"My kind moet volgende jaar graad 1 toe en ek het 'n sterk vermoede dat sy nog nie reg vir skool is nie. Die kleuterskool gebruik woorde soos ‘uitvalle' en moontlike 'neurologiese probleme'. Dit maak my baie ongemaklik. Ek is amper te bang om 'n skoolgereedheidstoets te laat doen," vertel Monja Eksteen* (34) van Worcester in die Wes-Kaap.
Skoolgereedheidstoetse is iets wat baie graad R-ma's soos Monja vrees. Maar wat behels dit en wat sê dit van jou kind?
Theresa van den Berg, 'n opvoedkundige sielkundige van Pretoria, sê wanneer kinders graad 1 en die wêreld van formele skool betree, kom hulle met nuwe eise en reëls in aanraking.
" 'n Kind moet op alle vlakke gereed wees om hierdie eise met selfvertroue en gemak te aanvaar," sê sy.
"Elke kind ontwikkel teen haar eie pas, maar sekere vaardighede word gewoonlik binne 'n bepaalde tyd bemeester. Hierdie mylpale ontwikkel ook in 'n bepaalde volgorde.
"Wanneer jou kind skoolgaande ouderdom bereik, moet sy al sekere vaardighede of mylpale bemeester het sodat sy die moeiliker werk op skool kan baasraak."
As haar vaardighede op peil is wanneer sy grootskool toe gaan, sal dit haar spanning en stres dramaties verminder, sê Theresa.
Dr. Arina Lanser, 'n opvoedkundige sielkundige van Roodepoort in Johannesburg, meen skoolgereedheidstoetse het 'n belangrike rol om te speel. Sy het trouens 'n proefskrif geskryf oor die verband tussen uitvalle in skoolgereedheidstoetsing en latere leerprobleme.
Maar sedertdien het baie water in die see geloop en deesdae meen die onderwysdepartement dat alle skole vir alle kinders gereed moet wees, sê sy. Dit het mettertyd die behoefte aan skoolgereedsheidstoetse verminder. Dié toetse is dus nie verpligtend nie - maar hulle kan vir jou kind van groot waarde wees.
Verskillende terapeute gebruik verskillende toetse, sê Arina.
"Die ideaal is om 'n volledige evaluering te doen wat die belangrikste aspekte van 'n kind se ontwikkeling meet. Dit behoort die bepaling van IK in te sluit en die algemene ontwikkeling van die kind te weerspieël. Dit behoort ook te kyk of daar dalk probleme is soos neurologiese of konsentrasieprobleme, of probleem met gehoor, oë en selfs sinus en rustelose bene. 'n Volledige emosionele ondersoek is ook nodig."
Skoolgereedheidstoetsing moet egter nie net op probleme fokus nie, maar moet ook 'n kind se sterk punte uitlig, sê Arina.
* Nie haar regte naam nie
As jou kind sleg vaar in die toetse, kan terapie haar betyds help inhaal.
Wat word alles getoets?
Die opvoedkundige sielkundige Theresa van den Berg sê gereedheidstoetse bekyk dié aspekte wanneer hulle jou kind evalueer.
SOSIALE EN EMOSIONELE ONTWIKKELING Kan jou kind van haar ouers skei, onafhanklik take verrig, reëls gehoorsaam en maklik maatjies maak? Hoe speel sy met maats? Sal sy aan geleenthede soos atletiekbyeenkomste of aktiwiteitsdae deelneem, selfbeheersing toepas en aktief in die klas by koöperatiewe leer en spel betrokke wees?
Die terapeut sal oplet of jou kind take onafhanklik kan uitvoer, 'n taak kan deurvoer, vir 'n redelike tydperk stil kan sit en konsentreer en bereid is om te waag.
Het sy selfvertroue? Kan sy oor emosies gesels en sekere gevoelens benoem? Kan sy uitdagings aanvaar en die maak van 'n fout met gemak hanteer?
Die terapeut sal ook kyk hoe sy haar omgewing en take organiseer en hoe sy op opdragte reageer.
In graad R behoort kinders sosiaal te ontwikkel, vriende te maak en verhoudings in 'n informele en veilige omgewing te begin bou.
Op vyf begin hulle toenemend vrae vra en dinge self doen. Hul selfbeeld ontwikkel uit hul vermoë om nuwe vaardighede te bemeester.
Hulle kan langer stil- sit en luister, opdragte uitvoer en minstens 15 minute lank op een aktiwiteit konsentreer.
PERSEPTUELE EN MOTO- RIESE ONTWIKKELING Die terapeut beoordeel 'n kind se liggaamsbewustheid en motoriese leer. Hoe beweeg die liggaam se groot spiere en doen hulle dit gekoördineerd? Kan sy die twee kante van haar lyf en die denkbeeldige middellyn daartussen aanvoel? Kan sy balanseer en die twee kante van haar lyf afsonderlik én saam gebruik?
Laasgenoemde word bilaterale samewerking genoem en is ook belangrik vir die uitvoer van fyn motoriese vaardighede (waarvoor die kleiner spiere gebruik word).
Die terapeut sal veral kyk hoe 'n kind se arms, hande en liggaamsmiddelpunt gekoördineerd saamwerk.
Het die kind al 'n dominante hand wat deur die ander hand ondersteun word wanneer sy skryf, teken of knip? 'n Kind wat skoolgereed is, se dominansie is vasgelê.
As al hierdie vaardighede goed ontwikkel is, beteken dit jou kind kan met 'n goeie postuur by 'n tafel sit en gefokus werk.
Sy sal makliker van links na regs kan begin werk en lees en ook haar middellyn oorsteek.
Probleme met aandag en konsen- trasie spruit dikwels uit liggaams-vaardighede soos ruimtelike oriën- tasie, balans, middellynkruising en spiere wat nie sterk is nie of 'n lae tonus het.
Die terapeut sal ook jou kind se fyn motoriese vaardighede toets, soos hoe doeltreffend haar fyn vingervaardig- heid en handbeheer is. Dit is die voor- loper van skrif, uithouvermoë en netjiese werk.
VISUELE PERSEPSIE EN INTEGRASIE Visuele persepsie het te doen met die interpretasie van inligting wat deur die oë en die brein ontvang word.
Goeie visuele persepsie is 'n belangrike vaardigheid wat met lees en skryf help en dus ook met akademiese prestasie.
Kinders het goeie visuele perseptuele vaardighede nodig om te kan onderskei, akkuraat te kopieer, fyn besonderhede waar te neem en beter te onthou.
Hulle moet ook tussen vorm, kleur en ruimte kan onderskei, en basiese vorms in 'n bepaalde ruimte kan nateken.
Visuele persepsie vorm die grondslag vir die leer van belangrike skoolvaardighede.
Die uitvoering van elke visueel-motoriese beweging hang van goeie oog-hand-koördinasie af. Visueel-motoriese integrasie is byvoorbeeld nodig vir take soos bou met blokke, kopiëring van patrone en skryf en teken.
WISKUNDIGE VERMOë Om vas te stel wat jou kind se wiskundige en verstandelike vaardighede is, kyk die terapeut na haar vermoë om met getalle, ruimte en taal te werk.
'n Skoolgaande kind moet 'n getal kan identifiseer en beskryf, basiese probleme kan oplos, kan tel en vergelyk en ook basiese wiskundige begrippe kan verstaan.
SELFKENNIS EN MENSTEKENINGE 'n Kind se tekeninge kan wys in watter ontwikkelingsfase sy is. Spesifieke tekeninge word gewoonlik aan 'n spesifieke ontwikkelingsvlak gekoppel.
Die terapeut sal jou kind vra om 'n mens te teken. 'n Kind wat skoolgereed is, se tekeninge sal meer vorm en dimensie hê. Daar is meer orde en die tekening word ruimtelik beter op papier geplaas. Dit sal ook al op 'n basislyn geteken word, of afgerond word met 'n luglyn bo.
TAAL, KOGNITIEWE DENKE EN OUDITIEWE PERSEPSIE Die terapeut sal vasstel of jou kind inligting kan onthou wat mondeliks oorgedra word. Kan sy konsentreer, met begrip luister en die inligting onthou wat sy hoor?
Hierdie ouditiewe vaardighede is in graad 1 baie belangrik. 'n Kind moet opdragte uitvoer, opdragte in volgorde uitvoer en meer as een opdrag gelyk- tydig kan uitvoer.
Sy moet ook in staat wees om ooreenkomste en verskille tussen klanke en woorde te hoor en dit van mekaar te onderskei - dit vorm die grondslag van die lees- en skryfvaardighede wat sy in die grootskool moet baasraak.

Waar? Wanneer? Hoe?
Dr. Arina Lanser, 'n gereedheidstoetsspesialis, beantwoord jou vrae oor skoolgereedheidstoetse.
WAAR MOET EK LAAT TOETS? Die toetsing word meestal deur opvoedkundige sielkundiges gedoen, maar sommige ander terapeute en maatskaplike werkers is ook daarvoor opgelei. Die toetsing kan dus in die privaat praktyk of by opvoedkundige instellings soos universiteite gedoen word.
WANNEER MOET EK LAAT TOETS? Doen dit verkieslik in die eerste helfte van die voorskoolse jaar (op die laatste in Junie of Julie) of so na as moontlik aan jou kind se sesde verjaardag. Jou kind sal dalk terapie nodig hê om haar vir die grootskool reg te kry en dit sal drie tot ses maande duur.
VRA SKOLE DIE UITSLAE VAN DIE TOETSE AAN? As jy toestemming nodig het om jou kind nog 'n jaar uit die skool te hou, sal jy moet kan bewys dat jou kind nog nie skoolgereed is nie.
Die meeste skole verkies dit om verslae op rekord te hê omdat dit sowel die kind se uitdagings as sterk punte uitwys. Baie skole dring op 'n verslag aan as die kind vyf is en voor 30 Junie ses word, omdat graadeentjies onder ses soms meer uitdagings as ouer kinders het. moet ek my kind terughou as die toets wys sy is nie gereed nie? As sekere dele van jou kind se ontwikkeling nie op peil vir graad 1 is nie, kan dit nie net haar leervermoë beïnvloed nie, maar ook haar emosionele welsyn. Maar elke kind is uniek en dis belangrik dat haar volledige situasie en ontwikkeling in ag geneem word. Die wet bepaal dat alle kinders skool toe moet gaan in die jaar waarin hulle sewe word, maar hulle kan op vyf jaar oud gaan mits hulle voor 30 Junie ses word.
Om 'n kind wat sewe word terug te hou, bring probleme mee soos oorgereedheid en dat sy nie noodwendig in haar regte ouderdomsgroep aan sport kan deelneem nie.
Die klas kan ook dan op verskillende vlakke werk - in een klas kan daar vyfjariges wees wat voor 30 Junie ses word, kinders wat amper sewe is, kinders wat reeds sewe is en agtjariges wat graad 1 herhaal.
As jou kind nie goed met die skoolgereedheidstoets gevaar het nie, maar reeds skoolpligtig is en daar nog 'n paar maande van die jaar oor is, is die beste plan om haar vir terapie te stuur voor jy haar net terughou. Dan is daar 'n goeie kans dat sy betyds inhaal.
Dr. Arina Lanser alanser@mweb.co.za, www.drarinalanser.co.za
Theresa van den Berg theresavdb@mweb.co.za




















