VRAAG
Ek is 26 weke swanger en het gedurig rugpyn. Hoekom gebeur dit en wat kan ek doen om die pyn te verminder?
ANRO-MARI COHEN ANTWOORD
Daar is verskeie oorsake van rugpyn by swanger vroue. Kyk of een van die volgende op jou van toepassing is.
- GEWIGSTOENAME Dis normaal om tussen 11 en 16 kg aan te sit terwyl jy swanger is. Die werwelkolom moet hierdie ekstra gewig ondersteun en dit kan pyn veroorsaak. Die gewig van jou groeiende baba en swellende baarmoeder plaas verdere spanning op die bloedvate en senuwees in die bekken en rug.
- POSTUURVERANDERINGE Namate jou baba groei en jou maag groter word, verskuif jou swaartepunt ál meer na voor en gevolglik verander jou postuur en die manier waarop jy beweeg. Dit plaas jou werwelkolom en rugspiere onder groot druk. Dit veroorsaak ook dat jou maagspiere strek en ál swakker word.
- HORMOONVERANDERINGE Jou lyf produseer die hormoon relaksien, wat veroorsaak dat ligamente in jou bekken ontspan en slapper is. Dieselfde hormoon kan veroorsaak dat ligamente wat jou werwelkolom moet ondersteun, losser raak en dit lei dan tot pyn en onstabiliteit.
- STRES Emosionele stres kan spanning in die rug veroorsaak, wat tot rugpyn en spierspasmas kan lei. Jy kan die volgende as behandeling beproef
- OEFENING Gereelde oefening versterk jou spiere en verbeter jou soepelheid. Veilige oefeninge vir swanger vroue sluit in stap, swem en om op 'n stilstaande oefenfiets te ry. Jou fisioterapeut kan oefeninge voorskryf om jou rug- en maagspiere te versterk en te strek.
- HITTE Plaas 'n warmwatersak 20 minute lank op jou onderrug. Die hitte sal die spiere help ontspan. Moenie enige hitte op jou buik plaas nie.
- VERBETER JOU POSTUUR Let op na jou postuur wanneer jy sit, staan en slaap. Probeer altyd reg sit of staan met jou skouers na agter. Moenie te lank staan nie. Plaas 'n kussing tussen jou bene as jy op jou sy slaap. Ondersteun ook jou onderrug wanneer jy sit en verander jou posisie gereeld.















