Ouerskap

Jou pasgeborene se kopvorm

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Illustrasies: www.starbandkids.com
Illustrasies: www.starbandkids.com

Dis nie ongewoon om 'n nuwe baba te sien wat 'n vreemde kopvorm het nie, veral as die mensie nie baie hare het nie. Soms kan die kop baie lank lyk en ander kere weer afgeplat of selfs asimmetries.

'n Pasgeborene se skedel is in die eerste plek sag omdat dit die natuur se manier is om jou en hom met die bevalling te help. 'n Baba se skedel moet natuurlik ook vinnig kan groei om vir die groeiende brein plek te maak.

Vreemde kopvorms kan weens baie redes ontstaan, soos eksterne drukking in die baarmoeder en drukking tydens kraam, of die feit dat 'n pasgeborene nie veel beweeg nie en dalk sy nekkie pal in een posisie hou sodat daar altyd drukking op dieselfde deel van die skedel is.Dikwels sal jy in so 'n geval sien dat die baba se hare op daardie plekkie uitgedun is.

Nog 'n faktor wat 'n rol in kopmisvorming speel, is dat ouers sterk aangeraai word om hul baba op sy rug neer te sit om te slaap omdat dit die posisie is wat die laagste risiko vir wiegiedood inhou. Dis beslis die regte ding om te doen, maar dit beteken ook dat julle meer bedag moet wees op moontlike kopmisvorming, veral as baba bedags baie tyd in 'n motorstoeltjie deurbring of met sy kop teen 'n ander harde oppervlak geposisioneer word.

Dikwels verbeter die kopvorm vanself in die eerste ses weke, maar hou 'n wakende oog daaroor en praat vroeër eerder as later met jou dokter daaroor. Baie mense dink verkeerdelik dat net die agterkant van die kop aangetas word en ignoreer dit omdat dit waarskynlik deur hare bedek sal word. Die probleem is dat misvorming van een deel van die skedel kan lei tot kompenserende misvorming en misplasing van ander dele.

Die gesig en kaak kan aangetas word en jou kind kan later opgeskeep wees met 'n abnormale oog- of oorposisie, asimmetriese oë, strabisme en ander oogprobleme.

Wanneer die kind ouer word, kan sosiale kwessies ook ontstaan as hy gespot word oor 'n vreemde kopvorm. Later kan hy sukkel om bril te dra as sy ore, neusbrug en oë nie in lyn is nie, en hy kan sukkel met kaak- en tandbelyningsprobleme.

Soms wag ouers te lank om hulp te kry, moontlik omdat hulle meen dat dit vanself sal regkom, maar dis nie waar nie. As julle dit te lank los, is ingryping later onmoontlik en van die probleme kan onomkeerbaar wees.

Laat jou kind se pediater dus goed kyk na die kopvorm en die posisie van die ore, wange en kaak. Veral babas wat vroeg gebore is, asook meerlinge en babas met 'n stywe nek of spesiale behoeftes val in 'n groter risikogroep vir kopmisvorming.

Wanneer julle gou genoeg hulp kry, is die uitkoms uitstekend. Maak gebruik van die vensterperiode waarin die plooibaarheid van die baba se skedel julle met 'n oplossing kan help. Behandeling kan aanvanklik fisioterapie insluit, maar as die misvorming teen ses maande nog te sien is, sal die dokter waarskynlik 'n ortose aanbeveel.

Dis soos 'n helm wat spesiaal gemaak word om die kopvorm sagkens te korrigeer. Lees meer daaroor by babyheadmatters.com en starbandkids.com.

BONUSWENKE

Dis vir alle babas goed om in die loop van die dag in verskillende posisies geplaas te word. Daarvan is magietyd sekerlik die belangrikste. Sorg dat jou wakker baba gereeld vir kort rukkies op sy maag neergesit word.

Dit verlig nie net die druk op die plat dele van die skedel nie; dit maak ook die nek en romp sterker. Hierdie spiere is belangrik want dit help jou baba rol en sit, en later ook kruip en om eendag op die skoolbanke regop te sit en 'n potlood vas te hou.

Jou baba moet natuurlik altyd in 'n motorstoeltjie reis, maar moenie dat die motorstoeltjie dubbeldiens doen nie. Probeer dus dat sy nie tuis ook daarin sit nie. Wissel die plekke en maniere waarop sy sit af.

Die kop groei in die rigting waar daar nie weerstand is nie

Illustrasies: www.starbandkids.com
Illustrasies: www.starbandkids.com

'n Ortose wat met kopvorming help, bied die regte weerstand op die regte plek, sodat die skedel en brein natuurlik kan groei op die plekke wat afgeplat is. Vroeë behandeling van babas bied die beste uitkoms binne die kortste tyd.

Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM