GESONDHEID | Klop winterkwale

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Normale, gesonde kinders kan binne net een jaar tot sewe boonstelugweginfeksies (oftewel verkoues) opdoen. As hulle boonop in 'n dagsorgsentrum of speelskool is, verhoog die risiko tot 14 keer per jaar. Die kans is dus skraal dat jou kroos vanjaar verkoue gaan vryspring.

Griep, die ander berugte wintersiekte, kom ongelukkig byna net so algemeen by kinders voor. Ons vertel jou hoe om jou siek kind gou beter te laat voel.

Verkoue of griep?

'n Loopneus, hoofpyn, seer keel, oë wat traan en 'n gehoes is alles simptome van verkoue, 'n toestand wat deur die rinovirus veroorsaak word.

Griep word deur die influensa-virus veroorsaak en sal jou kind pap en lusteloos laat voel. Die simptome stem baie met dié van verkoue ooreen, maar is hewiger en die virus is gevaarliker. Simptome sluit in 'n skielike hoë koors, koue rillings, spierpyn, hoofpyn en 'n toe, maar droë neus.

Die beste medisyne

Daar is ongelukkig nie medisyne wat verkoue en griep kan genees nie. Maar jy kan jou kind help deur die simptome te verlig terwyl sy liggaam self die virus uitoorlê. Hier is raad vir albei siektes:

  • Gee medisyne vir pyn en koors.
  • Laat jou kind baie rus.
  • Hou sy maaltye lig, maar gee baie vloeistowwe. Hieronder volg spesifieke raad vir die behandeling van die simptome en komplikasies van verkoue en griep.

Koors

'n Normale koors is tussen 36 en 37 grade Celsius. Meer as 39 grade is gevaarlik en moet verlaag word.

'n Hoë koors gaan soms gepaard met 'n rooi gesig en lusteloosheid. Ander simptome kan insluit 'n seer keel, verkouesimptome, uitslag, 'n stywe nek, hoofpyn, lomerigheid, prikkelbaarheid, ongewone asemhaling, swelling tussen die kaak en oor (aan een of albei kante van die kop), gereelde urinering, braking en/of diarree, oorpyn en nagtelike gehuil.

Koors dui op siekte en sodra jou kind koorsig word, moet jy haar fyn dophou. Neem haar dadelik dokter toe as sy jonger as 'n jaar is, of as die koors vergesel word van 'n stywe nek, lomerigheid of hoofpyn. Gaan ook dokter toe as die koors langer as 12 uur duur, of as sy langer as ses uur weier om iets te drink.

Behandeling tuis Temperatuurbeheer is baie belangrik. Trek soveel klere moontlik uit en moet haar nie met komberse toegooi nie. Spons haar af met louwarm water of tel haar in 'n louwarm bad, ongeag hoe koud dit buite is. Gee vloeibare parasetamol. Moet nooit aspirien gee nie. Hou haar met 'n waaier koel. Hou mooi dop om te kyk of ander simptome voorkom.

Middeloorontsteking

Infeksie in die buise van Eustachius tussen die keel en die middeloor is een van die algemeenste komplikasies van verkoue.

Simptome kan insluit dat baba gedurig aan sy ore vat, skielik gil, koors het en dat etter by die oortjie uitloop.

Behandeling tuis Antibiotika as die infeksie bakteries is (jou dokter sal dit kan bepaal) en pynmedisyne soos parasetamol om die pyn en koors te verlig. Moet niks in die oor sit nie, maar iets warms kan oor die oor gehou word om pyn te verlig. Hou jou kind regop, want as hy lê kan dit seerder wees.

'n Toe neus

'n Verstopte neus is vir veral klein babas baie onaangenaam.

Behandeling tuis Behandel dit met 'n soutwateroplossing-neussproei. Onthou egter dat sommige neusdruppels nooit langer as vyf tot sewe dae aaneen gebruik moet word nie. Vra jou apteker ook vir 'n slymdrywende produk, en vind uit watter soort die beste vir jou kind sal werk.

Help jou baba deur die slym met 'n spesiale spuit te probeer uitsuig. Apteke en babawinkels verkoop hierdie toestelle, maar wees gewaarsku dat dit nie altyd so doeltreffend is wanneer slym diep in die neusgang vassit nie. As jy borsvoed, kan jy voor 'n voeding 'n bietjie borsmelk in jou baba se neusie drup. Moedersmelk bevat probiotiese bakterieë wat kan help om 'n toe én loopneus op te klaar.

Brongitis, mangel- en longontsteking

Brongitis is ontsteking van die longpypies en veroorsaak 'n gehoes - aanvanklik droog en later slymerig - met of sonder koors.

'n Dokter moet die diagnose maak en sal waarskynlik antibiotika en 'n hoesmiddel voorskryf om die slym te help oplos. Soms is kortisoon of 'n asmapomp, nebulisering of fisioterapie ook nodig.

Behandeling tuis Gee vloeibare parasetamol om die koors te verlig. Hou die lug in jou kind se kamer met 'n lugbevogtiger vogtig. Warm drankies kan die hoes verlig.

Die simptome van mangelontsteking is skielike koors, rillings, hoofpyn en 'n seer keel.

Naarheid en diarree is ook algemeen en kinders verloor gou hul eetlus omdat sluk pynlik is. Soms loop die neus, en die kliere onder die kaak kan vergroot. Kinders met hierdie simptome moet dadelik dokter toe. As jy die doktersbesoek uitstel, kan verdere komplikasies soos middeloorontsteking ontwikkel.

Longontsteking gaan gepaard met 'n matige tot hoë koors en 'n droë hoes. Jou kind kan ook van borspyn en naarheid kla, sal swak wees en moeilik asemhaal. Kry haar altyd vinnig by 'n dokter. Longontsteking kan voorkom word met die entstof Prevenar, wat ook vir die voorkoming van middeloorontsteking gebruik word. Vra jou klinieksuster, apteker of dokter meer daaroor.

Hoes

'n Akute hoes wat met 'n verkoue of griep gepaardgaan en wat 'n paar dae lank duur, noop 'n doktersbesoek. Jou dokter kan dan vasstel hoe ernstig die hoes is en die regte medisyne voorskryf.

Behandeling tuis Vir 'n minder ernstige hoes - wat binne vier of vyf dae behoort te wyk - kan jy jou kind parasetamol gee.

Die dokter kan verskeie hoesmiddels aanbeveel vir 'n slymerige hoes, of om die spiere te verslap wat tydens hoesbuie saamtrek.

Pasop vir sommer enige soort oor-die-toonbank-hoesmedisyne. Daar is dikwels min of geen bewys dat hierdie mengsels werk nie en die meeste het boonop newe-effekte. Bly ook weg van hoesonderdrukkers.

Seer keel

Dit gaan vanself verby sonder behandeling, maar dit kan ernstig wees as jou kind begin opgooi, 'n uitslag en/of rooi tong het en weier om te eet omdat dit te seer is. Net 'n dokter kan dan vasstel of daar 'n bakteriese infeksie is ('n rooi keel dui soms hierop), in welke geval antibiotika die gewenste behandelingsmetode is.

Behandeling tuis Koue drankies wat nie suur bevat nie om die keel te streel en vloeibare parasetamol om die pyn te verlig.

Toe bors

'n Kortasem kind met 'n fluitbors wat na sy asem hyg of baie hard asemhaal, móét by 'n dokter uitkom.

Behandeling tuis Jy kan Vicks aan die bors van 'n kind ouer as twee smeer, maar onthou dat dit hom nie makliker laat asemhaal nie, net gemakliker laat voel.

Longontsteking kan voorkom word met die entstof Prevenar, wat ook vir die voorkoming van middeloorontsteking gebruik word.

Die beste voorkoming

Dr Lourens Terblanche, Mediese Hoof: Suid-Afrika, Sanofi Vaccines, sê: "Griepvirusse ontwikkel voortdurend, dus maak die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) twee keer per jaar aanbevelings om entstofsamestellings by te werk.

Pasiënte wat ‘n hoë risiko het om ernstige of ingewikkelde siektes te ontwikkel weens griep, moet elke jaar inenting teen die griep prioritiseer." 'n Griepinspuiting is die doeltreffendste manier om die kans te verminder dat jou kind griep kry. Hier is wat jy moet weet.

  • Die inspuiting is van ses maande af veilig.
  • Die entstof word van dooie virusse gemaak. Dit beteken die inspuiting kan jou nie siek maak nie.
  • Die entstof beskerm mense net teen die griepvirus en nie teen gewone verkoue of ander lugweginfeksies nie.
  • Griepinspuitings word een keer per jaar toegedien, gewoonlik kort voor die winter, maar jy kan dit enige tyd kry.
  • Kinders wat nog nooit voorheen een gekry het nie, moet 'n maand ná die eerste inspuiting 'n opvolginspuiting kry.
  • Kinders onder drie kry die helfte van 'n volwasse dosis.
  • Die griepinspuiting is veilig vir swanger vroue en ma's wat borsvoed.

Help jou kind só

Naas 'n gesonde dieet is gereelde hande was een van die mees basiese voorkomingsmaatreëls wat verkoue- en griepkieme weghou. Leer jou kinders van kleins af om gereeld hande te was omdat virusse alte dikwels versprei word deur direkte aanraking soos wanneer siekes uit dieselfde beker drink, wanneer hulle aan mekaar vat of as die kieme iewers op 'n speelding agterbly. Nog praktiese wenke:

  • Voorkom dat vertrekke te warm en bedompig raak.
  • Bly weg van siek mense.
  • Moenie kinders skielik aan koue blootstel ná 'n warm bad of 'n lang ruk in 'n warm vertrek nie.
  • Hou jou kinders weg van rokers.
  • Leer jou kinders om in hul elmboog te hoes. As hulle nies, moet hulle dit in 'n sneesdoekie doen en agterna hul hande was.
  • 'n Bietjie meer vitamien C as gewoonlik kan help om die verkoue vinniger te laat opklaar. Vars vrugte is 'n goeie plan: lemoene, nartjies, kiwivrugte, koejawels en aarbeie.
Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

CTA