Jou kind se graad 0-jaar is 'n baie belangrike oefentyd vir selfhelpvaardighede wat volgende jaar as vanselfsprekend beskou sal word. Dit maak haar doelgerig gereed vir die akademiese uitdagings wat in graad 1 wag.
En jou ondersteuning kan haar daardie hupstoot gee wat dit maklik maak! Graad 0 is die jaar waarin jou kind leer om selfstandig te word, maar die opset is nog nie so formeel soos in graad 1 nie.
Jou kind sal baie geleentheid kry om te speel en te beweeg, maar die jaar het beslis ook spesifieke doelwitte wat bereik moet word. Jou kind sal geassesseer word volgens 'n nasionale kurrikulum en sal punte kry.
Deur die jaar vind daar geleidelike begeleiding plaas om haar gereed te maak vir graad 1. Sy móét sekere takies leer hanteer, want in graad 1 moet sy nog baie meer kan doen.
Het jy geweet?
Ons noem dit dikwels gr. 0, maar dis eintlik gr. O (ontvangsjaar), nes gr. R (reception year).
WAT JOU SPRUIT KAN VERWAG
In die grondslagfase (graad 0-3) word leerareas in geletterdheid, syferkunde en lewensvaardighede opgedeel. Die onderwyseres sal temas gebruik om vaardigheidsontwikkeling te fasiliteer. In die klas sal van jou kind verwag word om betrokke te wees by en deel te neem in 'n groep. Sy sal die geleentheid kry om deur spel te leer, haar wêreld uit te brei en met 'n verskeidenheid media te eksperimenteer. Hier is van die dinge wat in hierdie jaar aandag kry.
SELFHELPVAARDIGHEDE
Om self aan te trek, jou skoene vas te maak, self jou neus te blaas en alleen toilet toe te gaan is alles vaardighede wat in graad 1 as vanselfsprekend aanvaar word. As jou kind sommige daarvan nog nie onder die knie het nie, behoort jy vanjaar spesiaal daaraan aandag te gee. Help jou kind wat sukkel met veters vasmaak deur vir haar 'n plankie met twee toutjies daaraan vasgemaak te prakseer waarop sy kan oefen.
ALGEMENE KENNIS
Jou kind leer oor haarself, haar omgewing en die wêreld. Maak seker sy leer vanjaar haar huisadres, naam en van, geboortedatum, ouers se name en jul telefoonnommers.
LUISTER
Sy moet luister sonder om te onderbreek, en haar beurt afwag om te praat. Oefen luistervaardighede deur stories te vertel en haar dit te laat terugvertel.
BEWUSWORDING VAN KLANK
Sy moet besef dat woordjies opgebreek kan word in klankies en die klanke eers aan die begin en later aan die einde van woorde kan herken. Speel "My klein ogies sien iets wat begin met 'n b". Spreek klanke foneties uit.
TAALONTWIKKELING
Wees elke dag op die uitkyk vir geleenthede om jou kind se woordeskat uit te brei. Sy moet in woorde kan uitdruk wat sy sien en ervaar. Jou kind moet boodskappe kan oordra, rympies kan opsê en kan sing.
LEES
Hoewel jou kind nie in graad 0 leer lees en skryf nie, word belangrike voorbereidingswerk hiervoor gedoen. Sy sal onder meer sekere klanke, letters en woorde leer herken, soos die s in "stop".
SKRYF
Sy kan met prentjies boodskappe oordra en sal probeer skryf. Sy kan ook letters uit die omgewing natrek. Ouers is dikwels beïndruk deur kinders wat skryf, maar dit het min waarde as hulle die letters verkeerd vorm. As sy jou vra om letters te leer, maak seker sy vorm dit reg. Vermy vir eers hoofletters en let op na haar potloodgreep.
REDENEER
Vra jou kind baie "hoekom"-vrae. "Hoekom dink jy is hier 'n stopstraat? Hoekom moet jy gesond eet?" So leer jou kind vir haarself dink. Ouers gee dikwels net vir die kind inligting en sy hoef nie te dink nie. Trek eers al die inligting uit jou kind uit en las dan by.
KREATIWITEIT
Kreatiwiteit leer jou kind oplossings bedink.
WISKUNDIGE VAARDIGHEDE
Sy moet aan die einde van graad 0 onder meer met begrip tot 10 kan tel en ook die name en simbole van 1 tot minstens 10 ken. Sy leer ook op 'n informele manier van minus en plus met getalle onder 10, byvoorbeeld met 'n boksie Smarties. Laat haar dit in kleure sorteer en vra: Watter kleur is die minste? Wat is die meeste? Hoeveel bly oor as ons drie opeet? Sy moet ook tot 10 leer verdubbel en halveer.
LANGER KONSENTRASIE
Verwag van jou kind om 'n takie van 'n halfuur lank te voltooi. Begin met korter takies en rek dit geleidelik.
VERBEELDING
Fantasiespel is nog baie belangrik in graad 0, want ons leer nog baie deur te speel. Maar anders as vorige jare is die spel meer gerig op spesifieke uitkomste.
GROOT MOTORIESE VAARDIGHEDE
Skakel die TV af en pak al die skerms weg! Gee aandag aan balvaardighede. Speel met jou kind met 'n bal. Help haar om te leer touspring: Laat spring haar eers oor 'n lat, dan 'n hoepel en dan met 'n springtou.
SOSIALE VAARDIGHEDE
In graad 0 gaan daar van jou kind bepaalde sosiale vaardighede verwag word, en dit sal ook verder ontwikkel word. Byvoorbeeld: Hoe hanteer jy dit as 'n maatjie iets aan jou doen? Leer jou kind om selfgeldend te wees: Kyk die maatjie in die oë en sê: "Ek hou nie van wat jy nou gedoen het nie. Ek voel kwaad. En as jy nie ophou nie, gaan ek vir Juffrou sê."
DRIE GOUE WENKE VIR MA'S EN PA'S
1. VERTROU JOU KIND SE ONDERWYSERES
As enigiets jou bekommer, maak 'n afspraak om daaroor te praat. Moet ook nie bedreig voel as die onderwyser met jou 'n afspraak maak om op 'n agterstand te wys nie - haar bedoelings is net goed en sy wil help. Hoe gouer ouers werk maak van 'n agterstand, hoe gouer sal die kind bykom, en dan ook sonder onnodige emosionele spanning.
2. MAAK SEKER JY LEES AL DIE KOMMUNIKASIE VAN DIE SKOOL AF
Weet wat op die kalender aangaan. Die kwartaalprogram, temas vir die week, uitstappies en meer sal daar te kry wees. Kyk wat jy kan doen om die weeklikse klastema tuis te ondersteun. Dit sal dinge wees soos vrugte of insekte. Blaai saam met jou kind deur boeke oor die tema of neem hom op 'n relevante uitstappie.
3. BETROKKE OUERS SE KINDERS HET BESLIS 'N VOORSPRONG
Kyk dus waar jy kan help - daar is baie geleenthede soos entrepreneursdae, minibasaars en selfs die jaarlikse konsert. So leer ken jy ook die ouers van jou kind se maats en jou kind voel baie trots op sy ma en pa!











