WENBRIEF
Meer mense moet weet
My man, Jannie Snyman (27), is met 'n haaslippie gebore. Ons het nooit gedink ons baba sou dit ook hê nie, maar genetika is sterk en God se plan is sterker.
Toe ons in 2022 swanger word, het die ginekoloog ons na 'n fetusspesialis verwys. Sy het bevestig dat ons babaseuntjie wel 'n gesplete lippie en verhemelte sou hê.
Dit was 'n skok, maar die werklikheid het ná Elijah se geboorte ingesink. Hy is dadelik na die intensiewe eenheid vir pasgeborenes weggeswiep en ek was sonder my baba. Pappa het heeltyd gaan foto's neem en my op hoogte gehou tot ek kon opstaan en loop.
Elijah was 'n dag oud toe 'n afdruk van sy verhemelte geneem is om 'n slukplaatjie te laat maak. Ons is mooi gewys hoe om dit skoon te maak en hoe om sy bottel vir hom te gee.
Die suster het gesê as 'n mens skaam vir jou baba is, voel hulle dit aan; moet dus nie skaam wees nie. Ek was glad nie skaam oor my baba nie, want dit is hoe God hom gemaak het - volgens sy beeld en sy gelykenis.
Ons het baie vreemde kyke gekry. Een tannie het vir my gesê dis omdat ek nie na myself omgesien het nie. Maar niks wat ek anders sou doen sou 'n verskil gemaak het nie, want God se plan is groter.
Ons was by prof. Kurt-Wilhelm Bütow, wat my man 27 jaar gelede geopereer het, en hy het so mooi verduidelik wat die behandeling en operasies sou behels. Ons het vertrou dat hy die beste werk sou doen, en hy het.
Die personeel by Die Wilgers-hospitaal in Pretoria is so goed opgelei met hierdie babas dat alles vir hulle vanself kom.
Vir my was dit erg, maar hulle het my baie moed ingepraat en my seuntjie so mooi hanteer.
Ons is nou al deur twee operasies en die volgende een is eers weer nodig wanneer Elijah nege jaar oud is.
Ek wil regtig vir elke ma en pa met so 'n baba bemoedig en aanmoedig. Alles is moontlik as God in beheer is. Ons is gekies om hierdie spesiale babas se ouers te wees. Bly op jou knieë, wees daar vir mekaar en bly sterk vir jou baba, want hulle voel dit aan.
Soen jou baba se bekkie op, want as die lippie eers toe is, gaan jy dit mis!
Bonnieta Snyman, Hartbeespoortdam, Noordwes

Praat oor jou hemelkind help
Ek het so paar jaar terug 'n miskraam gehad. Dit het vir ons gevoel of alles uitmekaarval. Ná al die tyd is daar steeds dae wanneer ek wonder hoe hy of sy sou gelyk het. Dan vul my oë van voor af met trane en seer. Dit help om te besef dat ek nie al vrou is wat dit deurgemaak het nie en dat daar baie hemelkindertjies is. Dit help om daaroor te praat met ander mammas wat dit ook beleef. Omring jouself met mense wat jou sterkter maak.
Esmari Theron, Potchefstroom, Noordwes
Tjoef-tjaf!
Zadia Jantjies (33) van Bredasdorp het op 39 weke 'n swangerskapsfotosessie gehou, en dit was net betyds, want skaars 'n uur later is klein Zion in die lewe gebring. Kyk net hoe trots en opgewonde is die splinternuwe pa, Duane, met hul haastige baba!
Zadia Jantjies, Bredasdorp, Wes-Kaap

Skryf vir jou kind
Ek het 'n joernaal waarin ek gedigte vir my eersteling skryf. Hy word aanstaande maand twee. Ek het aanvanklik gesê dat ek nie vir kinders kans sien nie. Eers op 38 het ek my bedenkinge begin kry en dit in die Vader se hande gelaat. Binne 'n paar maande was ek swanger, maar niks kon my voorberei op die onvoorwaardelike liefde wat ek ná my seuntjie se geboorte sou ervaar nie. Om 'n mamma te wees is met al die hoogte- en laagtepunte steeds vir my die grootste voorreg en vreugde.
Sy boetie maak eersdaags sy opwagting. Dit sal ons tweede en laaste kindjie wees aangesien die rype ouderdom van 41 my nou ingehaal het en die risiko's van 'n volgende swangerskap dalk net te groot kan word.
Al is ek nie spyt dat ons nie vroeër met 'n gesin begin het nie, besef ek dat ek toe nog nie gereed was nie en dat ons kindertjies gekom het toe hulle moes. Ek besef elke dag hoe geseënd ek is dat ek op dié ouderdom nog natuurlik swanger kon raak sonder mediese hulp of vrugbaarheidsbehandeling.
Liezl Potgieter, Bloemfontein, Vrystaat


DEEL & WEN!
Wen 'n geskenkpak van Keela Candy en blossom collagen ter waarde van R1 250! Keela Candy se pragtige armbandjies wat verpersoonlik word, dien as 'n daaglikse, blye herinnering aan die belangrike oomblikke en spesiale mense in jou lewe. Volg Keela Candy op Instagram by @keelacandy om meer voorbeelde van die armbandjies te sien. En watter ma geniet nie die voordele van 100% suiwer gehidroliseerde kollageen nie? Blossom Products Collagen se prys aan die wenbriefskrywer is 'n voorraad vir drie maande van hul geurlose geroosterde haselneut-en-vanieljevla-kollageen. Dis ideaal vir die bevordering van gesonde hare en sterk naels, versterk ook die gemoed en help met spierherstel. Vind meer uit oor Blossom Collagen op hul webtuiste by blossomproducts.co.za.
















