Ouerskap

FERTILITEIT | Gesukkel met die tweede

Getty Images
Getty Images

Sekondêre infertiliteit - waar 'n mens al 'n kind of twee het maar sukkel om weer swanger te raak - is aan die toeneem en is vir meer as die helfte van infertiliteitsgevalle verantwoordelik. En as jy in dié bootjie is, is die kans goed dat jy nie weet of jy hulp moet soek nie. Feite kan help: Sowat 15 persent van Suid-Afrikaanse vroue ly aan sekondêre infertiliteit (SI), sê dr. Johannes van Waart, 'n verloskundige en fertiliteitspesialis by die Wijnland-fertiliteitseenheid op Stellenbosch.

Tog ken min mense die term en nog minder verstaan dit waarskynlik. Vir baie paartjies wat daaronder gebuk gaan, is die wete dat hulle nie die enigstes is wat sukkel nie én dat dit 'n naam het, soms 'n troos.

Maar is daar enige ander troos of hoop vir 'n paartjie wat een of twee keer sonder hulpmiddels swanger kon raak en nou sukkel om weer ouers te word?

WAT VEROORSAAK SEKONDêRE INFERTILITEIT?

Baie dinge kan tot SI aanleiding gee, maar in byna 30 persent van gevalle is die toestand onverklaarbaar. Fertiliteitspesialiste sê hulle sien dikwels dat 'n paartjie eintlik al met hul eerste swangerskap 'n onderliggende probleem gehad het wat intussen vererger het.

Kortom, baie mense was bloot gelukkig om die eerste keer spontaan swanger te raak.

Soms is die probleem 'n infeksie of 'n operasie wat die vrou intussen gehad het en wat haar vrugbaarheid beïnvloed. Chirurgie om 'n sist van 'n eierstok te verwyder is 'n voorbeeld.

Ouderdom speel ook 'n groot rol. Soos ons almal weet begin vroue se vrugbaarheid ná 30 afneem en ná 35 daal dit sommer skerp. Teen 40 is 'n vrou se kans om swanger te word omtrent 'n derde van wat dit op 25 was.

As jy 'n ouer ma is, kan 'n onderaktiewe skildklier jou ovulasie beïnvloed, terwyl diabetes jou risiko vir 'n miskraam verhoog. Ovulasie-disfunksie is juis een van die groot redes vir infertiliteit.

Hormoonfaktore wat daartoe kan lei dat jy nie menstrueer nie, is nog 'n moontlike sondaar. Laasgenoemde word veroorsaak deur onder meer anorexia nervosa, bulimie, intensiewe oefening, stres en kwaai depressie.

Ander oorsake van SI (wat almal ook van toepassing is op gewone infertiliteit) sluit in probleme met die fallopiusbuise, infeksies en endometriose. Laasgenoemde behels dat van die sagte weefsel aan die binnekant van die baarmoeder daarbuite beland en dan op of rondom ander bek-kenorgane soos die eierstokke begin groei.

Onvrugbaarheid kan ook aan manlike faktore toegeskryf word. Probleme met die produksie, werking of gehalte van mans se sperm is van die vernaamste redes waarom paartjies sukkel om weer swanger te raak.

Mans se fertiliteit begin soos vroue s'n ook ná 35 afneem. By sowat 'n derde van egpare wat weens sekondêre infertiliteit by hulle kom aanklop, is manlike faktore die oorsaak, sê Johannes.

As mans tussen 35 en 40 skielik en baie intensief begin oefen, kan dit ook 'n invloed op hul vrugbaarheid hê.

Baie mense vind egter nooit uit waarom hulle nie weer kinders kon kry of so gesukkel het om weer swanger te raak nie. Die goeie nuus is darem dat tot sowat 15 persent van paartjies met onverklaarbare infertiliteit wel binne 'n jaar (35 persent binne twee jaar) sonder enige hulpmiddels swanger raak as hulle aanhou probeer.

Een van die groot uitdagings is om goedbedoelde maar onsensitiewe kommentaar van vriende, familie en kollegas te sluk.

WANNEER MOET JY HULP SOEK?

Paartjies met sekondêre infertiliteit wag baie langer voor hulle 'n fertiliteitspesialis raadpleeg as dié met primêre infertiliteitsprobleme. Een rede is waarskynlik dat dit moeilik is om te glo dat jy 'n probleem het as jy al voorheen maklik swanger kon raak.

Dit help ook nie dat die meeste mense, dokters inkluis, dink dit is algemeen om tot een jaar te wag voor jy swanger raak nie.

