VRAAG: Ek is so bekommerd. Ek het my dogtertjie nou al drie keer gevang dat sy met vriende se kind dokter-dokter speel. Die ander dogtertjie se broekie was die eerste keer af en die ander twee keer was my kind se broekie af. Hulle is pas vyf. Ek weet nie wat presies hulle gedoen het nie. Ek het die eerste keer mooi oor privaatheid verduidelik, maar die boodskap het duidelik nie deurgedring nie. Hoe hanteer ek dit? Ek het ook nog nie vir die ander ma laat weet nie, maar ek voel ek moet. Ek is lus om die vriendskap te beëindig - of oorreageer ek?
MADELEIN ANTWOORD: Om onkant betrap te word deur jong kinders se selfverkenning en nuuskierigheid oor liggaamsdele en seksuele kwessies is een van die ongemaklike werklikhede van ouerskap en kan 'n magdom kommerwekkende vrae laat ontstaan, soos: "Is my kind normaal?", "Moet ek bekommerd wees?" en "Wat moet ek sê?" Hoewel dit ongemaklik is om met kinders oor liggaamsveranderinge en seksuele sake te praat, is dit een van die belangrikste geskenke wat ouers aan hul kinders kan gee om seker te maak dat hulle fisiek en emosioneel gesond en veilig in hul liggaam grootword. Dit is egter belangrik om eers seksuele ontwikkeling by jong kinders te verstaan voor 'n mens hulle daarin kan lei en onderrig. Soos alle vorms van menslike ontwikkeling, begin seksuele ontwikkeling by geboorte. Kinders se kognitiewe, taal- en sosiale ontwikkeling beïnvloed hul seksuele ontwikkeling en verklaar baie duidelik waarom voorskoolse kinders nuuskierig is en graag seksueel verken. Die uiteensetting hieronder verduidelik waarom seksuele gedrag en verkenning normaal en deel van kinders se gesonde ontwikkeling is.
Voorskoolse kinders se kognitiewe, taal- en sosiale ontwikkeling
- Jong kinders is gefokus op gemak en plesier. Hulle sien hulself nie deur ander se oë nie. Hulle is nie selfbewus nie.
- Hulle is nuuskierig, hulle wil graag bepaal hoe dinge werk en hoe dinge met mekaar ooreenstem en van mekaar verskil.
- Hulle leer deur die gebruik van hul sintuie, veral deur te kyk en te voel.
- Hul woordeskat brei vinnig uit.
- Jong kinders se gedrag word beïnvloed deur die gedrag van die mense om hulle. Hulle hou ander mense dop en boots hul gedrag na.
- Voorskoolse kinders het 'n beperkte vermoë om hul gedrag te beplan en te beheer. Hulle het nie 'n goeie begrip van die langtermyngevolge van hul gedrag nie.
Voorskoolse kinders se seksuele ontwikkeling en gedrag
- Jong kinders is nie beskeie nie en wil graag gemaklik voel. Hulle sal uittrek en kaal voor ander rondloop as hulle byvoorbeeld warm kry. Hulle gee nie om hoe ander mense voel nie, want hulle verstaan nie die uitwerking van hul gedrag op ander nie.
- Hulle is dus nuuskierig oor die verskille tussen die liggaamsdele van seuns en meisies, asook die verskille tussen die liggaamsdele van kinders en volwassenes.
- Hulle leer ook van seksualiteit deur die gebruik van hul sintuie, veral deur te kyk en te voel.
- Hulle gebruik woorde wat verband hou met urinering ("piepie") en ontlasting ("poep-poep") wanneer hulle hul privaat dele naam gee. Jong kinders sal die tegniese name (soos vagina, vulva, penis, anus) gebruik as hulle hierdie terme geleer word.
- Hulle boots die gedrag van ander kinders en volwassenes na en speel "dokter", "huis" of "mamma en pappa" met ander kinders.
- Kinders se tipiese seksuele gedrag (soos om nuuskierig na 'n ander kind se privaat dele te kyk) is onbeplan. Hul gedrag is impulsief en hulle dink nie daaroor na nie.
- Hoe gereeld 'n kind seksuele gedrag herhaal, hou dikwels verband met hoe versorgers op die kind se aanvanklike seksuele gedrag reageer.
Wanneer kinders seksueel optree en verken, dui dit dikwels daarop dat dit tyd is om hulle meer oor die lewe te leer en dat hulle 'n behoefte aan kennis het.
As 'n mens dié normale ontwikkeling van kinders in gedagte hou, is die seksuele spel tussen hulle dus meestal 'n uitdrukking van hul natuurlike nuuskierigheid. Daar is egter kriteria waaraan kinders se tipiese, onskuldige seksuele spel en verkenning moet voldoen om dit te onderskei van problematiese seksuele spel.
Normale seksuele verkenning ...
- Kom voor tussen kinders wat gereeld saamspeel en mekaar goed ken.
- Kom voor tussen kinders van dieselfde algemene ouderdom en fisieke grootte.
- Is spontaan en onbeplan.
- Vind ongereeld plaas.
- Is vrywillig (albei kinders het ingestem tot die gedrag en nie een van die kinders is ongelukkig of ongemaklik nie).
- Behels dat die kind se aandag maklik afgelei word wanneer die ouers 'n stokkie voor die gedrag steek en die reëls rondom privaatheid verduidelik.
Bloot omdat gedrag by kinders normaal en te wagte is, beteken nie dat dit geïgnoreer moet word nie. Wanneer kinders seksueel optree en verken, dui dit dikwels daarop dat dit tyd is om hulle meer oor die lewe te leer en dat hulle 'n behoefte aan kennis het.
Jy kan jou kind dus rustig vertel dat dit tyd is om aan te trek en elke kind dan vra om na 'n ander kamer in die huis te gaan. Kry eers jou gedagtes bymekaar en stap selfs vir 'n paar minute weg voor jy iets sê.
Lig beslis die ander ouer in en kom ooreen om dieselfde inligting met albei kinders onderskeidelik te bespreek sodat albei dieselfde kennis het en weet watter reëls met toekomstige kuiers geld.
Wanneer jy met jou kind oor seksuele gedrag praat, is dit belangrik om 'n kalm en egalige stemtoon te handhaaf. As die gesprek jou kind bang laat voel, is die moontlikheid skraal dat sy in die toekoms enige ongerymdhede met jou sal deel. Vra soveel oop vrae moontlik sodat sy in haar eie woorde kan vertel wat gebeur het eerder as om net ja of nee te antwoord:
- Wat het julle gedoen?
- Waar het julle die idee gekry?
- Het iemand dit vir julle gewys?
- Hoe het jy daaroor gevoel dat jy dit doen?
Hoewel kinders gewoonlik goed reageer wanneer ouers tyd bestee om die korrekte inligting te deel en hul vrae geduldig te beantwoord, is dit belangrik om ouderdomsgepaste inligting te verskaf wat pas by jou kind se ontwikkelingsvlak.
Jy hoef jou kind nie op een slag met al die nodige inligting te bombardeer nie. Laat die situasie - en jou kind se vrae - lei tot die lesse wat jy deel.
Kinders kry die grootste deel van hul seksuele opvoeding dikwels by ander kinders en bronne soos televisieprogramme, liedjies, flieks en videospeletjies. Nie net is hierdie inligting dikwels verkeerd nie, dit het dalk baie min te doen met die seksuele waardes wat jy as ouer wil oordra.
Eksplisiete seksuele aktiwiteite vir volwassenes word soms tydens "gesinstyd"-televisieprogramme, in advertensies en op kinderkanale gevind. Monitor hierdie bronne dus baie fyn!
Dit is baie belangrik om jou kind deurlopend veiligheidsboodskappe te leer. Hier is 'n oorsig van die belangrikste inligting wat jou kind sal bemagtig om haarself te beskerm:
Veiligheidsboodskappe vir jong kinders
- Jou liggaam behoort aan jou.
- Daar is 'n verskil tussen goeie aanraking (soos 'n handdruk) en slegte aanraking (iemand wat aan jou privaat dele raak).
- Jy het die reg om "nee" te sê as iemand aan jou wil vat, selfs al is dit 'n maatjie.
- Daar is 'n verskil tussen 'n goeie geheim (soos 'n geskenk vir jou verjaardag) en 'n slegte geheim (soos as 'n maatjie jou vra om dit 'n geheim te hou as sy aan jou privaat dele geraak het).
- Daar is mense (noem hulle op) vir wie jy kan vertel as iets slegs of onveiligs gebeur het.
- Verduidelik wat "privaatheid" beteken en dat gesinslede ook respek moet hê vir mekaar se privaatheid, byvoorbeeld om te klop voor die badkamerdeur oopgemaak word. As 'n kind aanhoudend seksuele dinge sê of seksueel reageer terwyl sy speel, kan dit op 'n probleem dui wat deur 'n professionele terapeut ondersoek moet word.





















