Ouerskap

Inboks: Lesersbriewe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Baba & Kleuter
Baba & Kleuter

Wen 'n Guess-dameshorlosie ter waarde van R2 895!

Die horlosie het 'n goue kissie, metaal- kettingbande en 'n wyserplaat gemaak van goud in reliëf. GUESS is bekend vir klassieke, ikoniese handelsmerke en beklee 'n posisie as modeleier. Horlosies van GUESS met hul glansende wysers en gedetailleerde armbande is werklik uitsonderlike stukke.

GUESS bied sofistikasie en informele elegansie, met style wat gedra kan word by die werk of oor naweke. Dis gemaklik om te dra en sag op die oog... GUESS bied horlosies vir elke geleentheid. Gaan na guesswatches.com of bel Treger Brands by 011 089 6000.

Guess
Guess

WENBRIEF

Fokus waarop jy kan

Oor 'n paar daggies is sy een jaar oud. My hart kan dit eenvoudig nie glo nie. Daar was soveel benoude oomblikke wat nou soos 'n waas voel. Vanaf daardie oomblik dat Alexis gebore is, was dit my verantwoordelikheid om seker te maak sy is gesond en dat ek en sy gesond bly sodat ons by mekaar kon bly.

Ek dink terug aan toe Kaylin gebore is, hoe ek as nuwe mamma aanvanklik oor elke geluidjie, snaakse hoesie en toe neus gewonder het. Later word dit tweede natuur om te besef dis normaal. Met Lexi-lyf is daardie benoude gevoel amper weer terug.

In die eerste paar weke het ek elke dag 'n masker gedra. Elke keer voor ek aan haar geraak het, het ek eers my hande ontsmet.

As Lexi 'n snaakse hoesie gegee het, was ek lam van vrees. Wat as sy siek is? Dis waar my eerste angsaanvalle begin het, waar ek so hulpeloos en onseker gevoel het dat ek nie geweet het wat om te doen nie. Dit was vreemd, want met Kaylin het ek raakgevat en alles hanteer soos dit oor my pad gekom het.

Ek was so bang dat ons sou siek word en sonder mekaar in die hospitaal sou moes gaan lê. Die vrees het my siek gemaak. Ek dink nie ek het Lexi op haar mondjie gesoen voor drie of vier weke ná haar geboorte nie.

Ek was net te bang. Ek het egter in 'n stadium besef daar is oomblikke wat ek nooit gaan terugkry nie. Te veel is reeds van ons weggevat. Ek het besluit om steeds veilig te wees en te ontsmet, maar om my liefde vir my Lexi-baba te wys. Hoewel ek haar eerder op die wang sou soen, het ek steeds probeer om haar te soen en liefde te wys. Ek kon nie toelaat dat die virus hierdie oomblikke van my steel nie.

Lexi se verjaardagpartytjie is vir veiligheid uitgestel. Ek is hartseer daaroor, want ons ooievaarsparty was ook uitgestel. Haar tannie Kerry het haar nog nooit vasgehou nie, want weens die virus kon hulle nie vlieg om te kom kuier nie.

Ná haar sesweke-pediaterbesoek het ons nabye familie toegelaat om haar te sien, want die dokter het gesê ons kan ons nie vir ewig in die huis toesluit nie.

Daar is soveel van ons familie en vriende wat haar steeds nie ontmoet het nie en 'n mens kan hulle nie blameer nie, want ons lewe in 'n onseker wêreld waar elkeen hom self moet oppas en gesond moet hou. Ons moet respekteer dat mense afstand wil handhaaf.

Dit is nie altyd maklik om dit te aanvaar nie, want ons wil Lexi se oulike karakter met almal deel, en 'n video kry nie dieselfde reg nie. Dis 'n vreemde tyd; niks is normaal nie. Ek fokus op wat ek kan doen en waar ek 'n impak kan maak, en dis om vir my kinders en man liefde te wys en elke oomblik saam met hulle te absorbeer en te geniet.

Hierdie tyd het ons as gesin ongelooflik sterk gemaak en ons liefde en dankbaarheid vir mekaar verdubbel. Ek en my man is 'n wenspan! Ons het ook die band tussen Kaylin en Alexis sien groei. Ek bid dat ek hierdie oomblikke vir altyd sal hê, waar die liefde wat die twee sussies vir mekaar het, so onbeskryflik mooi is. As hierdie jaar my iets geleer het, is dit dat 'n mens elke oomblik moet waardeer en op die mense na aan jou moet fokus!

Die kuns is om steeds in hierdie moeilike tye aan te hou, elke dag met God se genade aan te pak en te bid dat ons die einde nader van hierdie verskriklike, onpersoonlike en gagga tyd.

Crizelda Carstens, Alberton, Gauteng

Dis nie kinderspeletjies om jou gesin in 'n pandemie uit te brei nie, maar sy en manlief Jacques is 'n wenspan, sê Chrizelda Carstens, ma van Kaylin en Alexis.
Dis nie kinderspeletjies om jou gesin in 'n pandemie uit te brei nie, maar sy en manlief Jacques is 'n wenspan, sê Chrizelda Carstens, ma van Kaylin en Alexis.

Skoonsusters word saam-saam ma

Soms spog 'n mens met al jou vreugde en geluk, want dit is makliker om teleurstelling en hartseer onder 'n dik mat in te vee. 'n Donker, dik mat vol onsekerheid en vrees.

Wel, dis byna elke vrou se hartsbegeerte om 'n bondeltjie vreugde in haar arms te kan vashou.

Maar om net eers dáár te kom, is 'n mylpaal op sy eie. Nege maande se uitdagings staar jou van dag een af reeds in die gesig. Hierdie was my tweede swangerskap met nóg 'n seuntjie. My oudste seun het onlangs vyf geword. Behalwe vir ongemaklikheid en effens geswelde voete was albei my swangerskappe sonder probleme.

Wel, rooskleurig was nie die kleur wat my skoonsus se swangerskappe ingekleur het nie. Miskraam ná miskraam. Baie trane en vrae.

Met 'n laaste probeerslag het sy met almal se gebede en bystand haar termyn klaargemaak. My en haar swangerskap is dié keer drie weke uitmekaar. Kan jy glo? Ons ginekoloog wou haar 'n vroeër keisersnee omdat sy 'n risikogeval was … dieselfde as my aanvanklike keiserdatum. Ons was almal stomgeslaan oor hierdie toevalligheid.

Ons is saam in een kamer in die hospitaal inbespreek en ons kinders is op een dag gebore. Soveel geluk, soveel lag en grappe ná so baie hartseer. Die wakker lê saans in die hospitaalkamer en lag oor wie se pynmiddels eerste sou begin werk. Ons het baie pret gehad met die hospitaalpersoneel en die blydskap van oupas en oumas wat twee kleinkinders op een dag bygekry het … 'n dag waarop twee skoonsusters herinneringe vir hul oudag gemaak het met die geboorte van 'n niggie en nefie op een besonderse dag.

Jarike Buys van Lutzville, Wes-Kaap

Jarike Buys en haar seuntjie, Johan (links), en skoonsus Mercia met haar dogtertjie, Emily.
Jarike Buys en haar seuntjie, Johan (links), en skoonsus Mercia met haar dogtertjie, Emily.

Liefde verdubbel

Ek onthou die dag toe ek uitgevind het ek verwag nommer twee.

Ek het die swangerskapstoets kombuis toe geneem en vir my ses maande oue seun-tjie gekyk terwyl ek wag dat die minute (wat soos ure gevoel het) verbygaan. In daardie tyd het baie dinge deur my kop gemaal. Hoe gaan ons dit doen? Hoe gaan ek twee babas groot maak? Hoe gaan ek een grootmaak terwyl ek hoog swanger is? En daar verskyn die twee strepies ...

Ondanks baie stres en min slaap het my tweede swangerskap baie gou omgegaan. Skuldgevoelens het my beetgepak; ek het gevoel die eerste een het al my aandag nodig, maar dan sou my aandag verdeel word wanneer boetie opdaag.

En daar maak boetie toe sy verskyning en ek besef die liefde verdeel nie, maar verdubbel.

Ek sal jok as ek sê dis elke dag maklik. Maar om hierdie twee beste maatjies saam te sien grootword en die liefde wat hulle vir mekaar het te aanskou, is onbeskryflik.

Mason en Damian het my die ware betekenis van die woord liefde geleer. Hulle het my geduld geleer en om net 'n bietjie stil te sit en die mooi dinge in die lewe raak te sien.

Hulle is nou 'n besige driejarige en 'n besiger tweejarige en absolute sonskynkinders.

Chandre Nelson, Durbanville, Kaapstad, Wes-Kaap

Dié twee besige boeties het 'n sterk band, vertel hul ma.
Dié twee besige boeties het 'n sterk band, vertel hul ma.

Ouma se hart is vol

Wat 'n voorreg is dit om 'n ouma te kan wees! So lank het ek gebid dat ek ook een sou word, en toe ... uiteindelik! Wat 'n seëning! My kleinseun, Luan Steenkamp, is nou agt maandjies oud. Nooit kon ek droom dat hy so 'n groot plek in my hart sou inneem nie. Ek is so dankbaar teenoor die Here vir hierdie voorreg. My eie twee kinders en twee skoonkinders is kosbaar - geskenke van die Here - maar hierdie kleinkind, ai, 'n bondeltjie liefde en vreugde. So kosbaar! Dankie Here, hy is 'n klein (groot) wonderwerkie!

Dankie vir 'n puik tydskrif!

Lindie Steenkamp, Nigel, Gauteng

Luan Steenkamp is sy ouma se hart se punt.
Luan Steenkamp is sy ouma se hart se punt.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM