Ouerskap

GESONDHEID | Jou groot gids oor probiotika

Getty Images
Getty Images

Wat jy oor probiotika moet weet

Voor jou en jou kleinding se liggaam optimaal kan werk, is 'n gesonde spysverteringstelsel noodsaaklik. Meer as 500 verskillende soorte bakterieë is hard aan die werk in die spysverteringskanaal. Presies hoeveel en wat hul eienskappe is, verskil van plek tot plek.

Elke mens op aarde het 'n unieke derm-mikrobiotaprofiel (mikrobiota is 'n gemeen- skap mikroörganismes in jou derm) wat in die vroeë kinderjare gevorm word. Hierdie omgewing, of bioom, bly egter nie konstant nie, maar word aanhoudend beïnvloed deur faktore soos dieet of siektes, om maar net twee te noem.

Dr. Anton Janse van Rensburg van Johannesburg sê dat baie aspekte van ons moderne lewe ongelukkig nie die bioom in ons derms gesond help hou nie.

"Antibiotika, rook, stres, anti-inflammatoriese middels, teensuurmiddels vir die maag en die afwesigheid van gegiste voedsel in ons dieet lei alles tot 'n ongesonde bioom. Dit word disbiose genoem."

Die vestiging en instandhouding van 'n gesonde balans van mikroörganismes in jou derm is ingewikkeld, maar wetenskaplikes raak toenemend bewus van hoe die prentjie inmekaarsteek.

Kom ons kyk eers na definisies

Dermflora, mikroflora of derm-mikrobiota is mikroörganismes (piepklein lewensvorms) wat in ons spysverteringskanaal woon. Hierdie organismes kan bakterieë, swamme of ander stowwe wees. Die omgewing waarin hulle voorkom en saamwerk, word 'n mikro- bioom genoem.

Ons het altyd sowel "goeie" as "slegte" bakterieë in 'n mikrobioom. As ons siek word, is daar meer slegte bakterieë en word die balans versteur. Goeie bakterieë help om van die slegtes ontslae te raak en die balans te herstel. Dis dus belangrik om die hoeveelheid goeie bakterieë so hoog moontlik te hou.

Probiotika is lewende, goeie bakterieë wat die balans in die dermkanaal help hou en so ons gesondheid ondersteun, verduidelik prof. Renée Blaauw, professor van kliniese voeding by die Universiteit Stellenbosch. Ons kan dit deur kos of aanvullings inkry.

Daar is baie verskillende soorte probiotika, waarvan Lactobacillus en Bifido- bacterium die bekendste en algemeenste is.

Prebiotika is natuurlike stowwe wat in voedsel voorkom. Dit word nie deur die liggaam verteer nie en is 'n vorm van vesel. Dit verbeter jou algemene gesondheid deur die groei van goeie bakterieë (oftewel probiotika) in die derms te stimuleer.

In 'n neutedop: Prebiotika is voedselbestanddele wat goeie bakterieë (probiotika) help groei en floreer. Dit is meer doeltreffend om probiotika en prebiotika saam te neem as afsonderlik. Hoe werk probiotika? Probiotika kan ons gesondheid op verskillende maniere aanhelp. Dit ondersteun veral ons immuniteit en werk inflammasie teë.

Byvoorbeeld

  • Slegte kieme wat ons lyf aanval, probeer deur die dermwand dring. Die probiotika maak die dermwand minder deurdringbaar en help hulle so uithou.
  • Probiotika heg ook aan die dermslym. Dit help keer dat die kieme siektes veroorsaak.
  • Probiotika help met die vertering of gisting van stysel en produseer ook vitamiene.
  • Dit verhoog die opname van belangrike minerale uit die derms en voorkom dus tekorte wat immuniteit verlaag.
  • Probiotika soos Lactobacillus maak melksuur, wat die dermkanaal suur maak en so die groei van slegte bakterieë keer.

Probiotika bevat goeie bakterieë wat van slegte bakterieë ontslae help raak.

VIND HULLE HIER

Teen hierdie tyd wil jy waarskynlik weet waar en hoe jy hierdie goeie goggas kan inkry ...

Bronne van prebiotika

  • Piesangs, bessies en ander vrugte
  • Hawer
  • Koring
  • Uie
  • Aspersies
  • Preie
  • Tamaties
  • Alfalfaspruite
  • Volgrane
  • Peulgewasse (lensies, boontjies, kekerertjies)
  • Spinasie en ander groente

Bronne van probiotika

  • Jogurt, mits die etiket aandui dat dit lewende kulture bevat.
  • 'n Paar formule- of opvolgmelk- soorte, of babapap - mits die etiket aandui dat dit bygevoeg is.
  • Dit word soms gevoeg by sap of graan-energiestafies - lees die etiket.
  • Gegiste kos soos kefir, kombucha, suurkool en amasi.
  • Probiotika kom ook in verskillende vorme in aanvullings voor.

Jy sal die beste resultate kry as jy 'n kombinasie van pro- en prebiotika inneem. Gee jou kind byvoorbeeld opgekapte piesangstukkies in jogurt.

Hou by die aanbevole dosis as jy 'n aanvulling gee, want te veel kan tot winderigheid lei. Gesels met jou dokter of apteker oor watter aanvulling julle moet kies omdat die spesifieke gesondheidsvoordele van die eienskappe van die spesifieke stamme afhang.

Getty Images
Getty Images

VOORDELE IN OORVLOED

Nie net ons spysvertering- en immuunstelsel baat by 'n goeie balans van voordelige bakterieë nie - hulle woon ook op ons vel. Elke oppervlak van jou liggaam is bedek met mikroskopiese organismes, meestal bakterieë. Hierdie organismes skep hul eie piepklein ekostelsel wat ‘n mikrobioom genoem word. Die teenwoordigheid van voordelige organismes help jou gesond bly omdat jou vel die eerste verdedigingsmeganisme teen aanval van buite is. Probiotika voed die vel se mikrobioom, wat dit help om te floreer en groei. So neem die goeie bakterieë toe tot hulle mans genoeg is vir die minder gawe kieme. Die uiteindelike wenner is jou gesondheid. Kom ons kyk na ander toestande wat ook baat by probiotika kan vind.

20% van besoeke aan die pediater in die eerste vier maande is aan koliek te wyte

IS DIT 'N KUUR OF KOLIEK?

Koliek word beskryf as 'n toestand waarin 'n andersins gesonde baba minstens drie uur per dag troosteloos huil en dit minstens drie keer per week vir minstens drie weke doen. Dit kan so vroeg as op vier weke begin en vervaag gewoon- lik teen omtrent 16 weke. Die gehuil begin meestal laatmiddag of vroegaand en kan ure aanhou. Jou baba kan haar bene hoog optrek, wriemel en rooi in die gesig word.

Die oorsake van koliek is 'n bietjie van 'n raaisel. Jy is egter nie alleen nie - 20 persent van pediaterbesoeke in baba se eerste vier maande is aan koliek te wyte.

Dinge soos allergieë, spysverteringprobleme, laktose-intoleransie, hormone, temperament, 'n onvolwasse immuunstelsel, die omgewing en oorstimulasie - of 'n kombinasie van al hierdie faktore - is moontlik die koliek-sondaars.

As die pediater jou baba ondersoek en niks verkeerd vind nie, kan jy oplossings beproef soos toewikkeling in 'n kombers, witgeraas, 'n fopspeen of 'n kangaroesak.

Beproef gerus ook probiotika wat spesifiek vir babas ontwerp is, want bewyse neem toe dat dit 'n verskil kan maak.

As dit gereeld toegedien word, verbeter of normaliseer dit die balans van mikroörganismes in die dermkanaal, wat die kanaal beter help werk.

Babas word sonder enige mikroflora gebore. Dis waarom hulle so vatbaar vir sekere dermtoestande is. As jy probiotika by jou kind se dieet voeg, kan jy die vlak van voordelige bakterieë in die derms begin bou. Dit sal skadelike bakterieë afskrik.

Effek op ekseem, asma en ander allergieë

Probiotiese aanvullings voor en ná geboorte kan moontlik die voorkoms van asma, allergie en ekseem by kinders verminder, sê prof. Bengt Björkstén, 'n professor in allergievoorkoming en kindergeneeskunde aan die Karolinska-instituut in Stockholm, Swede.

Wetenskaplikes het opgemerk dat daar 'n verskil is tussen die maagdermflora by allergiese en nie-allergiese kinders.

Volgens 'n teorie wat bekend staan ??as die higiëne-hipotese, is babas wat in superhigiëniese hospitale gebore word en dan na skitterende skoon huise teruggaan, meer geneig om allergieë te ontwikkel.

Die teorie is dat jong kinders in die moderne lewe te min aan kieme blootgestel word en dat dit tot toestande soos allergieë en outoimmuun-siektes kan lei, verduidelik Bengt.

Omdat 'n kind se liggaam dus nie soveel bakterieë as in die verlede hoef te beveg nie, begin hul immuunstelsel onskadelike stowwe vir indringerkieme aansien en val dit aan.

Sulke stowwe sluit in allergene (stowwe wat allergieë veroorsaak) soos troeteldierirritasies of stuifmeel.

Navorsers hoop om meer bewyse te vind dat probiotika 'n baba se immuunstelsel aanmoedig om aan die werk te spring op dieselfde manier as wanneer dit in 'n minder skoon omgewing op kieme moet reageer en dit beveg.

Babas wat aan studies deelgeneem het, se atopiese ekseem het verbeter nadat hulle probiotiese Lactobacilli gebruik het. Omtrent 20 persent van die bevolking ly aan dié soort ekseem en dit hou ook verband met asma en hooikoors.

Die navorsing dui aan dat wanneer die derm-mikroflora in die vroeë babajare met behulp van Lactobacilli verander word, dit 'n kind se risiko verminder om later in sy lewe atopiese ekseem te kry.

Voorlopige navorsing wys ook dat daar 'n verband kan wees tussen 'n swanger vrou se vaginale flora en asma by vyfjariges. 'n Moontlik oplossing is dat jy in die laaste vier weke van jou swangerskap 'n aanvulling van Lactobacilli neem.

Miljoene mikrobes word elke dag, met elke sluk, na die dermkanaal van jou baba gestuur.

BORSMELK IS PROPVOL PROBIOTIKA

Borsvoeding help om jou baba se ingewande ná sy geboorte met voordelige bakterieë te vul. Dis omdat miljoene van hierdie piepklein mikrobes met elke slukkie melk na baba se dermkanaal gestuur word.

Borsmelkbakterieë speel verskeie rolle in jou baba se dermkanaal. Dit verminder die voorkoms en erns van infeksies, verbeter die dermversperring deur die hoeveelheid slym wat as 'n skild dien te verhoog, lei die immuunstelsel op om goeie bakterieë van slegtes te onderskei, produseer anti-inflammatoriese stowwe wat die derms laat floreer, verbrand energie wat bepaal hoeveel vet jou baba berg, en breek suiker en proteïene af.

Die bakteriese samestelling van jou borsmelk word weer beïnvloed deur hoe jy die lewe geskenk het, asook deur jou dieet en welstand, jou omgewing en selfs jou geografiese ligging en ouderdom! Die gebruik van antibiotika en probiotika tydens swangerskap het natuurlik ook 'n uitwerking. Fassinerend, nè?

Elke vrou se borsmelk is so uniek dat dit as 'n vingerafdruk beskou kan word. Die studie van borsmelk speel dus 'n deurslaggewende rol in hoe pasgeborenes hul immuunstelsel bou en siektes later in hul lewe afweer.

Elloise du Toit, 'n mediese mikrobioloog by die Universiteit van Kaapstad, sê dat die miljoene mikrobes in borsmelk van kardinale belang is om te voorkom dat babas later in hul lewe siektes en ander akute infeksies opdoen.

Dit sluit in oorinfeksies, breinvliesontsteking, urienweginfeksie, asma, tipe 1-diabetes en vetsug.

Dis nodig dat 'n optimale groep bakterieë in babas se ingewande gaan woon om hul immuunstelsel te help ontwikkel.

Medici stem wêreldwyd saam dat borsvoeding die beste vir babas is; tog word net 38 persent van alle babas in die wêreld 'n halwe jaar lank gevoed. Die uitwerking op hul gesondheid is breedvoerig bestudeer.

In ontwikkelende lande is babas wat nie geborsvoed word nie, byna 15 keer meer as borsgevoede babas geneig om in die eerste maande van hul lewe te sterf as gevolg van siektes soos diarree en longontsteking.

Getty Images
Getty Images

BABAS EN HUL SPYSVERTERINGSPROBLEME

Ma's is dikwels bekommerd dat hul baba hardlywig is as die doek al 'n rukkie leeg is en dit lyk asof baba druk. Die beste aanduiding van hardlywigheid is egter nie gereeldheid nie, maar eerder 'n droë en harde stoelgang - selfs al het jou baba gereeld 'n poefdoek.

Dit is belangrik om jou baba goed gehidreer te hou, want dit is die beste manier om hardlywigheid te voorkom.

Aan die ander kant van die poefspektrum is ma's bekommerd oor diarree. Babas wat borsvoed, het gewoonlik baie natterige poefdoeke. Sommige babas kan 10 vuil doeke per dag hê, en ander net een per week - dit is alles normaal.

Wees egter op die uitkyk vir slym in die stoelgang of 'n enorme poefdoek, want dit kan wel 'n teken van diarree wees.

Babas met diarree kan ook koorsig wees en braak. Ontwatering is vir veral klein babas baie gevaarlik en daarom moet jy jou dokter so gou moontlik raadpleeg.

Die vele voordele van probiotika sluit in dat dit dermbeweging verbeter en daarom vir die behandeling van sowel hardlywigheid as diarree kan help.

Probiotika versterk die dermwand en beskerm so teen infeksie en inflammatoriese dermsiektes.

Navorsing wys ook dat as vroeg- gebore babas ses weke lank probiotika kry, dit die gevaar van sterfte aan nekrotiserende enterokolitis kan verlaag. Dis 'n siekte waarin 'n deel van die spysverteringskanaal besmet raak en afsterf.

Probiotika help ook met die vertering van laktose in voedsel, wat weer help met die opneem van voedingstowwe - veral minerale soos kalsium.

KINDERS EN HARDLYWIGHEID

Hoewel tekens en simptome van hardlywigheid in die eerste lewensjaar kan voorkom, is simptome geneig om 'n hoogtepunt te bereik tydens potjielesse - iewers tussen twee en vier jaar oud.

Hardlywigheid is trouens 'n algemene en angswekkende probleem by kinders, en sowat 30 persent sukkel selfs ná puberteit nog daarmee.

Vir 'n jong kind kan hardlywigheid vinnig meer as 'n dermprobleem word. Angs en stres kan die simptome vererger, en behalwe vir ongereelde en pynlike stoelgange kan jou kind ook later begin weier om toilet toe te gaan.

Jy kan help deur hom meer vloeistof te gee en meer vesel by sy dieet in te sluit. As dit nie werk nie, is stoelgangversagters jou volgende opsie.

Maak ook seker dat jou kind genoeg tyd (3 tot 10 minute) het om op die toilet te ontspan en dat hy nie aangejaag voel nie.

Afgesien van die gewone behandeling wat ons hierbo noem, kan jy jou kind gerus ook daagliks probiotika gee om 'n moontlike wanbalans in die dermflora te behandel. Dit sal help om die balans te herstel en so voedselbeweging deur die dermkanaal verbeter.

KINDERS EN DIARREE

Baie kinders onder drie beland in die hospitaal as gevolg van gastroënteritis en die daaropvolgende diarree. Dit word veroorsaak deur 'n aantal verskillende virusse, bakterieë of parasiete, insluitend die rotavirus en toenemend ook die norovirus.

Sommige kinders loop 'n groter gevaar om diarree op te doen: kinders met immuungebrekstoestande, onderliggende chroniese toestande of kinders wat behandeling ondergaan. Hulle kan almal 'n ernstiger en langdurige infeksie opdoen.

Wat kan ouers doen om te help? Hoewel rehidrasie die belangrikste behandeling vir diarree is, kan sekere probiotika die duur en intensiteit van die simptome verminder. Gebruik dit gerus saam met rehidrasie-oplossings.

As jy vir jou kind probiotika gee, moet jy die korrekte een vir die toestand kies. Maak seker dis deeglik vir die toestand getoets en ook geskik vir jou kind se ouderdom. Navorsing wys die trefkrag van 'n probiotikum hang van die stam af. Raadpleeg dus eers jou dokter of apteker sodat jy seker is jy kies die korrekte weergawe wat die beste sal help.

Wat van antibiotika?

As jou kind antibiotika neem, is dit 'n goeie idee om hom ook ekstra probiotika te gee. Dit is omdat antibiotika die balans van organismes in die dermkanaal verander en sodoende kan sekere skadelike bakterieë die oorhand kry. Dit kan weer tot maagontsteking of diarree lei, of jou kind se maag kan opgeblaas en seer wees. Vra jou dokter vir probiotika wanneer sy antibiotika voorskryf. Vra ook wanneer jy daarmee moet begin, want dit kan die doeltreffendheid van antibiotika belemmer as dit tegelykertyd toegedien word.

Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM