Die effens nasale, draaierige klank is genoeg om jou maag ook te laat draai. Peuters kan kerm tot jou ore tuit en jy lus voel om self te begin skree! Byna alle peuters beproef die een of ander tyd die krag van kerm, maar hoe jy dit hanteer het 'n invloed op hoe lank hulle daarmee aanhou. "Neul" is 'n ondoeltreffende en onvolwasse vorm van kommunikasie wat kinders soms gebruik as hulle emosioneel voel, verduidelik die opvoedkundige sielkundige Riza van der Merwe van Roodepoort. Daarom help dit as jy jou kind help om doeltreffender te kommunikeer.
Ignoreer die sleg en leer haar reg
Moenie aan jou kind se versoek gehoor gee wanneer sy neul nie, sê Riza - anders het sy geen rede om haar gedrag te verander nie. "Gee haar 'n aanvaarbare opsie, soos om duidelik te vra wat sy wil hê en haar behoefte vir haar te verwoord. Hou die sin so kort as moontlik, byvoorbeeld: ‘Wil jy koeldrank hê? Sê mooi: Mamma, kan ek asseblief koeldrank kry?'
"As jou kleinding nog te klein is om mooi vir jou te sê wat sy nodig het, kan jy haar kalm vra om op te hou kerm en om vir jou te gaan wys, maar moenie reageer terwyl sy kerm nie. Die ouerskapskrywer Elizabeth Pantley stel voor dat jy vir jou kind sê om met haar gewone stem te praat voor jy sal luister, en dat jy dan jou rug op haar draai en doelbewus met iets anders aangaan tot sy ophou neul.
Verwoord haar emosies
Onthou dat jou peuter waarskynlik neul omdat sy ongemaklike gevoelens soos frustrasie ervaar, verduidelik Riza. "Verwoord dus haar gevoelens: ‘Dit klink of jy kwaad voel. Wil jy 'n koeldrank hê? Sê dit mooi ...' "
Wees billik
Reageer binne 'n redelike tyd op jou kind se versoeke, sê Riza. "Kinders wil hul behoeftes onmiddellik bevredig hê, en wanneer hulle dink dat jy hulle nie gehoor het nie, kan hulle oor en oor vir jou dieselfde ding sê."
Riza stel voor dat as jy nie onmiddellik kan help nie, soos as jy op die telefoon is, jy met haar kan ooreenkom dat sy haar hand op jou heup sit om te wys sy het jou aandag nodig. "Jy kan dan jou hand op haar hand sit om te wys dat jy bewus is daarvan dat sy jou aandag nodig het en dat jy so gou moontlik by haar sal uitkom."
Identifiseer snellersituasies
Begin jou kleinding neul die oomblik dat jy op die telefoon praat? Of sodra julle 'n winkel binnestap omdat sy 'n lekkertjie wil hê? Kyk hoe jy die situasie kan omseil deur byvoorbeeld vir haar haar gunsteling- speelding of 'n koudingetjie te gee net voor jy iemand moet bel, of vir haar te sê as sy in die winkel glad nie neul nie, kan julle 'n storie lees sodra julle by die huis kom.
Gesonde roetine
'n Kleinding neul dikwels meer en makliker as sy honger of moeg is. Hou dus bakkies gesonde happies byderhand (nie lekkergoed met baie suiker nie) om die honger te stuit en probeer jou roetine by haar slaaptyd aanpas sodat sy genoeg rus inkry.
Trek haar aandag af
Dit help dikwels as jy jou kleinding se aandag kan aftrek, veral as julle in 'n situasie is waar jy nie dadelik haar behoeftes kan bevredig nie, soos wanneer julle in die motor is. As jy vir haar 'n liedjie sing of iets interessants wys, kan sy vinnig van haar behoefte vergeet.
'n Aweregse aanslag
Soms is 'n bietjie humor net wat 'n mens nodig het om peutertjie te tem. Een ma vertel dat as haar dogter begin kerm, sy verwoed na haar dogter se "mooier stem" begin soek. Terwyl sy in die kaste of onder die bank soek, vergeet die kleinding heeltemal om te teem.
'n Ander vertel sy stel 'n kookwekker vir 'n minuut as haar eenjarige kerm en vra haar om terug te kom as dit lui en weer mooi te vra. Nog een vertel sy neem haar kind op die selfoon af en speel dit terug sodat hy kan sien hoe hy lyk en klink. Nou hou hy onmiddellik op kerm as sy haar selfoon uithaal.




















