Ouerskap

Grootskool: Die groot dag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Dis normaal om benoud oor die onbekende te voel. Grootskool is 'n groot stap en die blote gedagte kan sommige kinders (en ouers) oorweldig. Die paar dae wat daardie eerste skooldag voorafgaan, bied die volmaakte geleentheid om oor gevoelens te praat en oor hoe om sekere emosies te hanteer. Doen dit speels, hou dit lig en gee praktiese raad.

Stuur iets saam skool toe wat haar aan jou laat dink.

Doen dit vooraf

1. Maak saam 'n "Ek gaan skool toe!"-boek. Hierin kan julle saam die storie skryf en prentjies teken waarin mamma verduidelik hoe 'n skooldag verloop en wat die verskillende elemente daarvan is, soos: aankoms, groet juffrou en maatjies, klaswerk, pouse, 'n kosblik vol verrassings, buitespel, verdere klaswerk, en so aan. So sal jou kind baie meer voorbereid wees op die onbekende en haar eerste skooldag met meer selfvertroue aanpak.

2. Die aand voor die groot dag is amper net so belangrik as die groot dag self. Hoe minder spanning jy en jou kleinding saam bed toe neem, hoe minder gespanne sal die volgende oggend verloop. Hou dinge rustig en beskou dit as die laaste geleentheid om met jou kleuter te bind. Môre is sy 'n skoolkind.

3. Maak 'n spesiale ete soos alfabetsop en prys haar as sy van die lettertjies herken. Vertel haar hoe gereed sy vir skool is en dat hierdie alfabetlettertjies net die ding is om haar brein aan te skakel sodat sy sommer fluks by die skool sal kan leer.

4. Pak haar uniform netjies uit en besluit ook wat jy die volgende oggend wil aantrek sodat niemand op soek na klere hoef rond te skarrel nie.

5. Vertel 'n spesiale lekkervoel-slaaptydstorie wat haar senuwees sal help bedaar. Hou op by die deel waar sy vrolik en gelukkig by haar nuwe juffrou met klaswerk begin en sê dat sy die storie die volgende aand kan voltooi met alles wat sy daardie dag beleef het. Jy kan mooi prentjies teken wat jou storie illustreer of dit van die internet aftrek en op flitskaarte plak. Pak die flitskaarte in haar kosblik. Met pouse sal sy dit ontdek, die samesyn tussen julle onthou en ook daarna begin uitsien om vanaand haar deel van die storie te vertel.

6. Speld 'n verrassinkie aan haar skooltas vas terwyl sy slaap, soos 'n ballerina aan die ritssluiter of 'n balletjie aan 'n rekkie. 'n Shoulder-buddy ('n klein poppie wat kinders aan hul klere haak en op die skouer dra) is 'n baie goeie idee. Jy sal verras wees hoeveel korter en ligter dit die rit skool toe kan maak.

WENK

Vra of jy jou kind aan die juffrou kan gaan voorstel 'n dag of twee voor die skool begin.

Wanneer die groot dag aanbreek

1. Speel jou kind se gunstelingliedjie om haar uit die vere te kry - sommer kliphard. 'n Mini-danspartytjie is net die ding om woema in die dag te sit. Dans saam! Dit sal haar laat glimlag.

2. Plak of skryf 'n briefie op haar spieël wat sy kan ontdek wanneer sy aantrek. Gebruik sommer lipstiffie of seep as jy nie gou genoeg 'n vel papier kan nader trek nie. Al kan graadeentjies nog nie lees nie, herken die meeste hul eie naam, die woord mamma en 'n groot rooi hart. Dit sal haar dadelik gelief laat voel.

3. Skryfbehoeftes maak baie kinders opgewonde. Koop 'n paar ekstra kryte of potlode wanneer julle die skryfbehoeftes vir skool gaan aanvul en laat haar dit op haar bedkassie of by die ontbyttafel ontdek - nuwe proviand spesiaal vir by die huis.

4. Versier die ontbyttafel met blomme, servette, boublokkies of skoolverwante speelgoed en hang 'n banier teen die muur wat lui: Geniet jou eerste skool-dag. Help haar om dit saam met jou te lees.

5. Sorg vir 'n buitengewone ontbyt wat by die buitengewone aard van die dag pas, iets wat sy sal onthou en koester. Bak 'n pannekoek, plaatkoekie of omelet in die vorm van haar voorletter, of skryf 'n boodskap met tamatiesous of versiersuiker op haar bord. Dink aan gesonde bederfies soos bessies, muffins, kaaswiggies, of selfs soetgebak soos 'n sjokolade-croissant. Dit gaan beteken dat jy vroeg moet opstaan en ja, dis moeite om te berei, maar dit gaan beslis 'n opheffende uitwerking op jou kind se gemoed hê.

6. Versier die kar. Dit werk vir pasgetroudes, hoekom nie vir jou graadeentjie ook nie? Maak ballonne en linte of stroke kreukelpapier aan die dak, kattebak of waentjiehaak vas. Teken iets met wit skoenpolitoer op die deure en die kinders sal dink dis die heel beste rit ooit (of die grootste verleentheid van hul lewe - dit is 'n risiko, maar in graad 1 is jy waarskynlik nog veilig).

7. Neem 'n foto van jou kind in haar uniform voor die huis en dan weer voor die skool of voor haar klas. Laat sy 'n wit- of swartbordjie vashou waarop haar naam staan en wat sy dink sy eendag wil word. Of skryf dit met bordkryt op die oprit en laat sy langsaan lê vir die foto: "Simoné (6), skilderywinkeltannie op Stilbaai". Vertel haar hoe oulik sy lyk en blaas 'n bietjie selfvertroue in daardie lyfie wat binnekant bewe.

8. Teken hinkspel-blokke op die plaveisel van jou voordeur tot by die kardeur en speel-spring saam met haar skool toe.

9. 'n Kosblik is 'n wonderlike ding. Dis 'n stukkie huis in jou kind se hande en die geleentheid om met haar te kommunikeer sonder om self daar te wees. 'n Kosblik kan baie troos bring. Onthou daardie flitskaarte van gisteraand se slaaptydstorie. Gee iets spesiaals saam, soos 'n waatlemoenstuk in 'n legkaartvorm. 'n Mens kry toebroodjievormsnyers wat jou twee gewone snye bruin brood in twee dolfyne en 'n hartjie (of iets dergeliks) kan omtower.

10. Graveer hartjies en haar naam in haar piesang se skil. Die gravering verbruin ná 'n uur of twee en kan baie mooi gelees word.

WENK

Bou jou kind se selfvertroue deur vir haar te vertel hoe gelukkig sy gaan wees en hoe dapper sy is.

Middag ná die groot oggend

Wat is baie lekkerder as die eerste dag van skool? Om terug ná die eerste dag van skool huis toe te kom.

Verwelkom haar terug met iets wat sy gaan onthou, soos 'n welkombanier of blommekransie op die buitehek of ballonne en linte teen die voordeur. Dit sal haar help om saam met jou te ontspan en die middag te geniet. Wees belangstellend, gesels met haar oor haar dag en sorg dat jy genoeg een-tot-een-aandag aan haar skenk.

Verras haar met 'n onverwagte uitstappie om roomys te gaan eet. Maak egter seker sy weet dis 'n uitsondering en dat dit nie elke middag ná skool gaan gebeur nie.

Weet maar dat jong kinders met groot opgewondenheid terug van die skool af gaan kom en dat hulle waarskynlik van hul oortollige energie ontslae sal moet raak. Neem hulle park toe of gaan ry saam fiets. Dis pret en kan help om hulle vanaand vroeg genoeg in die bed te kry.

Julle kan ook as gesin saam 'n vroeë skemerpiekniek vir aandete in die tuin of park gaan hou. Dit sal almal laat ontspan. Hou 'n pretuur waar die hele familie saam aan 'n aktiwiteit deelneem, soos bordspeletjies of sitkamersokker.

Getty Images
Getty Images

Wat jy liefs nie moet doen nie

1. Probeer om nie die aand of oggend voor die eerste skooldag jou humeur te verloor nie. Wees ferm oor gesinsreëls, maar verskoon dit maar as iets nie na wense opgeruim of gedoen word nie. Hou die atmosfeer lig en gemoedelik.

2. Moenie raas oor ontbyt wat nie geëet word nie - haar senuwees knaag. Stel liewer voor dat sy net 'n happie neem van iets waarvan sy werklik hou - soos 'n stukkie kaas of 'n happie jogurt - al was dit nie deel van die ontbyt wat jy voorgesit het nie. Dit sal help om haar tot pouse deur te sien, wanneer sy al gemakliker sal voel en haar kosblik met mening sal bydam.

3. Moenie te lank om jou kind draai omdat jy self onseker is nie. Hou die afskeid kort, al is dit moeilik. Kinders kan aanvoel as jy senuagtig is en dit laat hulle ook angstig voel. Moet aan die ander kant nie wegsluip nie. Kinders kan baie gou ontredderd voel en werklik bang wees as hulle nie weet waarheen jy verdwyn het en wanneer jy gaan terugkom nie. Hierdie angstigheid kan heeldag knaag en hul dag bederf. Laat hulle liewer op 'n subtiele manier weet dat jy nou gaan - "ek sien so uit na wat jy my vanmiddag gaan vertel wanneer ek jou weer kom haal" - en verlaat die klas sonder 'n fanfare.

4. Moenie die juffrou op die eerste skoologgend stormloop en lang lyste inligting oor jou kind uitblaker nie, dit kan jou kind baie verleë maak én die juffrou moet aan- dag aan al haar nuwelinge skenk. Skryf liewer 'n nota as daar dringende inligting is wat jy met die juffrou moet deel.

5. Moenie jou kind sonder die nodige skoolbehoeftes skool toe stuur nie. Maak vooraf seker van die skryfbehoeftelys en wat jou kind nog op die eerste dag moet saamneem, anders voel sy onvoorbereid en onseker.

6. Moenie dat jou eie senuwees op hol raak nie. Ouers is dikwels meer gespanne as hul kinders en kan maklik oor nietige goedjies oorreageer. Wees so gemoedelik en gelykmatig moontlik. Jou spanning word jou kind se spanning en sommige kinders ervaar dit baie intens.

OULIKE IDEE

Gee jou nuwe graadeentjie 'n klein flessie "towersand" (fairy dust of enige houertjie met blinkers) en volg die aanwysings.

AANWYSINGS

Laat mamma die towersand- gediggie voor slaaptyd vir jou lees en sit die flessie towersand onder jou kussing. Jy sal die volgende oggend dapper wakker word en heeltemal gereed vir jou eerste dag van skool wees.

Gediggie

Môre is die dag

Jou eerste dag van skool

Wie weet, dis dalk 'n dag

Waarop jy toorkrag kan verwag

Geen rede om bang te wees nie

Jy gaan baie maatjies maak

Maar as jou hartjie tog klop-klop

Sal 'n knypie sand als regmaak

Hierdie towersandjies

Wat onder jou kussing lê

Hierdie towersandjies

Sal jou sommer baie moed laat hê

So slaap knus op hierdie sandjies

Dit sal jou voorberei

Slaap met die sandjies styf teen jou lyf

En onthou jy's altyd net so na aan my

Louïne van der Vyver

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM