KENNER | Naeltjie spring uit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

VRAAG

My kleindogter is vroeg gebore. Sy was twee en 'n half maande in die NISE. Haar naeltjie staan soos 'n worsie teen haar maag uit. Die hospitaalpersoneel het dit probeer terugdruk, maar dis nog daar en is nou met 'n pleister vasgeplak. Hoekom het die naeltjie uitgespring?

DR. H.P. VAN DER MERWE ANTWOORD

Die worsvormige veluitstulping waaroor jy bekommerd is, word veroorsaak deur 'n onderliggende naeltjiebreuk.

Dié breuke is algemeen en kom by tussen 10 en 20 persent van pasgeborenes voor. Dis veral algemeen by vroeggebore babas.

By vroeggebore babas word dit gewoonlik eers sigbaar wanneer hulle sterker is en daar wanneer hulle huil, genoeg buikdruk is om 'n breuksakkie in die vorm van 'n veluitstulping te laat ontstaan.

Die umbilikale ring is die opening in die maagspiere waardeur die naelstring loop om die fetus in die baarmoeder met haar ma te verbind. Hierdie opening gaan ná geboorte toe en die spiere groei dan aan mekaar vas. As die ring nie sluit nie, of as daar 'n swak plek in die sluiting is, ontstaan 'n breuk waardeur vog, buikweefsel of 'n deel van die derm na die breuksak kan beweeg. Naeltjiebreuke is vir babas en kinders meestal pynloos en lei selde tot komplikasies. Die meeste daarvan gaan vanself toe.

In seldsame gevalle kan 'n stukkie derm of buikweefsel in die breukpoort vasgeknyp word en dan ontstaan 'n sogenaamde beklemde breuk wat onmiddellike mediese aandag verg.

Gevaartekens is 'n harde, pynlike breukswelsel, rooiheid of kleurverandering van die breuksak en dan ook skielike braking en pyn. Dokters behandel naeltjiebreuke meestal deur te wag en te kyk of dit vanself toegaan. Chirurgie word ingespan as dit teen vyf jaar oud nog nie gesluit het nie, as dit seer is, vir beklemde breuke en vir breuke wat in die eerste twee jaar nie kleiner word nie.

Dis ook onwaarskynlik dat breuke met 'n umbilikale-ringdeursnee van meer as 1,5 cm vanself sal sluit.

'n Mens moet liefs vermy om die breuk toe te plak met die hulp van 'n muntstuk of sogenaamde naelband wat om baba se maag gebind word. Studies wys dat toeplakkery nie die sluiting vinniger laat plaasvind nie en dit kan tot bakteriese besmetting lei.

Babas gebruik onder meer hulle buikspiere vir asemhaling en iets wat om die maag gebind word, kan dus hul asemhaling belemmer.

Dr. H.P. van der Merwe, Pediater

SPELETJIES VANDAG

CTA