder.
- Dit word ál intenser.
- Jy voel dit veral in jou rug.
- Dit neem toe wanneer jy stap of in warm water ontspan.
- Daar is gewoonlik 'n kraamteken.
- Jou water kon al gebreek het.
'n Vrou wat 'n meerling of haar tweede of derde kind verwag, gaan meer bewus daarvan wees en dalk selfs 'n bietjie meer ongemaklik voel terwyl dit voortduur.
In teenstelling met kraamkontraksies het Braxton Hicks-kontraksies geen patroon nie. Dis pynloos en ongereeld. Sommige kontraksies is baie kort, terwyl ander taamlik lank kan wees. Soms kan jy hierdie kontraksies net voel wanneer jy jou hand op jou maag sit.
Later in jou swangerskap word Braxton Hicks-kontraksies ook fop-kraamkontraksies genoem en baie vroue verwar dit met die ware Jakob. Lees die kassie links om jou te help om die verskil raak te sien.
Maar as jy nou al leer hoe om Braxton Hicks te hanteer met die hulp van ontspanningstegnieke, kan dit vir jou waardevol wees wanneer ware kraampyne die dag hul verskyning maak.
Plaas albei jou hande op jou maag en asem stadig deur in jou neus en uit deur jou mond terwyl jy jou mond in 'n "o" vorm. Hou daarmee aan tot die kontraksie verby is.
As die kontraksies plaasvind terwyl jy lê, draai op jou sy.
As jy besig is om oefening te doen, gaan staan handeviervoet en wieg jou lyf sagkens vorentoe en agtertoe.
WAT JY MOET WEET
Pyn in enige stadium van jou swangerskap is altyd 'n rede tot kommer.
Sametrekkings wat voel soos die begin van 'n maandstonde moet deur jou mediese versorger ondersoek word.
As daar enige vaginale bloeding voorkom, of as daar vloeistof (dit kan vrugwater wees) uitdrup wanneer jy hierdie sametrekkings het, moet jy jou dokter onmiddellik in kennis stel.
Kontraksies kan aan die gang gesit word deur seksuele aktiwiteit. As dit lyk of jy 'n dreigende miskraam het, sal jou dokter jou dalk aanraai om vir 'n wyle nie omgang te hê nie.
Blaasinfeksie kan ook met kontraksies verwar word. Simptome van 'n blaasinfeksie sluit die volgende in: 'n dringende behoefte om aanmekaar te urineer (veral in die nag, wat natuurlik in elk geval gebeur as jy swanger is), 'n brandende gevoel terwyl jy urineer en rugpyn of kwaai bekkenpyn.
John Braxton Hicks staan dalk in die geskiedenisboeke bekend as die man wat vroue uit hulle "is ek in kraam"-verwarring gehelp het, maar onthou maar dat jou baarmoeder kan saamtrek al is jy nie swanger nie.
Aan die einde van jou maandelikse siklus behoort jy te voel hoe die leë orgaan saamtrek om jou bloedsomloop te stimuleer en om die voering (endometrium) aan die einde van elke siklus af te breek.
Jou hardwerkende baarmoeder mag dalk nou en dan tydens swangerskap protesteer; wanneer die Braxton Hicks- sametrekkings dus hard genoeg skree om jou te laat sit en 'n bietjie asem te skep, is dit bloot 'n geval van gehoorsaamheid aan jou liggaam. En dis altyd 'n goeie ding.


















