Wenbrief
'n Tweede Kans
Ek kan nie glo ons is hier nie en ek wil graag my storie deel. In 2021 het ons gesin van drie uitgevind ons gaan 'n tweeling ryker word. Die mat is onder ons voete uitgeruk en ek het baie met God gestoei oor hierdie dubbele seën.
Op 2 Februarie 2022 is Li-Ta om 12:20 gebore en Jo-Ha net twee minute later. Alles het in twees gebeur: 'n Tweeling op 2/2/22, twee minute uitmekaar. Hulle was perfek, maar as protokol het dr. Chris Diffenthal van Bloemfontein albei in die NICI (baba-waakeenheid) laat opneem.
Die vierde dag het Jo-Ha sy melk begin opbring. Toe dr. Diffenthal ons die volgende oggend met besoektyd inwag, het ons geweet iets groots is fout. Jo-Ha het lug in sy buik gehad, 'n abses op sy lewer en vergrote niere. Absolute skok en ongeloof het ingetree. Hoe ontaard hierdie perfekte droom skielik in 'n nagmerrie? En ek stoei verder met God oor my aanvanklike ondankbaarheid en ek smeek dag en nag aan sy voete om Jo-Ha te spaar.
Intussen is Li-Ta ontslaan en ouboet Jan-Jac (nou vyf) is tuis by ouma in Kathu in die Noord-Kaap terwyl ons in Bloemfontein is. My hart is letterlik in drie geskeur terwyl die skuldgevoel my insluk omdat ek by slegs een van my drie kinders op 'n slag kan wees. Ná te veel x-strale om te onthou, te veel pype, drade en monitors, naalde en drups in ons klein lyfie het ons besef Jo-Ha is baie siek.
Dr. Diffenthal se woorde was 'n yskoue bak water toe hy sê net Jesus kan hom nou genees. 'n RT-skandering het bevestig dat Jo-Ha met graad 4-NEK (nekrotiserende enterokolitis) gebore is. NEK tas meestal die onderste deel van die kronkelderm en die naasliggende deel van die dikderm aan. Verskillende grade van NEK kan egter enige deel van die dun- of dikderm beïnvloed. Die hele derm kan aangetas wees en kan onomkeerbaar beskadig word - 'n toestand wat min kindertjies oorleef.
Hy is op 16 Februarie teater toe vir 'n delikate prosedure waar hulle 'n groot deel van sy dikderm verwyder het. Hy was ses dae lank gekoppel aan 'n ventilator en baie pype en monitors - 'n pynlike gesig vir enige moederhart.
Ons is genadiglik op 4 Maart ontslaan en is huis toe met stomasakkies. Op 22 April is Jo-Ha weer geopereer om die dikderm te heg. Die hele proses het van voor af begin. Ons vier binnekort ons tweeling se tweede verjaardag en is ons God ewig dankbaar dat Hy ons besige seuntjie gespaar het deur dr. Diffenthal, ons aardse held. Ons voel God se ongelooflike genade en glo Hy het groot planne met Jo-Ha se getuienis.
En vir eers kla ons glad nie dat ons heeldag agter hom en sy kattekwaad moet aanloop nie.
- JO-MIA FOURIE, KATHU, NOORD-KAAP

HULLE KAN GENEES
Liefste NICU-ouers
'n Mens hoor die stories en steeds dink jy altyd "dit sal nie met my gebeur nie", maar sou jy en jou baba julself nou in die NICU (baba-waakeenheid) bevind, is hierdie brief vir julle.
Terwyl ons tweelingseuns in die NICU was, het ek suksesstories gesoek. Ek het dit broodnodig gehad om te weet dat ander ouers en kinders hierdeur is en aan die ander kant uitgekom het. Omdat ek weet hoe belangrik dit vir my was, deel ek graag ons wonderwerkverhaal. Ek kan skryf oor die diagnose en die verskillende mediese struikelblokke wat ons gehad het, maar al wat julle werklik hoef te weet, is dat ons op 12 weke uitgevind het ons verwag 'n tweeling.
Ons het ook op dié dag uitgevind Samuel het 'n toestand (agter-ureterkleppe of PUV, 'n vlies in die urienbuis wat keer dat die urine uitloop) en dat ons toe al moes ingryp om hom 'n kans te gee. Sammy moes 'n stent kry sodat die urine van sy blaas na die vrugwatersak kon vloei. Ongelukkig is een van die gevare van dié ingryping dat die vrugwater kan begin lek.
Dit het met ons gebeur en op 26 weke moes ek 'n noodkeiser ondergaan. So het ons NICU-ervaring begin. Ek kan 'n boek skryf oor die op-en-af-tuimeltrein en oor die mense wat ek ontmoet het, die mense wat ek gaan uitsoek het, die dokters, verpleegsters, medeouers, die mense wat vir my gestuur is en almal wat saam met ons gebid het.
Daar was 'n weermag mense wat 'n hele jaar en agt dae saamgeglo en -gebid het. Die PUV-diagnose was nie die rede vir hulle lang hospitaalverblyf nie, maar eerder 'n ander diagnose, PIG (tussensellige long-glikogeensiekte), 'n uiters seldsame longtoestand. PUV en PIG - lettertjies en verkortingsvorme vir groot monsters. Maar dit maak ook nie nou meer saak nie. Samuel en Benjamin het vanjaar vier geword.
Hulle is slim en sterk, lief vir hardloop, klim en klouter, hulle kan sien, hulle kan hoor, hulle kan praat (ongelukkig nog net Engels, maar ons werk daaraan). Behalwe vir die littekens hier en daar sou jy nie kon dink hierdie seuns was die hele eerste jaar van lewe afhanklik van 'n mediese span om hulle aan die lewe te hou nie. Die NICU-pad is moeilik, maar so belangrik. 'n Mens leer so baie in die NICU.
Ek het geleer hoe om weer met erns te bid en hoe om te glo. So bid ek nou saam met elkeen wat die brief lees en glo dat daar nog wonderwerke kan gebeur. Dankie Abba Vader vir Samuel en Benjamin.
- SISKE VAN NIEKERK, Gansbaai, Wes-Kaap

Baba & Kleuter = beste vriendin
Vandat ek deur 'n vriendin aan Baba & Kleuter voorgestel is, is ek mal oor die tydskrif! Ek het verlede jaar vir die eerste keer die besonderse en eksklusiewe tydskrif gekoop en ek is elke keer opgewonde want ek weet dit gaan inspirerend en vol raad wees. Ek is mal oor die kleurryke bladsye! Dis propvol lekker leesstof.
Elke bladsy roer my binneste en laat my hart sommer vuurwarm klop. Dankie, Baba & Kleuter, dat jy my vriendin geword het. Ek help graag minderbevoorregte mammas, babas en kleuters. Nou kan ek báie onervare mammas soveel beter help. Baie dankie vir al die idees met neute en sade in 'n vorige artikel.
Ek moet elke dag daarvan inkry, maar ek eet net babakosse omdat my slukderm baie sensitief is ná twee groot buikoperasies. Ek eet nou te heerlik. Dankie ook vir die artikel "Trap verby skoonma-slaggate"; dis só innoverend en insiggewend. Dankie Panado, vir die "Gids vir Noodgevalle & Veiligheid 2023".
Ek het sommer ses tydskrifte gekoop! Ek kon vyf nuwe mammas bederf met hierdie waardevolle en kosbare tydskrif. Baba & Kleuter is vir my 'n inspirasie. Ek sal my middagetegeld gebruik en honger ly, maar die tydskrif vol raad, idees, nuwe giere en inspirasie mag ek nie misloop nie!
Hiermee moedig ek elke mamma, ouma en kleuter/peuter-toesighouer aan om Baba & Kleuter-tydskrif deel van jul lewe te maak. Die hart van 'n kind is die kosbaarste van God se skeppings.
Moet dit nóóit breek nie.
- ANTOINETTE SCHOEMAN, RIEBEECKSTAD, WES-KAAP
Wen 'n geskenkpak van snookums ter waarde van R2 560!
Snookums se reeks babaprodukte is oor baie jare noukeurig ontwikkel. Die klem is op voortdurende vernuwing namate nuwe produkte bygevoeg word om te verseker dat Snookums met wêreldneigings tred hou.
Snookums se dubbele elektriese borspomp is perfek vir besige ma's wat maklik, gerieflik en diskreet wil uitmelk. Snookums se bottel-en-kos-verwarmer verhit vinnig en hou kos warm met aanpasbare hitte-opsies van 35 tot 100 grade C.
Snookums is beskikbaar by Baby City, Babies R Us, Game, takelot.com, Chelino Baby en loot.co.za. Die geskenkpak sluit in 'n dubbele elektriese borspomp en 'n bottel-en-kos-verwarmer van Snookums. wen e-pos jou brief na sharing@ypbmagazine.com.

Wen 'n geskenkpak van snookums ter waarde van R2 560!
Snookums se reeks babaprodukte is oor baie jare noukeurig ontwikkel. Die klem is op voortdurende vernuwing namate nuwe produkte bygevoeg word om te verseker dat Snookums met wêreldneigings tred hou. Snookums se dubbele elektriese borspomp is perfek vir besige ma's wat maklik, gerieflik en diskreet wil uitmelk. Snookums se bottel-en-kos-verwarmer verhit vinnig en hou kos warm met aanpasbare hitte-opsies van 35 tot 100 grade C. Snookums is beskikbaar by Baby City, Babies R Us, Game, takelot.com, Chelino Baby en loot.co.za. Die geskenkpak sluit in 'n dubbele elektriese borspomp en 'n bottel-en-kos-verwarmer van Snookums. wen e-pos jou brief na sharing@ypbmagazine.com.
















