VRAAG:
Ek wil my vroeggebore baba baie graag borsvoed, maar weet nie of dit sal werk nie. Kan 'n preemie aan die bors drink? Of moet ek maar uitmelk en bottel gee? Sal ek dan later kan voed? Ek het so baie vrae, want dit voel of alles anders werk wanneer dit by 'n vroeë baba kom.
ANTWOORD:
Prof. Lisanne du Plessis antwoord: Vroeggebore babas het 'n spesiale behoefte aan hul ma se borsmelk. Die melk wat ‘n vroeë baba se ma produ- seer, is uniek vir haar kleinding se behoeftes aangepas omdat dit meer proteïene en ander voedingstowwe bevat as die melk van die ma van 'n voltermynbaba.
As jou baba voor 30 weke gebore is, is dit moontlik dat sy suigrefleks nog nie ten volle ontwikkel het nie.Jy kan dan uitmelk en die melk vir jou baba uit 'n koppie, teelepel of druppertjie voed.
Jy dink dalk 'n vroeggebore baba is te klein om uit 'n koppie te drink, maar hy kan! Vroeggebore babas kan baie suksesvol gekoppievoed word en dit keer boonop dat hulle tepelverwarring ontwikkel - iets wat kan gebeur as hulle te vroeg met 'n bottel gevoed word. As jou baba nie aan jou bors kon drink nie en uitgemelkte borsmelk deur buisvoeding of 'n koppie, spuit of drupper gekry het, moet jy die gesondheidspersoneel in die hospitaal van jou wens vertel om te borsvoed.
Die ma van 'n vroeggebore baba moet aanvanklik liefs elke twee tot drie uur borsvoed of uitmelk (sowat agt tot 10 keer per dag) om te verseker dat haar borsmelkproduksie goed op dreef kom.
Voor haar melk op dag drie of vier ná die geboorte inkom, sal sy dalk baie min melk uitmelk, maar sy kan maar weet elke druppel is kosbaar vir haar baba. 'n Pasgebore baba se magie is piepklein - omtrent so groot soos 'n okkerneut! - en klein hoeveelhede borsmelk is heeltemal genoeg.
Jy moet ook jou baba voor en ná elke voed- of uitmelkslag vashou. Die vel-tot-vel-aanraking kan jou sakrefleks en borsmelkproduksie aanhelp.
Navorsing wys kangaroemoedersorg - waar 'n baba met net 'n doek aan teen sy ma se oop borste lê - het baie voordele en kan selfs 'n rol speel in die oorlewing van vroeggebore babas.
Daar is gevind dat babas wat hierdie soort sorg ontvang, minder huil en vir langer rukke slaap of "stil wakker" is. Hulle kan ook vinniger uit die hospitaal ontslaan word en keer minder gereeld terug hospitaal toe weens siektes of ander terugslae.
Ma's wat kangaroesorg toepas, borsvoed gewoonlik ook langer en meer gereeld, en voel meer selfversekerd oor die versorging van hul baba. Dis ook goud werd vir die emosionele binding tussen ma en baba.
Pa's kan natuurlik ook hul baba vel-teen-vel teen hul lyf dra en so deel van die baba se versorging voel.
Die eerste voedings aan die bors sal vir jou en jou baba 'n leerproses wees wat tyd en geduld sal verg. Jy moet weet dis in die haak as jou baba aanvanklik min drink, want hy sal steeds die uitgemelkte borsmelk kry tot hy in staat is om sterker aan jou bors te drink.
Jou eie emosionele toestand ná die vroeë geboorte moet prioriteitaandag geniet want dis gewoonlik 'n traumatiese ervaring.
Emosionele reaksies is normaal, maar as jy so oorweldig voel dat jy nie kan funksioneer nie, moet jy professionele hulp oorweeg - vir borsvoeding en vir jou gemoedstoestand.
Dis regtig belangrik dat jy ondanks al die mediese prosedures en die werk wat al die mediese personeel vir jou baba doen, weet dat jou eie rol in jou baba se welstand onmisbaar is.
Het jy 'n vraag?
E-pos jou vrae na sharing@ypbmagazine.com.
Vrae kan ongelukkig nie persoonlik beantwoord word nie.





