Dit gebeur gereeld dat dokters egpare wat eintlik SI het, huis toe stuur met die boodskap om maar net aan te hou probeer.

So word baie waardevolle tyd ongelukkig verspil, sê Johannes. "Mense kom dikwels te laat by ons uit."

Sy raad aan paartjies is om na 'n voltooide gesin op 38 jaar oud te mik. Gaan soek hulp as:

  • julle al 'n jaar lank probeer en jy nog nie 35 is nie;
  • jy ouer as 35 is en julle ná ses maande nog nie swanger is nie.

Moet ook nie sloer as jy al twee of meer miskrame gehad het nie, 'n geskiedenis van seksueel oordraagbare siektes het, ongereeld menstrueer of besonder pynlike maandstondes kry nie.

WATTER BEHANDELING IS BESKIKBAAR?

Die eerste toetse en diagnose stem ooreen met dit wat paartjies met primêre infertiliteit deurmaak. Naas 'n gesprek oor wat moontlik kan inmeng met jul huidige onvermoë om swanger te raak, behoort toetse gedoen te word om te bepaal of jy eierselle produseer, van watter gehalte dit is, wat die waarde van sekere hormone (soos die anti-Müller-hormoon en estrogeen) in jou bloed is en of jou lewensmaat se spermtelling na wense is.

Toetse moet ook gedoen word om vas te stel of sy sperm gesond en sterk is.

Die behandeling wat aan julle voorgestel word, sal afhang van wat die infertiliteit veroorsaak.

Fertiliteitsmedikasie is een opsie. Dit bestaan meestal uit tablette wat 'n middel bevat wat die groei van eiertjies stimuleer en die vonk vir ovulasie verskaf.

Medikasie om die ontwikkeling van jou baarmoeder se binnewand aan te help, word dikwels bykomend voorgeskryf.

Intrauteriene inseminasie (beter bekend as kunsmatige inseminasie of KI) is ook 'n vorm van behandeling. Dit behels 'n paar laboratoriumbesoeke vir die man en 'n prosedure in die spreekkamer vir die vrou.

In vitro-bevrugting, wat beteken dat bevrugting van die vroulike eier(s) deur die manlike sperm buite die liggaam in 'n spesiale laboratorium plaasvind, is nog 'n opsie.

Gesels eers met 'n sielkundige wat in dié veld spesialiseer voor julle 'n besluit maak, sê Johannes.

By Wijnland deel die spesialiste eers al die feite met paartjies en dan word hulle verwys na 'n sielkundige wat hulle help om op hul volgende stap te besluit.

"Die ideaal is dat paartjies saam 'n ingeligte besluit neem," sê hy.

DIE EMOSIONELE UITDAGINGS VAN SI

'n Diagnose van sekondêre infertiliteit is meestal 'n skok en kan baie spanning vir paartjies veroorsaak. Mense wat hierdie pad moes stap, sê jy worstel met 'n warboel emosies wat frustrasie, wanhoop en skuldgevoelens insluit.

Die skuldgevoelens is boonop dikwels tweeledig.

Aan die een kant voel jy skuldig omdat jy nie 'n boetie of sussie vir jou enigste kind kan gee nie, en aan die ander kant voel jy skuldig omdat jy nie dankbaar genoeg is vir die kind wat jy reeds het nie, want daar is baie paartjies wat geen kinders het nie.

Een van die ander groot uitdagings is om die goedbedoelde maar onsensitiewe kommentaar van vriende, familie en kollegas te sluk.

Baie mense aanvaar ongelukkig dat as jy al 'n baba kon kry, jy mos weer kan.

Dit is duidelik op forums oor hierdie saak dat vrae soos waarom julle so lank wag en wanneer kleinding 'n nuwe boetie of sussie kry, vroue baie moedeloos maak.

Dis ook moeilik om te aanskou hoe ander ma's by jou eersteling se skool weer en weer swanger raak. Anders as vroue met primêre infertiliteitsprobleme kan vroue met sekondêre infertiliteit hulle nie van 'n omgewing onttrek waar almal kinders het nie.

Nog 'n moeilike emosie om te verwerk is dat mense wat nog glad nie kon kinders kry nie, jou tereg as gelukkig beskou.

KLOP HIER AAN VIR HULP

Daar is fertiliteitseenhede in al die groot sentra in Suid-Afrika. Gaan na die Southern African Society of Reproductive Medicine and Gynaecological Endoscopy (SASREG) se webtuiste by sasreg.co.za.

Klik op "Centres of Excellence" en jy sal 'n lys van al die geregistreerde infertiliteitseenhede daar vind.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM