BRIEWE | Praat saam

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

WENBRIEF

Engelkind

Vroeg verlede jaar het 'n wonderlike ding gebeur! Die grense vir oorsee reis is oop en ek gaan Australië toe vir die geboorte van my pragtige blouoog- kleindogter, Gaby.

Die vreugde klop-klop in my keel. Die weersiens ná drie en 'n half jaar is pure partytjie. Ek wil die wêreld vir my kinders gee, alles wat mooi is. My hart loop oor.

So word liewe Gaby op 4 Maart 2022 gebore terwyl almal maskers dra en geen besoekers by die hospitaal toegelaat word nie. Natuurlik mag Pa in die hospitaal gaan kuier, maar nie eens ousus Kara mag die nuwe kleinding ontmoet nie.

Dit reën vlae water, en so reën my oë trane van genoegdoening.

Welkom, kleine Gaby! Daar is hemel in my hart en ek loop blinkoog deur die dag. Die huis se nuwe klein koningin kom tuis. Sy kom soos 'n kokon vol klein verrassings om ons wêreld spesiaal te maak.

Sy is stroopsoet en slaap in my arms, onbesorg, vergenoeg, diep voldaan. Die mooiste dogtertjie met so 'n oopmond glimlag. Ek glo uit daai mondjie gaan nog boeke vol stories kom.

Jy is nou 10 maande oud en jy groet elke dag met jou kreukelneusie-glimlag. Gou kruip jy en staan met poffervoetjies teen alles kiertsregop. Ek bad in hoendervleis as jy in jou babbeltaal geselsies met my aanknoop oor die foon en kort voor lank praat jy vlot met woorde wat jy uit jou doekesak haal.

Een van die dae gaan jy die wêreld vol stap en Ouma wens ek was daar om die avontuur saam met jou aan te pak. Maar vir eers het ek darem kiekie-oomblikke en lang kuiers wat wink.

Hierdie ouma is geseënd en baie trots! En sy glo aan engeltjies … beslis!

Ouma Alma Germishuys, Roodepoort, Gauteng

Jy wen 'n klant!

Ek staan in die middel van Woolworths met 'n kind wat só huil dat dit van die bakkery tot by die doekrak weergalm. Ek kyk verskrik na my halwe trollie kruideniersware. Ek kan die stootwaentjie stoot en die trollie sleep, maar ek kan nie 'n baba wat skop en huil ook nog vashou nie. Mense begin staar. Sommige simpatiek, ander om te sien hoe ek dié penarie gaan hanteer. Ek glimlag moedig vir myself - al voel ek lus om saam met my kind op die vloer neer te slaan. Ek oorweeg dit om alles te los en terug te vlug na ons huis sonder 'n druppel melk of 'n velletjie toiletpapier.

Daar kom die winkelbestuurder en vra of sy vir my die voedingskamer kan oopsluit. Nadat ek verduidelik het dat Amé nie honger is nie, leen sy vir my twee werknemers - een om die trollie te stoot en 'n ander om die stootwaentjie te beman. Toe die hoogtepunt: Hulle loop saam tot by die kar om my te help inlaai. Ek wou sommer weer huil, dié keer van dankbaarheid.

Welgedaan, mevrou Bestuurder. Jy het my gered. En net terloops, ek is nou 'n lewenslange klant van jou winkel.

Vasti de Jager, Kaapstad, Wes-Kaap

Gereed vir sussie

Ek is nou sewe maande swanger. Ons berei ons dogtertjie, Livia, voor op die koms van 'n nuwe baba in die huis. Ons wys vir haar foto's en video's van babas sodat sy weet hoe een lyk en klink.

Een dag lê ons op die bed en tydskrif lees. Ek blaai deur die nuwe Baba & Kleuter terwyl sussie rustig langs my lê. Skielik sien sy ek hou 'n tydskrif vas met prentjies van babas en wil toe ook so 'n tydskrif hê.

Nadat ek dit vir haar gegee het, heers daar weer stilte in die kamer. Sy het die tydskrif so mooi vasgehou en deurgeblaai!

Ek is heeltemal seker sy is gereed vir haar sussie se koms. Sy vryf elke oggend my maag en smeer room aan as sy sien ek haal dit uit die kas. Ek voel bevoorreg om hierdie wonderlike kind myne te noem. Ek is seker sy gaan 'n top-ousus wees!

Hannah Erasmus, Klerksdorp, Noordwes

Die kleur in ons lewe

Ek weet nie wat ek en my gesin sonder die oupas en oumas sou doen nie. Ouma Hannie gaan haal die kinders elke dag by die skool en al is dit middernag, weet ek ek kan maar bel om Oupa of Ouma se raad te vra.

Die beste van oumas en oupas is hul wysheid. Hulle weet wanneer om te bederf en wanneer om nee te sê. Leer 'n mens dit dan eers later in jou lewe aan? Dankie Oupa, dankie Ouma, dat julle ons lewe met soveel liefde inkleur!

Mignon Venter, Johannesburg, Gauteng

Die Facebook-ouers gesels saam

Waaroor stry julle die meeste sedert julle ouers geword het?

Geld en die feit dat ek nie vir my man kan sê hoeveel blikke melk die tweeling gebruik nie … Hendri J

Destyds was dit skoonma se inmenging oor my manier van dissipline … ook net tot 'n ultimatum gestel is. Toe hou dit op. Verder is dit maar geld wat argumente veroorsaak, want erken dit of nie - kleintjies is 'n duur storie. Carina D

Dissipline. Pappa wil hom net sy sin gee en bederf, en nie raas of straf nie. Charlene Z

Geld en min aandag. Magda G

Aandag. Al keelvol om dit te hoor. Kyk, ek verstaan hy wil oor naweke ontspan, maar ek wil ook … Ek was wasgoed en maak huis skoon, en dan sal hy vra hoekom ek in 'n slegte bui is. Leandri K

Wen 'n geskenkpak van solarpop ter waarde van R1 430 vir jou en 'n vriendin!

Disney Spot It! is 'n speletjie wat maklik geleer word, maar 'n uitdaging is om te wen. Hierdie slim, prettige, draagbare speletjie vir die hele gesin kan enige tyd en op enige plek gespeel word. Daar is 55 kaarte en vyf manier van speel wat dinge vars en opwindend hou. Spot It! kombineer opvoedkunde en vermaak en gee 'n hupstoot aan denkvaardighede, probleemoplossing en 'n mededingende ingesteldheid. Disney word vanjaar 100 jaar oud en 'n gelukkige leser wen 'n geskenkpak, plus nog een vir 'n vriendin. Solarpop.co.za

SPELETJIES VANDAG

CTA