Ouerskap

Inboks: Lesersbriewe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Baba & Kleuter
Baba & Kleuter

WENBRIEF

Karl en Petro Spreng by hul twee dogters, Stella (9) en Kara (6). Dié twee kan nie meer van mekaar verskil nie.
Karl en Petro Spreng by hul twee dogters, Stella (9) en Kara (6). Dié twee kan nie meer van mekaar verskil nie.

Pliggies & reëlbrekers

Soms is dit met 'n snorklag en ander kere met 'n effense hartstilstand dat ek besef hoe baie van my eie karaktereienskappe my twee dogtertjies het.

Die oudste is soos baie eerste kinders meer ingestel op wat reg is, goed is en gedoen moet word ... die spreekwoordelike "pliggie". Haar bed is opgemaak en sy ken haar spelwoorde. Moet egter nie onder die wanindruk verkeer dat sy heeltemal gedweë by die lewe inval nie - sy redeneer vuriglik oor regverdigheid en het die komieklikste humorsin.

Die tweede geitjie, en uit die aard van die saak die jongste, voel 'n veer vir gesag en kyk gereeld met groot genot toe hoe die reëls onder haar skrikbewind verbrokkel. Dis dieselfde kind wat bye liefdevol uit die swembad red en met bewondering toekyk hoe hulle hulself in die sonnetjie droogvryf.

(Sy het ook pas met die rubberhamer om die hoek verdwyn terwyl ek die oudste help om 'n blou pen vir haar huiswerk te soek ...)

As ma koester ek hul karaktertrekke én raak ek terselfdertyd benoud daaroor. Maar dis seker hoekom ons bymekaargegooi is - om êrens tussen volle punte en nonchalance 'n ewewig te vind en ons te herinner dat ons bydrae noodsaaklik is, veral wanneer die benoudheid die oorhand wil kry.

Petro Spreng, Johannesburg, Gauteng

Aanhou

Tussen kinders, werk, vrou wees, fiks bly, rondry en sommer net alles vir almal wees, vind ek dit soms moeilik om behoorlik asem te haal. Die druk is alleen. Net 'n ma weet.

Ons praat nie genoeg daaroor nie, want ons is almal braaf en so besig (om uitblinkers te wees). En party dinge is mos maar beter ongesê.

Tyd vir my is min, want skuldgevoelens fluister hier by jou oor. Ek kyk my gunsteling-reeks skelm of sluk vinnig 'n koffie saam met 'n vriendin af, maar dit voel op die een of ander manier nooit genoeg nie. En skelm en gou is ook nie eintlik waarvoor ek wil settle nie.

Tog is dit vir nou goed genoeg. Vlak asemhaal voel nie eintlik vir my onregverdig nie, en ook nie bitter nie. Dit is wat dit is. Die kuns lê seker daarin om aan te hou asemhaal tot hierdie fase oor is, en aan soveel herinneringe moontlik vas te klou.

Ek gaan nie jok nie. As ek my kinders saans in die bed gesit het en die klein lyfies opgekrul en die ogies toe is, is ek 'n bietjie verlig. Maar net vir 'n rukkie.

Annelie Botha, Pretoria, Gauteng

As ek my kinders saans in die bed gesit het en die klein lyfies opgekrul en die ogies toe is, is ek 'n bietjie verlig. Maar net vir 'n rukkie.

Talle nuwe posbeskrywings

Jare lank was kinders my droom en begeerte. Miskrame, hartseer en pyn was ook deel van my pad. Uiteindelik word my bakskottel vol en drie kinders voltooi ons gesin.

Een mooi laatwinter-middag het ons dogter se swangerskapsaankondiging die koue laat stilstaan. Ons kon kies om klippe te gooi of om lief te hê. Skielik was die uitdaging daar om dit wat ons so maklik deur hul kinderjare gesê het, te bevestig: "Ons sal altyd daar wees vir jou." En dit was maklik.

Elke uitdaging in ons lewe bring die geleentheid vir ongelooflike groei. Ons hele huis het ook pas 'n aanslag deur Covid-19 deurgemaak. Die nuwe mamma en pappa ook. Ivermektien en kortisoon. En niemand het geweet nie. Ons het almal baklei om te lewe. En in ons midde het Hy 'n nuwe lewe toegevoeg en ons dankbaar gemaak.

Alle kinders is 'n geskenk van God. Ons kan foute maak buite die wil van God, maar geen kind kan gebore word sonder sy plan nie. Net Hy, en Hy alleen, gee lewe.

Ons harte loop oor van vreugde en ons sien uit daarna om hom met liefde te verwelkom. Ons sien daarna uit om te kyk watter getuienis sy lewe vir ons almal gaan bring.

Met twee laatlammetjies was ek onlangs self nog die mamma van babas, en skielik bring dit al die ou herinneringe terug. Met net twee hande vol aardse jare word my jongstes oom en tannie.

Ouma en oupa wees is die heel lekkerste posbeskrywing wat enige mens kan hê. En die klein groeiende magie getuig elke dag daarvan. Hy is nog nie eens gebore nie, maar het reeds liefde en deernis in ons huis gebring.

Lynette Strydom, Gqeberha, Oos-Kaap

Marelise (Strydom) Pio (21) en Jaco Pio (21) verwag hul eersteling.
Marelise (Strydom) Pio (21) en Jaco Pio (21) verwag hul eersteling.
Die Strydom-gesin is van links Marelise (21), Hugo en Lynette, Madré (9) en Petrus-Hugo (11). Madré en Petrus-Hugo is nou oom en tannie!
Die Strydom-gesin is van links Marelise (21), Hugo en Lynette, Madré (9) en Petrus-Hugo (11). Madré en Petrus-Hugo is nou oom en tannie!

Mary Poppins is moeg

Vanaand wil ek sommer uitpraat namens al die juffroue daar buite wat lendelam is. Juffroue soos ek wat vandag deur 'n kind geslaan en deur die ma uitgelag is, asof dit die grootste grap is.

Daar word op ons neergekyk as iemand ons hoor skree, maar niemand staan ooit lank genoeg in ons klas stil om te besef dat ons so deur die raserige kinders verskree word dat hulle anders nie ons stem sal kan hoor nie.

Ons lendelam juffroue wat al elke beloningstelsel die boek probeer het - sonder resultate.

Ons wat ons kinders mooi smeek om rustig te word sodat die tweejarige op jou skoot ook rus kan vind.

Ons wat nie eens een sin in ons klas kan uitspreek sonder om doodgepraat te word nie. Die kinders hou nie eens op wanneer hulle jou stem hoor nie.

Ons wat kinders moet hanteer wat mekaar teen tafels vasgooi, mekaar deur die gesig slaan en mekaar stukkend knyp.

Ons wat moet huishou met ouers wat elke optrede as die juffrou se skuld beskou.

Ons wat nie eens deur 'n Bybelstorie kan kom sonder dat kinders mekaar stamp en stoot nie. Ons mag mos nie breek nie.

Ons is mos Mary Poppins en Nanny McPhee. Wel Mary en Nanny het vanaand gebreek. Dink aan my, mamma, as jy weer in my gesig lag oor 'n ernstige gesprek.

Dink aan my, pappa, wanneer jou kind op laerskool detensie kry omdat dit so snaaks was dat hy sy kleuterskooljuffrou vir die pret geslaan en sy maats geskop het.

En vir jóú, mamma en pappa wat wél jou alles gee, ek sien jou raak, al is jy in die minderheid. Jy is waarom ek môreoggend dalk maar terug skool toe sal gaan.

Miché Saaijman (Juffrou Poppins), Gqeberha, Oos-Kaap

Skerp, so op sosiale media nè?

Wat is die snaaksste ding wat jou kind al gesê het?

Net gisteraand sê my driejarige dogtertjie "piskenop" vir 'n spinnekop teen die muur. Madelaine Theron, Hotazel, Noord-kaap

Ons het my seuntjie se hondjie gebad en daar was 'n bosluis op haar magie. Hy sê toe dat daar 'n "bosvleis" op haar magie is. Yvonne Harmse, Witbank, Mpumalanga

My vierjarige seuntjie, Liam, oor sy bababoetie: "Kan die ding ooit praat, want hy is ‘toepchill'". Sanet Downey, Parys, Vrystaat

Terwyl die trane oor sy wange rol, het my sesjarige seuntjie vertel dat hy nie hemel toe wil gaan nie omdat die aarde sy gunsteling-planeet is. Anrie Haarhoff, Knysna, Wes-Kaap

Ons was weg vir die naweek en in die motor op pad terug het my negejarige dogter aan die slaap te raak. Dirkie: "Mamma, ek dink Elleh droom van kos." Ek: "Hoekom sê jy so?" Dirkie: "Want daar kom kwyl by haar mond uit." Christelle Human, Swellendam, Wes-Kaap

Ons het onlangs 'n Jim Carrey-fliek begin kyk. My jongste het bly vra hy wil "ys en soda" kyk en later sal ons uitvind hy wil eintlik Ace Ventura kyk. Elbie Mears Roberts, Brits, Noordwes

Wen 'n geskenk van Mighty Small ter waarde van R750! Mighty Small is Suid-Afrika se eerste kinderwinkel vir gesinne wat nuuskierig is oor etiese bewustheid.

Die aanlynwinkel het meer as 1 500 kinderprodukte wat plaaslik en volgens etiese riglyne vervaardig word, alles onder een dak.

Maak gerus ook 'n draai by die Mighty Small-winkel in Kaapstad om die hele verskeidenheid te besigtig. Gaan na mightysmall.co.za vir nog inligting of as jy iets aanlyn wil koop, of kontak hulle by shop@mightysmall.co.za of by WhatsApp 082 736 6744.

WEN!

E-pos jou brief na sharing@ypbmagazine.com.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM