Babas se gesuig is in hul eerste paar weke 'n baie sterk refleks. Dis immers 'n sleutel tot hul oorlewing, want so kan hulle seker maak hulle kry genoeg melk in.
Maar babas suig nie net om kos te kry nie: Sowat 90 persent van pasgeborenes probeer al aan hul vinger of hand suig binne die eerste twee uur ná geboorte. As jy jou vinger in jou baba se mondjie druk, sal hy dit suig, al het hy pas gedrink en al kom daar niks melk uit nie.
Een van die redes waarom babas suig, is omdat dit die goedvoelstowwe endorfiene help vrystel. Die bevrediging van hul suigdrang laat hulle ook gekoester, gelukkig en tevrede voel.
Suig is dus 'n manier waarop babas hulself laat bedaar as hulle gestres voel. Studies het gewys hulle reageer minder op pyn as hulle aan 'n fopspeen of hul duim suig, soos wanneer hulle ingespuit word.
Ander studies wys weer suig kan babas help om beter en dieper te slaap - en ook weer vinniger aan die slaap te raak as hulle in die nag wakker word.
Dis dus 'n belangrike en normale deel van jou kleinding se ontwikkeling om sommer net vir die lekkerte te suig.
Sowat 50 tot 87 persent van kinders suig die een of ander tyd duim. Party kenners reken babas moet twee tot drie uur per dag suig behalwe wanneer hulle drink, terwyl ander weer meen elke baba se suigbehoefte verskil. Party kry genoeg suigtyd deur net te voed, terwyl ander meer suig-geleentheid nodig het.
Veral bottelbabas het 'n ekstra behoefte aan suig. Dis waarskynlik omdat dit minder harde werk is om melk uit 'n bottel te suig as uit die bors, sodat hul suigdrang nie so goed bevredig word nie.
Sal hulle ooit ophou?
Hoewel duimsuiery 'n normale verskynsel is, is baie ouers bekommerd dat dit 'n gewoonte word wat later moeilik gaan wees om stop te sit.
Sowat 20 persent van kinders wat duim suig, hou tot ná hul derde verjaardag daarmee aan. Jou baba se suigrefleks verdwyn as hy sowat 'n jaar oud is; tog het studies gewys dat kinders in hul tweede jaar die grootste behoefte aan suig het om ander redes as om te voed. Dis waarskynlik omdat hul meer begin beweeg en hul leefwêreld groter word, wat nuwe frustrasies en vrese kan meebring. Duimsuiery is dan iets wat hulle veiliger en kalmer laat voel.
Die goeie nuus is dat studies ook gewys het dat die meeste kinders sonder enige ingryping deur hul ouers teen sowat twee en 'n half jaar self minder duim of fopspeen begin suig namate hulle ander maniere vind om hulself te troos. Sulke kinders kan egter steeds op spesiale geleenthede, soos met slaaptyd of as hulle gespanne voel, duim suig.
Die meeste kinders hou teen vyf of ses jaar oud heeltemal op, maar natuurlik is daar uitsonderings.
Het jy geweet?
Van die eerste ‘fopspene' was kos of suiker toegebind in 'n stukkie lap waaraan babas kon suig. Die eerste ‘moderne' fopspeen is sowat 'n eeu gelede in Amerika vervaardig.
Is duimsuiery sleg?
Dis op sigself is nie sleg nie, solank dit nie te lank aanhou nie. Nes met fopspene vrees tandartse dat langdurige duimsuiery 'n kind se mond-, kaak- en veral tandontwikkeling kan beïnvloed. Party kinders kan jare lank sonder probleme duim suig, maar ander kan vroeg al tandprobleme kry.
Dit kan selfs die vorm van jou kleinding se gesig verander. Hoe erg die skade is, sal afhang van hoe dikwels jou kind duim suig, hoe hard hulle suig, hoe lank en ook hoe hulle die duim in hul mond plaas.
Die drukking wat kinders met hul duimpie op hul verhemelte en voortande uitoefen, kan die voortande vorentoe uitdruk sodat die botande verder uitstaan as die ondertande. Dit kan veroorsaak dat die voortande nie netjies bymekaarkom nie sodat die bo- en onderkaak nie in lyn is nie.
Dit kan kou moeilik maak. Die verhemelte kan ook smaller en hoër ontwikkel, sodat die tande nie in die regte posisie ten opsigte van die tong is nie. Dit kan veroorsaak dat 'n kind sukkel om sekere klanke reg uit te spreek.
Navorsing wys die beste tyd om op te hou duim suig is voor drie of vier jaar oud. Teen daardie tyd kan enige skade meestal nog sonder ingryping omgekeer word.
Party navorsers waarsku egter dat draadjies later nodig kan wees om die skade ongedaan te maak.
Duim of foppie?
As jou baba duim suig, het jy 'n keuse: laat hom toe om sy duim of vingers te suig, of gee hom 'n fopspeen.
Albei het 'n invloed op jou kind se mond-, kaak- en tandontwikkeling, maar daar is ortodontiese fopspene beskikbaar en 'n foppie kan jy immers wegneem. Daarenteen is 'n duim altyd beskikbaar, wat dit moeilik maak om jou kind daarvan te speen.
Die voordeel van duimsuiery is ooglopend as jou baba nog klein is: Dit kan nie op onmoontlike tye wegraak nie, dis altyd beskikbaar as jou baba troos nodig het en dis meer higiënies, want dit kan nie op die grond val nie.
Aan die ander kant het fopspene verskeie voordele: As babas ouer word en begin kruip, word hul hande maklik vuil en is hul duime dus meer onhigiënies, terwyl jy 'n fopspeen kan steriliseer as dit op die grond val. Fopspene is sagter as jou kind se duim en het volgens sommige navorsers minder van 'n invloed op hul tandontwikkeling.
Verskeie studies het ook gewys fopspene kan die gevaar van wiegiedood help verminder.
Aan die negatiewe kant is daar 'n verband tussen fopspene en 'n groter risiko vir middeloorontsteking. 'n Fopspeen wat gedurig in die mond is, kan kinders se spraakontwikkeling belemmer omdat hulle minder "oefen" om te praat.
Het jy geweet?
Die hand wat jou baba verkies om in die baarmoeder te suig, is hoogs waarskynlik ook die hand waarmee hy eendag gaan skryf!
Help hulle ophou
Tandartse beveel aan dat jou kleinding nie tot later as drie jaar oud fopspeen of duim behoort te suig nie. Jy kan natuurlik uit die staanspoor jou baba se duimpie met 'n fopspeen vervang. As jou kind wel duim suig en jy hulle wil speen, kan jy die volgende in gedagte hou.
- Vermy drama Die goue reël is om nie 'n drama van sy duimsuiery te maak nie, anders kan dit hom onnodig angstig laat voel, wat hom net nog meer na sy duim sal laat gryp. Bly rustig, maar maak dit duidelik dat jy dink hy is nou te groot om nog duim te suig.
- Verstaan saam As jou kleinding oud genoeg is om te verstaan, verduidelik dat duimsuiery net vir klein babatjies is en dat dit sy tandjies baie lelik kan maak sodat hy later nie meer lekker sal kan kou nie.
- Prys jou kleinding wanneer hy nie meer sy duim suig nie - vertel hom jy is trots op jou groot seun.
- Beloon hom as hy dit regkry om 'n dag lank glad nie duim te suig nie. Plak plakkers op 'n beloningskaart.
- Herinner hom dat as hy gewoond is om gedurig sy duim te suig, hy soms onbewustelik sy vingertjie in sy mond kan druk. Jy kan hom help onthou deur hom handskoene te laat dra, 'n pleister op die duimpie te plak, of deur eenvoudig sy vinger uit sy mond te trek en sy aandag op iets anders te vestig - sonder om te raas.
- Identifiseer die snellers Hou dop wanneer jou kind geneig is om duim te suig en kyk of jy nie sy behoefte aan sekuriteit op 'n ander manier kan bevredig nie. Hy het dalk behoefte aan ekstra troos of voel 'n bietjie angstig. Trek sy handjie uit sy mond en koester hom 'n rukkie op jou skoot. Soms kan 'n troosvoorwerp soos 'n teddiebeer of spesiale kombersie met slaaptyd help om die sekuriteit van die duim te vervang. Dr. Angela Gilhespie, skrywer van The ABC's of Children's Teeth, sê as kinders nog duim suig wanneer die permanente tande verskyn (gewoonlik teen vyf of ses jaar), kan dit nodig wees om 'n ortodontis te vra om 'n toestel te maak wat 'n mens in die mond plaas en wat dit vir jou kind moeilik maak om duim te suig.
Het jy geweet?
'n Fopspeen kan 'n vroeggebore baba help om vroeër meer melk te begin drink, meer gewig aan te sit en gouer uit die hospitaal ontslaan te word!





















